top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 27 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se (tweede) toespraak in die Pilaargang van Salomo (7)


Opspraakwekkende gebeure


Hand. 3:20-21 – “Petrus het die mense toegespreek en gesê: ‘En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het.”


Petrus doen ‘n beroep op die Jode om tot dringende inkeer te kom en hulle bekeer, sodat hulle sondes uitgewis kan word en “tye van verkwikking van die Here af mag kom.” Die Jode moes hulle bekeer en hulle tot Christus wend, want Hy is die Messias wat deur God daartoe bestem is om te ly, te sterf, op te staan uit die dood en op te vaar hemel toe. Hulle bekering sal die moeite werd wees want wanneer Jesus weer kom sal hulle tye van vernuwing en verkwikking aanbreek. Die tye van verkwikking sluit die rus in wat God gee: “Die Here se mense wat van nou af doodgaan, is baie gelukkig. Sowaar, sê die Gees. Nou kan hulle ontspan en rustig wees. Hulle hoef nie meer hard te swoeg nie. Almal in die hemel weet hoe hulle met oorgawe vir God gewerk het toe hulle moes” (Op. 14:13).


Tot met Sy terugkeer, moet Jesus egter in Sy hemelse tuiste bly. Hy is natuurlik nie daar “ingehok” nie, inteendeel, Hy heers as die verhoogde Here oor die hele wêreld. Hy besit nou alle mag in die hemel en op aarde (Matt. 28:18). Wanneer ek en jy dus terugkyk, sien ons in geloof ons Heiland aan die kruis, en wanneer ons na vandag kyk, sien ons Christus wat vir ons as Hoëpriester, by God vir ons intree. Hierdie opspraakwekkende gebeure onderstreep dat die kruisiging, begrafnis en opstanding van Jesus Christus by ons ‘n lewensverandering moet teweegbring. Dit is onmoontlik om daardeur onaangeraak te bly en net maar so met ons lewe voort te ploeter. Bekering is dus vir ons werklik lewensveranderend!


Wat staan ons te doen? Ons kan nie in ons ou lewenspatrone verval en rustig met ons lewe aangaan asof niks gebeur het nie. Paulus het die antwoord wanneer hy skryf: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers (en susters), op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rom. 12:1). God se ontferming is iets om mee rekening te hou – Hy het sy Seun as die vlekkelose Lam geoffer om vir die sonde van die mensdom te betaal, nou vra Hy van ons om ons lewe as ‘n lewende offer op die altaar neer te lê. Ons besit as’t ware “God se groot ontferming”, daarom kan ons nie anders as om onsself, uit dankbaarheid, as lewende offers vir Hom te gee nie.


Ons kan God se beroep nie ignoreer nie, ons kan nie wag en eers later daaroor dink wanneer óns eendag reg is daarvoor nie, ons moet God se beroep vandag ernstig opneem! Een ding is verseker: God gaan nie ophou praat net omdat ons opgehou luister het nie. Al wat ons is en het, is God se ontferming, ons behoort aan Hom en Hy gaan aanhou sê: ‘Jy is Myne!’


Die fout wat ons maak is dat dit nie gaan oor iets wat ons vir God moet doen nie, alles wat ons is en het, behoort buitendien aan Hom. Om aan God te behoort, beteken om onsself aan God te gee as ‘n “lewende offer”, net soos ons is, met al ons lewensprobleme, al ons slegte ervaringe, ons geswoeg om kop bo water te hou, ons geheime, ons sonde, ons oud word, ons sit en ons opstaan, ons werk toe en ons huistoe gaan, ons ekstreme nood, ons bekommernis oor ons geliefdes se veiligheid, ons álles, behoort aan God en dan sê God wéér: “Jy het My nog nie gehoor nie, Ek ontferm My oor jou want jy is Myne!”


Ons moet lewende, heilige offers wees wat God se glorie moet verkondig want ons Christene is anders, God se Gees het ons verander om heilig te wees. En waar die Heilige Gees teenwoordig is, gebeur dinge. Hy sorg dat heiliges gehoorsaam is aan God, dat heiliges ‘n passie vir God het, dat heiliges nie in die hoofstroom van sonde saamswem nie, dat heiliges se gebede en dade “lewende offers” is vir God, Hy sorg dat heiliges hulle nuwe status by God wat Hom ontferm oor hulle, uitleef.


God roep ons tot ‘n lewe van heiligheid. Dit is ons roeping, ons opdrag, nie ons keuse of maar net ‘n wens wat God uitgespreek het nie. Ons is God se vaandeldraers en soos ons langsamerhand God se ontferming ervaar, vernuwe die Gees ons denke en wéét ons dat ons nie meer aan onsself behoort of vir onsself leef nie, ons leef en behoort aan God. God het ons gevat net soos ons is, maar Hy los ons nooit netso vir die res van ons lewe nie. “Op grond van die groot ontferming van God, is ons Syne want Hy het gesê: ‘Jy is Myne!” Die vraag is nou: Deel ek en jy “in die nuwe tyd van verkwikking wat van die Here af kom?” indien nie, kom dan tot bekering!


“Die maat van God se liefde en ontferming is groter as die omvang van die menslike begrip”

(Frederick Beuchner).


Gebed: Here, van U kom alles wat goed en volmaak is, en die grootste daarvan is U onbeskryflike liefde en ontferming waarmee U my toevou. Ek wil U loof en prys want Here, nêrens is daar nog ‘n liefde of ontferming wat só allesomvattend is nie. Here, bevry my van verganklike dinge en stel my in om U sagte, liefdevolle stem te hoor wanneer U sê: “Jy is Myne!” Laat U Gees van vrede oor my verwarde lewe waai, sodat my menswees op U pad van heiligheid kan bly. Amen.

Commenti


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page