top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 24 Mei 2022

Koos Espach


Petrus se (tweede) toespraak in die Pilaargang van Salomo (4)


Glo vir nog ‘n kans


Hand. 3:16 – “Petrus het die mense toegespreek en gesê: ‘Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.


Petrus beaam die feit dat Jesus ná Sy hemelvaart, steeds die Een is wat gesond maak, maar Hy doen dit nie los van jou en my betrokkenheid nie. “Geloof in sy Naam” is die sleutel. Dit veronderstel ‘n volledige onderwerping aan Sy krag en ‘n heelhartige geloof en vertroue dat Jesus steeds in staat is om wonderwerke te kan doen. Ons kan geloof egter nie verdien of dit koop of iemand omkoop daarvoor nie. Volgens Petrus gee Jesus dit gratis aan ons, soos Hy dit ook aan die verlamde gegee het.


Maar wat is geloof Petrus? Hoe verduidelik of skryf ons redes neer vir hierdie diepsinnige vraag? Ek vra saam met Daniel Hyde hoe kan ék, wat die Bybel ‘n wese noem wat “gevorm is uit stof van die aarde” (Gen. 2:7), probeer om die Skepper van tyd, ruimte, materie en die geskiedenis se saak te stel? Jesaja 40:15 beskryf selfs “die nasies van die aarde as ‘n druppel aan ‘n emmer.” Wat maak dit my en jou? Ons kan maar soos Job met ons hand voor ons mond sit en prewel: Onuitspreeklik! En so tussen die vingers op die mond, deur fluister: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen” (Rom. 11:36).

Baie mense kry ontsettend swaar. Menigte besighede vou en mense sit sonder werk en inkomste. Mense sit sonder brood op die tafel. Dit voel of die spanning jou wil opvreet. Nie net finansiële spanning nie, maar ook spanning in verhoudings en so meer. Hoe maak ’n mens dan? Dis sulke tye wanneer ek en jy net aan ons “geloof in sy Naam” moet vashou. Ons moet glo dat God vir ons sal voorsien en ons sal help. Ons moet glo dat Hy saam met ons die geveg sal veg en die uitkoms sal bring.

Ons almal kom een of ander tyd voor ’n uitdaging. Een of ander tyd loop die lewe nie soos ons gedink het dit gaan loop nie en ons lewe verander eensklaps. Gerjo Ben deel Hein se belydenis met ons: “God sê nie dit gaan maklik wees nie, maar op Sy tyd laat Hy alles ten goede meewerk vir dié wat glo. Ek kan getuig dat die Here my 'n tweede kans gegee het. Ek was op my motorfiets op pad huis toe. Nie te vinnig nie. Nie onverskillig nie. Ek het slegs 2 km van my werk af gebly. Op pad is ek deur 'n dronkbestuurder omgery. My knie is vergruis en gevolglik is my regterbeen bo die knie geamputeer. Die Here het alles ten goede laat meewerk, want ek leef nog!


Alhoewel ek amper al my bloed verloor het en in mediese terme 'n HB van 2 gehad het, het ek oorleef. As jy al jou bloed het, is normaal tussen 9 en 12. Natuurlik was ek nie op 'n goeie plek nie, maar die Here het gesorg dat ek my werk behou en ten volle herstel het. Ek het vertrou op Hom, soos in Psalm 91 en Hy het my nie in die steek gelaat nie. Ek glo en vertrou die liewe Heer se wil is altyd goed.”

Alles loop nie altyd klopdisselboom met Hein nie. Daar is tye wanneer hy nog op die grondpad ry. Daar is tye wanneer sy verhouding nog steeds in die hek duik, maar hy bly glo en vertrou dat God dinge vir hom sal laat uitwerk en hom nog ’n kans sal gee. God help nie net die verlamde van wie Petrus getuig nie, maar ook nou, hier, vandag. God het Hein se bene, selfs die stompie met die prostese, ook weer sterk gemaak. Hy sal ook vir my en jou help! Glo net.


Net so, in die lewe daar buite kan ons nie net mooiweer en plat water gewaarborg word nie. Die storms sal daar wees. Ons moet voorbereid wees en weet wat om te doen. Die eerste is dat ons ons lewensbootjie se anker aan Jesus vasmaak. Ons geloof moet ons bou op die oorborrelende liefde wat God vir ons elkeen het. God is vir ons elkeen só lief dat Hy bereid was om Sy Seun op te offer. As ons dus eendag hierdie aarde verlaat, kan ons die ewigheid instap en saam met Jesus aan die feestafels sit.


Geloof is blywend in God wat alles ten goede laat meewerk; geloof in Christus wat by ons is ál die dae; geloof in die Heilige Gees wat ons Trooster is en geloof in God se Woord met sy vertroosting en beloftes. Geloof is hoop dat môre ‘n beter dag sal wees omdat God daarin is. Mag ons kans sien vir die lewe en sy storms, nie omdat ons dink ons is sterk genoeg nie (want ons is beslis nie), maar omdat ons weet en glo dat ons vasgeanker is aan ons Almagtige Vader en dat Sy Seun Jesus, ons Broer is, en dat Sy Gees hier binne ons is en ons al die pad sal bystaan en help om deur enige storm te beur. Dit is waarin ons glo.


“Al wat ons nodig het, is ‘n gelowige hart. God sal ons as’t ware met die hand lei – daarom moet ons meer konsentreer op ons liefde vir Hom as op ons vrees vir mislukkings” (Francois Fénelon).


Gebed: Vader, ek bely dat U my Vader is. Ek glo dat Jesus vir my sondes gesterf het. Ek glo regtig, al sukkel ek soms as dit so woes gaan. Help my met U Gees om nie toe te laat dat onsekerheid en die wêreld rondom my, my geloof steel nie. Ek eer U. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page