Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 10 Mei 2022
Koos Espach
Petrus se eerste toespraak op die pinksterdag (7)
Net die beste vir Jesus
Hand. 2:33-36 – “Toe staan Petrus saam met die ander elf apostels op (en sê): ‘Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy: Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”
Petrus bereik dan die hoogtepunt van sy toespraak wanneer hy die verskynsels van die Pinksterdag aan sy hoorders verklaar. Die feit dat Jesus van Nasaret, in ooreenstemming met Dawid se profesieë in Psalm 16, opgestaan het uit die dood, moet Jesus as Messias erken word. Dawid het nie opgevaar hemel toe nie, tog het hy voorspel dat Jesus verhoog is tot aan die regterhand van God. God bestem die ereposisie vir Jesus Christus, die Messias, aan Sy regterhand toe: Hierdie “Here” dui op die mag en heerskappy wat Christus verkry het – “Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18). Daarmee wys God, dat “Jesus wat die Jode gekruisig het,” verhef is en nou in ‘n gelyke posisie met gelyke gesag as Hyself is. En dit wat hulle nou sien en hoor, is Jesus wat vanuit hierdie ereposisie, “die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort het.”
Die werking van die Heilige Gees in ons lewe lei daartoe sodat ons kan wéét ons kinders van God is: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God” (Rom. 8:14). Is dit nie wonderlik nie? Die Koning van alle konings en die Heerser van alle heersers is ons Vader! Deur God se genade beklee ek en jy ‘n geweldige bevoorregte posisie – die posisie van koningskind! Die feit dat God gewillig is om ons as sondaars, Sy kinders te maak en so te noem, klink ongelooflik en tog is dit presies wat die Woord van die Here ons leer: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Onbegryplik maar waar – “Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:16).
Die Here het nog nooit direk met my in ’n hoorbare stem gepraat nie. Ek het nog nooit God se stem gehoor wat sê: “Koos, jy moet ...” Tog praat God onophoudelik deur Sy Gees in ons. Die probleem is dat ons baie keer net té besig is om God se Gees te hoor praat. Die wêreld raas so daar buite dat dit dikwels onmoontlik is om die sagte fluistering van God se Gees te hoor. Ons moet iets van ons kant af doen. So lê ek snoesig in die bed, wakker gemaak deur God se Gees, want ek het jare gelede vir die Here gevra om my soggens baie vroeg wakker te maak sodat ek genoeg tyd met Hom kan deurbring. Terwyl ek in die donker lê en luister na die donderweer, peins ek in gebed: “Here, help my om op te staan.” Ek spring op en sê vir myself: “Self, nou vat jy dit te ver. Neem sélf die besluit en help jouself uit die bed!”
Die goeie nuus is dat elkeen van ons wat glo, reeds die Heilige Gees in ons het en Hy praat onophoudelik met ons. Dis nou ons verantwoordelikheid om “ons nie doof te hou wanneer die Gees met ons praat nie, maar fyn te luister na sy stem” (1 Tess. 5:19-22 uit Die Boodskap). Of anders gestel: Dis ons verantwoordelikheid om op te staan en ons deel van die deal na te kom. Om genoeg tyd met God deur te bring sodat ons op die Heilige Gees se stasie kan kom.
Moet God regtig alles vir ons doen? Sommige mense het net daardie hupstootjie nodig! Elke gelowige behoort te besef dat ons van ons kant af die grond moet voorberei om God te ontmoet. Wanneer ons die begeerte skep om die Heilige Gees toe te laat om in en deur ons te werk, stel Hy ons in staat om die regte besluite te neem en op die regte pad te bly, die pad van daaglikse geestelike groei, die pad van die ewige lewe! “Hierdie Jesus, wat Sy lewe, Sy alles vir ons gegee het en wat die Jode laat kruisig het, het God weer Here en Christus gemaak!” Is daar dan nie iets wat Hy van jou en my kan vra nie?
“In die Christen se lewe is daar nie so iets dat jy jou kan terugtrek en hoop dat God jou daar sal ontmoet en seën nie. Jy moet daagliks jou kant ook bring, lewe en groei” (Alan Redpath).
Gebed: My hemelse Vader, dankie dat ek U elke dag, elke oomblik, my Vader mag noem. Jesus, my Verlosser, dankie dat ek as nietige en sondige mens, deur die Heilige Gees U pad kan kies. Dankie Gees dat U die begeerte aan my skenk om reg te lewe en ook seën met die vermoë om geestelik te groei sodat dit moontlik word om so te lewe, want U het vir my, kind van God gemaak. Maak my sensitief en gehoorsaam aan U stem om my geestelike verantwoordelikhede na te kom tot lof, dank en aanbidding aan God, U leiding te gehoorsaam en nie my eie pad te loop nie. Amen.
Commentaires