top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 4 April 2022

Koos Espach


Die belofte van die Heilige Gees (4)


Jesus se opdrag aan Christene van alle tye: “Julle sal My getuies wees!”


Hand. 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”


Vergelyk ook Jes. 49:6 – “God het gesê: ‘Dit is nie genoeg dat jy my dienaar is om die stamme van Jakob te herstel en om die Israeliete wat gered is, terug te bring nie; Ek maak jou ‘n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.”


Jesus stel dit duidelik dat dit nie vir die apostels beskore was om “die tye of geleenthede in verband met die koninkryk te weet nie,” maar wat hulle wel mag weet, was “dat hulle krag sou ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom,” en dat hulle dan Jesus se getuies sou wees. Die inhoud van hulle getuienis sou nie hulle eie ervarings wees nie, maar wat Jesus gedoen en gesê het en wat met Hom gebeur het. Alles wat hulle gesien en gehoor het toe hulle saam met Hom was, veral van die opstanding. Hulle mag geweet het wat hulle taak vir die toekoms en hulle toerusting daarvoor sou wees. Deur die krag van die Heilige Gees sou hulle dinge doen waarvoor hulle vroeër nie kans gesien het nie. Alles wat hulle sou doen en sê, sou in die toekoms saamgevat kon word in die woorde: Jesus se getuies!


In en deur die krag van die Heilige Gees sal hulle in diens van die koninkryk staan. Jesus sê ook aan hulle waar hulle moes getuig. Hulle moes begin “in Jerusalem en in die hele Judea,” d.w.s. die Joodse land. Dan verder “in Samaria,” die streek met sy gemengde bevolking op wie die Jode neergesien het, en verder tot “in die uithoeke van die aarde,” die verre land waarvan die Jode geweet het dat dit bestaan, maar wat hulle nie geken het nie, die land van die nie-Jode, die heidene – dit is God se raadsplan (Jes. 49:6). Die wêreld is nou die arbeidsveld waarin die koninkryk van God opgerig word en nie langer alleen net die Joodse volk soos vroeër nie, maar alle gelowiges sal deel wees van Hom. Dit is opmerklik dat Galilea nie hier genoem word nie. Moontlik moet dit daaraan toegeskryf word dat Jesus self die evangelie daar verkondig het.


Ons is God se ambassadeurs hier op aarde. Ons is as Sy verteenwoordigers geskep (Gen. 1:26), sodat Sy blye boodskap die hele wêreld sal bereik en elke mens ‘n keuse vir Jesus kan maak. Dit is so hartseer dat baie Christene vandag die kerk beskuldig dat dit “dood” is, en dan ander doelwitte soek om na te streef. Die beste van alles is, elkeen van ons gelowiges is self die “kerk”. Elkeen van ons is geroep om God se Woord in die wêreld uit te dra. Ja, daar is voltydse predikante en pastore wat dit kan doen terwyl ek en jy ander beroepe of werksomstandighede het. Die feit bly staan dat elkeen van ons geroep is om Jesus aan die wêreld te wys. En ai tog! Die wêreld het Jesus só nodig!


Dit is ’n groot opdrag wat elkeen van ons opgelê is. Net jammer dat so baie nie daarvan weet nie en baie wat wel daarvan weet, vergeet om die opdrag uit te leef of net botweg weier om betrokke te raak. Ek vermoed dit is die rede hoekom die wêreld so sonder God lewe. Omdat baie van ons tjoepstil oor die Verlosser bly. ’n Wêreld sonder God is chaos en as ek so om my kyk, sien ek meer chaos as orde.


Op ons eie kan ek en jy nie ons roeping uitleef nie. Ons sal nooit ’n projek kan aanpak en suksesvol aflê as dit nie vir die werk van die Heilige Gees is nie. Die Heilige Gees is as geskenk vir ons gegee om ons by te staan om die lewe reg te leef. Maar meer nog, om ons te help om ons roeping in die wêreld uit te leef. Jesus het belowe dat ons “krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom.” Die Heilige Gees is ons “Vennoot en Helper.” Hy doen waarin Hy goed is en los dit waarin ons goed is vir ons. Dalk hou ek en jy daarvan om te praat en stories te vertel. Die Heilige Gees sal daardie gedeelte vir ons los om te doen. Dalk is dit om goed te doen en ons geloof in dade oor te vertel. Die Heilige Gees sal daardie gedeelte ook vir ons los. Hy sal vir die res sorg en sien dat die saadjies wat ons plant, ontkiem en groei. Die vraag is nou: Hoe leef ek jy ons roeping uit? Is daar nog iets wat ons kan doen? Vertrou ek en jy ons opdrag aan God en die Heilige Gees toe?


“Getuienis is die verwydering van struikelblokke sodat Christus, wat in ons leef, toegelaat sal word om Homself aan ander te vertoon” (Paul Frost).

Gebed: Here, ek is geroep om in U koninkryk te werk, ongeag die beroep waarin ek staan of die rol wat ek in die gemeenskap speel. Dankie dat U my toerus om die werk te doen wat U vir my uitgesit het om te doen. Dankie dat U Heilige Gees my lei en wys waar U my wil gebruik. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page