Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Nov 20, 2020
- 4 min read
20 Nov 2020
Koos Espach

JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING.
(Matt. 16:21–25:46)
DIE TEMPELBELASTING (2)
JOU VERANTWOORDELIKHEID OM NIE AANSTOOT TE GEE NIE!
Matt. 17:27 – “Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie. Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek. As jy sy bek oopmaak, sal jy ‘n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”
Matteus wys dan hier dat Jesus wel tempelbelasting betaal, ten spyte dat Jesus impliseer dat Hy en die dissipels, as seuns van die hemelse Koning, nie verplig is om belasting te betaal nie en “Hy Een is wat groter is as die tempel” (Matt. 12:6). Die fokus gaan hier egter nie oor die betaal van belasting aan die owerheid nie, maar die onderhouding van die tempel, in ons dag, die kerk.
Wie is Jesus regtig? Hieroor kan ons nooit ‘n finale antwoord gee nie. Hy is altyd meer as wat ons kan verstaan want Hy is God self. Hy onderwerp Hom nederig aan mense en stel hierdie lewenswyse as program en voorbeeld vir Sy dissipels en vir ons daar. Jesus wil nie dat mense Hom as ‘n politieke rebel beskou nie en ter wille van die hemelse koninkryk, wil Hy nie vir mense onnodige struikelblokke in die weg rol nie. Hy wil ook nie die indruk wek dat Hy die heiligheid van die tempel minag nie.
Om nie aanstoot te gee nie, stuur Jesus dan vir Petrus om as visserman, 'n vis met ‘n hoek te gaan vang. Die eerste een wat hy vang, sal 'n silwermuntstuk in sy bek bevat wat genoeg sal wees vir hulle twee se tempelbelasting. Matteus vertel nie of Petrus toe die vis gaan vang het nie, maar wat wel belangrik is, is om te onthou dat Jesus “gekom het om die Wet en die profete te vervul, en nie om dit af te skaf nie” (Matt. 5:17). Hy gebruik Sy reg en vryheid op so 'n wyse dat Hy nie aanstoot gee, of Sy kerk sal benadeel nie, en Hy voorsien genoeg om selfs tempelbelasting te betaal.
Hierin word ‘n paar dinge van Jesus se Godheid gesê. Hy is in beheer van die skepping as God se eiendom, en kan uit die skat van die Vader, ook alles voorsien wat ons nodig het vir die onderhouding van die huis van die Vader. Dit alles word moontlik omdat Hy die “móét” van sy sterwe en opstanding aanvaar het en nou die sekerheid daarvan vrywillig tegemoet gaan. Dit is die groter wonder van God se liefde vir sondaars soos ek en jy. Dit is wie Jesus ook vir ons wil wees.
Tweedens stuur God nie wonderwerke op ons pad om dinge te doen wat ons self kan doen nie. Daarvoor het Hy ons ‘n gesonde verstand gegee om self ‘n plan te maak wanneer ons iets nodig het. Om net bak handjies te gaan staan en te sê die wêreld skuld jou, gaan nie help nie. Jy moet die handjies soms maar vuil maak. Dit sal ook nie help om vir God te sê jy is ‘n goeie kerklidmaat wat gereeld kerk toe gaan, jou bydrae lewer en eintlik meer doen as wat die meeste ander lidmate doen nie. Nou is dit God se beurt om Sy kant te bring en jou uit die verknorsing te help! God laat Hom nie manipuleer nie.
Dit is ook merkbaar dat Jesus nooit enige wonderwerke gedoen het, om Homself te bevoordeel nie. Dit was altyd om God te verheerlik! Ek meen, Hy kon klippe in brood verander om Sy honger te stil, maar Hy het geweier; Hy kon die koninkryke van die aarde besit deur net die duiwel te aanbid, maar Hy het geweier (Matt. 4:1-11). Indien ons hierdie wonder letterlik sou opneem, sou dit darem voordelig wees om muntstukke in visse se bekke te vind. Ons sou meer by die viswaters wees as in die kerk. Nee, die viswaters is nie waar ons heil lê nie. Ons is nie geskep om ons verdienste op só ‘n maklike manier en sonder enige inspanning te bekom nie – “net deur harde werk sal jy kan eet” (Gen. 3:19a)!
Terug na jou werk toe Petrus, elkeen wat hier lees ook, ‘n dag se “visvangs” sal genoeg wees om ons skuld te betaal; die tikster sal haar nuwe rok kan bekostig deur haar rekenaarsleutels te gebruik; die motorwerktuigkundige sal genoeg verdien onder die enjinkap om sy gesin te versorg; die onderwyser sal in die klaskamer sy verdienste bekom en die myner sal sy brood verdien in die sweet van sy aangesig. Jesus sê dit vir elkeen van ons: “Jy sal nie letterlik geld in visse se bekke vind nie, maar daar waar Ek jou geplaas het om jou inkomste te verdien sodat jy uit dankbaarheid, weer vir My kan teruggee.” Wat is ons reaksie hierop? Hoe gaan ons daaraan uitdrukking gee?
“Moenie bid vir ‘n maklike lewe nie; bid om sterker te wees! Moenie bid vir werk in ooreenstemming met jou kragte nie, bid vir krag in ooreenstemming met jou werk. Jy sal elke dag verwonderd staan voor dit wat besig is om te word; verstom wees oor die ryk lewe wat deur God se genade jou deel geword het” (Phillips Brooks).
Gebed: Here, dankie dat U my eintlike Baas is, ek kom werklik niks kort nie. Dankie dat U my rustig maak, al is daar chaos rondom my. Dankie dat U my by waters waar daar vrede is bring, al woed die landspolitiek rondom my. Dankie vir die nuwe krag wat ek telkens van U ontvang, veral wanneer werksverliese my planne omverwerp. Dankie dat U my weerhou van die gevaarlike weë van korrupsie, en my lei op paaie tot eer van u Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes van ‘n onhanteerbare aantal e-posse, onrealistiese “spertye”, ‘n moeë liggaam wat ek soggens uit die bed moet sleep, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. Dankie tog Here, U goedheid en liefde is vir my meer werd as ‘n bonustjek, want dit sal my lewe lank by my bly. Amen.
(Geïnspireer deur ‘n anonieme internet-weergawe van Ps. 23, aangepas vir ons omstandighede.)
Recent Posts
See AllSaterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...
Vrydag, 18 April 2025 Koos Espach Annas en Kajafas verhoor Jesus Elke dag ‘n getuie van Jesus Joh. 18:19-21 – “19 Die hoëpriester...
Donderdag, 17 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Die...
Comments