Gedagte vir Vandag
Woensdag, 9 Maart 2022
Koos Espach
Jesus se opdrag aan die dissipels (4)
Sien is glo!?
Matt. 28:17 – “Toe die dissipels Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”
Vergelyk ook Joh. 20:29-31 – “Toe sê Jesus vir Tomas: ‘Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.’ Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
Hoewel Jesus herhaaldelik die dissipels probeer voorberei het op Sy dood en opstanding, het Sy onderrig in dié verband nie tot hulle deurgedring nie, “party het steeds getwyfel.” Jesus sou hulle van voor af uit hulle ongeloof tot die geloof moes lei. En ons? Dit is feitlik onmoontlik om die gegewens van die vier Evangelies saam te voeg in ’n deurlopende verhaal van die gebeurtenisse oor die kruisiging, dood en opstanding van Jesus. Ons mense van die een en twintigste eeu sit met die spontane getuienis van mense wat betrokke was en die gebeurtenisse, elk op sy eie manier, waargeneem het en dit in die Bybel opgeteken het. Die verskeidenheid van getuienis bevestig egter die feit van die opstanding, die waarheid dat die graf leeg was en dat Jesus sigbaar en tasbaar aan sy volgelinge verskyn het: “Waarom kom daar twyfel in julle harte? Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk!” (Luk. 24:38-39).
Jesus het waardering vir Tomas se geloofsverandering – hy het gesien en geglo! Wat het hy geglo? Die feit dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het, het hom laat glo dat Jesus werklik Here en God is! Almal is egter nie só bevoorreg om soos Tomas, fisiek voor die Opgestane Jesus te kon staan en uitgenooi is om sy vingers in die wonde te kon steek nie. Daarom sal ons moet glo deur die getuienis van Jesus se volgelinge. Dit sal aan ons ‘n hoër eis stel, maar nie ‘n onmoontlike eis nie. Deur die prediking sal die boodskap voortgedra word, en mense sal moet glo op grond van die ware Woord wat hulle hoor. Juis deur die hoor van die Woord sal die geloof gewek word: “Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus” (Rom. 10:17).
Daar is al baie oor die gesag van die Bybel en die historiese betroubaarheid daarvan, geskryf en geredeneer. Johannes se “statement” hieroor is egter duidelik en helder: “Hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” Johannes sê die gebeure is neergeskryf “sodat ons kan glo” – geloof is dus die mikpunt.
Ek en jy moet die Bybel lees sodat ons tot geloof kan kom – dit is ‘n geloofsdokument. En hoekom moet ons glo? “Sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” Die vrug van die geloof is die lewe, die ewige lewe!!! Die dinge wat Johannes onder andere opgeteken het, is dus nie dinge waarvan niemand iets weet, of ’n soort geheime leer nie. Maar dit kan bevestig word deur betroubare getuies, Sy dissipels, en is daarom geloofwaardig. Wie hierdie waarheid in die geloof aanvaar, verkry die ewige lewe: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12).
Soos Tomas en “party van die dissipels”, ervaar ons ook miskien tye waar dit vir ons moeilik is om te glo, of dalk moeilik om iets te aanvaar bloot omdat ander mense so sê. Ons kom tot geloof nie bloot deur redelike denke, of deur bloot die getuienis van ander te aanvaar nie. Ons moet aan hierdie doelwitstelling van geloof vashou. Ons moet die opgestane Christus in ons lewens ervaar en leer ken. Dit is in die ontmoeting met Hom dat ook ons deur die werklikheid van Sy teenwoordigheid oorweldig sal word. God openbaar die waarhede aangaande Homself en Sy Koninkryk aan ons deur Sy Woord en Sy Gees en ons moet leer om meer na hierdie twee Getuies te luister en op Hulle te vertrou as om dit te probeer uitredeneer. Die Heilige Gees herinner my elke dag deur die Bybel met sy wonderlike ryk inhoud, wat Jesus vir my gedoen het – dit stel myself vir God oop, sodat Hy daagliks ‘n groter werklikheid word. En jy? Het jy al uitgevind wat God se plan was met sy Woord in geskrewe vorm? Moenie uitstel nie.
“Om te sterf vir jou geloof vra één dag groot moed. Om jou geloof te lééf, vra elke dag groot moed. Daarom kan ‘n gelowige nie sonder God se Woord en daaglikse gebed lewe nie” (William Thackeray).
Gebed: Here, die feit dat U “my Here en my God” is, het my hele lewe verander. My dwarrelende gedagtes is tot rus gebring; ek kan met vrymoedigheid na U toe kom sonder om eers met U te redeneer, sonder om eers te pleit. Ek kan maar net glo dat U deurboorde hande en voete, U wond aan die sy, die leë graf, ook vir my was! In geloof kan ek my laste by U kom neerlê en dit daar laat, in ruil vir U vrede, wat alle verstand te bowe gaan. Here help my asseblief om elke keer wanneer ongeloof dreig om my te oorrompel, te onthou dat U my hand styf vashou, selfs al sien ek nie en verstaan ek nie altyd nie. Amen.
Comments