Gedagte vir Vandag
Vrydag, 25 Februarie 2022
Koos Espach
Jesus het opgestaan (8)
Ons sal Hom sien
Matt. 28:8-10 – “Die vroue het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel. Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Toe sê Jesus vir hulle: ‘Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”
Vergelyk ook Joh. 20:17-18 – “Jesus sê toe vir Maria Magdalena: ‘Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na My broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na My Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: ‘Ek het die Here gesien!’ En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.”
Met die opstandingsgebeure dra Matteus die Jode as't ware tot op die “Everest” van die toekoms en hy wys aan hulle en ons, dat hierdie Jesus van Nasaret waarlik die Seun van God is. Jesus Christus se verskyning word in Galilea in die vooruitsig gestel, vanwaar Hy sy afrondingswerk aan Sy dissipels sal doen. Bang maar tog bly, het die vroue hierdie boodskap gaan oordra. Sy sigbare en tasbare verskyning aan hulle het die werklikheid en volle waarheid van Sy opstanding bevestig.
Volgens Johannes, kon Maria aanvanklik nie Jesus herken nie. Haar trane het dalk haar sig verblind. Sy kon Hom nie herken nie want sy het in die verkeerde rigting gekyk – terug na ‘n leë graf, “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal” (Joh. 20:15). Ek wonder hoe sou sy in elk geval, vrou alleen, Jesus se liggaam kon dra? En dan ... Maria wat op soek was na die liggaam van Jesus om dit vir haar toe te eien, vind onverwags die Here – lewend! Sy het Hom stellig omarm soos sy moontlik vroeër gedoen het wanneer sy Jesus gegroet het. Daarmee gee sy te kenne dat sy Jesus net soos voor die kruisiging as vriend wil behou. Sy besef nie dat dinge verander het deur Sy opstanding nie. Jesus verkeer nou in Sy verheerlikte liggaam; Sy Middelaarswerk op aarde is voltooi en Hy is op die weg na die finale verheerliking met die hemelvaart, veertig dae later.
Jesus moet nog ’n tyd lank op aarde vertoef en aan sy volgelinge verskyn om sy laaste opdragte te gee. Daarvan moet Hy nie deur die vroue teruggehou word nie, selfs nie as bewys van hulle persoonlike liefde vir Hom nie. Maria gaan ’n tweede keer na die dissipels, en nou met die boodskap: “Ek het die Here gesien!” Ironies dat dit weer ‘n vrou is, wat in die antieke Oosterse samelewing nie regtig beskou is as betroubare getuies nie, die eerste sterk getuie van Jesus se opstanding is! Daar kon vir die dissipels geen heerliker boodskap wees nie, want nou hoor hulle dat Jesus liggaamlik rondbeweeg en op pad is na hulle toe.
Maria het volgens Matteus, die opdrag gekry om die graf te verlaat en “Jesus se broers te gaan sê hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle Hom sien.” Dit het beteken dat hulle die leë graf moes verlaat waar hulle rouproses, hoop, verlange en hartseer, nog enkele ure vantevore begrawe was, en ‘n nuwe wêreld ingaan – die opstandingskant van die kruis en graf.
Dit is vir ons Christen-gelowiges ook moontlik om die begraafplaas van ons verlede te verlaat en nie weer daarna terug te kyk nie – die plek van ons neerlae, teleurstellings, sondes, vrese en foute. Ons “moenie bang wees nie”. Die belofte van Jesus dat Hy ons vooruit na “Galilea” toe gaan, bestaan vandag nog. Dit is die deel van die ware evangelieboodskap wat deur die eeue vir ons gegee is en stééds bestaan.
Ons sal Jesus daar sien wanneer ek en jy onsself in Sy Woord verdiep. Hy sal deur Sy Gees as’t ware uit die gelese Bybelpapier “uitstap” in ons harte, geloof en lewe in. Ons sal saam met die vroue daar by Sy leë graf, ervaar dat Sy teenwoordigheid ons vul met hoop, geloof en nuwe verwagtinge. Ons sal Jesus “sien en ervaar” wanneer Hy ons kleurlose, alledaagse lewe vul met Sy teenwoordigheid en heerlikheid. Saam met Maria kan ons dan sê: “Ek het die Here gesien!” Wanneer ek en jy die lewende opgestane Christus ontmoet, Hom geestelik “sien”, betree ons ‘n nuwe wêreld waar liefde sterker is as die dood! Ons weet nie net van die opgestane Jesus nie, ons ken Hom. Ons sal Hom sien wanneer ons uiteindelik deur die poorte van die dood stap en Hom sien, wagtend om jou en my te ontmoet!
“Na Jesus se opstanding is alles onherroeplik op die kop gekeer. Wanhoop verander in hoop; moedeloosheid slaan om in oorvloedige lewe, radeloosheid wyk voor roeping” (Dirkie Smit).
Gebed: Dankie Jesus dat U ons verlos het uit die graf van sonde. Daar is egter dae wat ek voel dat die grafdoeke my nog vasbind. Dit is moeilik om ontslae te raak van die oú gewoontes en swakhede wat so deel van my lewe geword het. Vader, U het deur Christus vir my die nuwe lewe gegee, gee my nou ook die krag om te verander. Skenk my die moed om teen die gemak van ou gewoontes te stry. Gee my die geloof dat ek met U hulp en deur U Gees, nie kan misluk nie, want soos Maria bely ek ook : “Ek het my Here gesien!” Amen.
Comments