Gedagte vir Vandag
Woensdag, 23 Februarie 2022
Koos Espach
Jesus het opgestaan (6)
Immanuel: God by ons
Joh. 20:14-16 – “Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. Jesus vra haar toe: ‘Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?’ Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: ‘Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.’ Jesus het vir haar gesê: ‘Maria!’ Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: ‘Rabboeni!’ Dit beteken leermeester.”
Maria Magdalena het na Jesus se graf gekom om Sy dooie liggaam te sien en dit met speserye te balsem. Sy was verskriklik verkeerd! Sy het nooit gedink dat sy Hom lewendig sou sien nie, selfs met Hom sou praat nie! Nadat sy haar lot by die twee engele bekla het, het sy nie gewag vir hulle antwoord waar Jesus kon wees nie, sy het omgedraai en Jesus voor haar sien staan! Sy verskyning in die opstandingsliggaam was sodanig dat sy Hom nie herken het nie. “Jesus vra haar toe: ‘Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?” Maria het verkeerd gesoek – sy soek ‘n verrinneweerde lyk vol wonde in plaas van ‘n lewende Persoon, nie ‘n Lewende by die dooies nie (Luk. 24:5b)! Sy sien Jesus aan vir die tuinier en veronderstel dat hy verantwoordelik is vir die wegneem van die liggaam van haar Here. Sy wil die liggaam gaan terughaal, seker met die gedagte om dit volgens Joodse gebruik, behoorlik en eerbaar te begrawe.
Daar moes iets in Jesus se stem of in die toon van die uitspraak gewees het wat Maria se hart en verstand geopen het om te begryp Wie dit was wat haar aangespreek het. Net deur Maria op haar naam te noem, stel Jesus Hom aan haar bekend. Sy draai na Jesus toe en antwoord met die Hebreeuse benaming: “Rabboeni!’ Dit beteken leermeester.” Dit getuig van Maria se geloof: sy erken Jesus daar voor haar as die opgestane Here, die Seun van God! In haar bittere smart oor die verlies van haar Here, kom skenk Hy self aan haar vertroosting. Op ‘n meesterlike wyse verander Jesus, Maria se nagmerrie, en ontdek sy op haar beurt, Jesus se ware identiteit.
Johannes vertel op ‘n aangrypende manier hoe Maria se nagmerrie oombliklik verander wanneer Jesus Homself aan haar openbaar! Sy het die Sondagmôre nog voor dagbreek gekom om die bloed van haar Here te kom afwas en Sy stukkende liggaam met speserye te balsem, miskien Sy oë toe te maak. Die vroue se afspraak met Jesus se lyk, was maar somber. Al hulle drome en verwagtinge van hierdie Here is op Goeie Vrydag vervang met droefheid, dit is aan die kruis vasgespyker! Die voete wat op water kon loop, is nou verbrysel deur spykers wat dit aan ‘n vloekhout vasgenael het. Sy sagte hande wat sóveel siekes gesond gemaak het en mense gevoed en vertroos het, is heel moontlik nou krom getrek want haar Here lê al drie dae in ‘n koue rotsgraf.
Terwyl sy en die ander vroue die Sondagmôre na die graf stap, het hulle ook gewonder wie gaan die klip voor die graf wegrol (Mark. 16:2). God het egter vir hulle ‘n verrassing gehad want skielik was daar ‘n geweldige aardbewing, ‘n engel rol die klip weg, gaan sit daarop en nooi hulle uit om te kyk waar Jesus gelê het. Die klip was nie weggerol sodat Jesus kon uitkom nie – Hy was reeds uit! Die klip is weggerol sodat hulle en die dissipels kon ingaan! Jesus het Sy doodskleed van Hom afgewerp en Homself in Sy opstandingsheerlikheid eerste aan ‘n vrou, Maria openbaar.
God werk vandag nog so. Hy het dikwels ‘n verrassing vir ons wat ons oorbluf laat. Soos Jesus voor Maria gaan staan het, staan Hy vandag nog voor ons, verwyder Hy die rotse wat ons pad versper, ons moet net nie tou opgooi nie. Soms kry ons soos Maria, nie dit waarna ons soek nie, maar dit is omdat ons op die verkeerde plek, tyd, en by verkeerde persoon dit soek. Jesus is net ‘n gebed ver.
Het jy al die gevoel gekry dat die Here nie jou gebede hoor nie? Ondanks al die beloftes van die Here dat Hy wel na ons gebede luister en dit verhoor en ondanks die feit dat die Here sê ons gelowiges se gebede het ʼn kragtige uitwerking, kry ons steeds die gevoel dat ons gebede sommer net woorde in die wind is of woorde “teen die plafon” (gaan buitentoe, dan is die plafon soveel hoër). As mens kan ons dan so moedeloos word dat jy naderhand vir jouself sê: “Ag, dit help nie eers meer om te bid nie.” As uitverkorenes behoort ons “dag en nag tot God te roep”, nie omdat Hy ons nie hoor nie, maar juis omdat ons seker is dat Hy ons sal verhoor. Wanneer ons in diepe afhanklikheid aanhou om Hom aan te roep, wil God Sy genade aan ons skenk wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou, daarom bid en daarvoor dank.
“As alles verlore is en niks maak meer sin; weet dan God se planne het nog maar skaars begin” (Ester Guyot).
Gebed: Ons Vader, dankie dat ek U kan loof as die Almagtige Hoorder van gebede. Dankie dat U enige taal verstaan. Dankie dat U altyd beskikbaar is want dit was nog nooit nodig om met ‘n antwoordmasjien, “voicemail” of selfs U “sekretaresse” te praat nie. Daar was ook nog nooit ‘n besettoon tydens my “oproepe” nie. Dankie ook dat ek nog nooit ‘n rekening van U ontvang het vir al die “oproepe” nie. U weet eintlik wat ek nodig het nog voordat ek U vra maar dankie vir die genade dat ek nogtans kan vra en weet dat U op U tyd en volgens U wil sal antwoord. U graf was leeg, nie omdat iemand U “weggevat het nie, U was ook nie op ‘n ander plek begrawe nie, dus is dit nie nodig om U daar te gaan haal nie, U is by my! Dankie o Gees dat U my stamelende en stotterende woorde vorm tot hemeltaal. Amen.
Comments