Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Feb 21, 2022
- 4 min read
Maandag, 21 Februarie 2022
Koos Espach
Jesus het opgestaan (4)
Jesus se opstanding is die hartklop van die kerk
Matt. 28:5a en 7 – “Toe sê die engel vir die vroue ... Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”
Vergelyk ook Joh. 20:3-8 – “Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie maar was eenkant afsonderlik opgerol. Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.”
Matteus vertel vir ons van die “Skielike geweldige aardbewing en ‘n engel van die Here wat van die hemel af gekom het, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit het” (v. 2). Johannes skryf Maria Magdalena het by die graf gesien dat die klip voor die ingang van die rotsgraf weggerol is. Omdat sy ‘n vrou is, gaan niemand haar glo nie, daarom dat sy onverwyld die manne gaan roep het om die waarheid van haar berig te bevestig. Sy hardloop om dit aan die dissipels te vertel, eers na Petrus en dan na “die ander dissipel” (Johannes).
Maria Magdalena kon nie ‘n fout maak nie, want sy was by toe net Jesus se lyk in daardie graf neergelê is. Haar boodskap aan die twee dissipels het tot gevolg dat Petrus en die “ander dissipel” in ‘n wedloop betrokke raak om by die graf uit te kom. Johannes, “die ander dissipel”, wen die wedloop en word die eerste getuie van die opgestane Here! Hy loer by die graf in en sien die doeke daar lê, en Johannes besef dat daar iets ongewoons gebeur het. Diewe sou nie die doeke daar laat lê het nie! Die enigste rede waarom die doeke nog daar lê, is omdat die Persoon vir wie die doeke bedoel is, dit nie meer nodig gehad het nie.
Getrou aan sy geaardheid, steur Petrus hom nie daaraan dat grafte as onrein plekke beskou is nie. Hy huiwer nie om in die graf in te gaan en noukeurig rond te kyk nie. Die graf is leeg, maar die grafdoeke is nog daar, nie in wanorde nie maar netjies bymekaar. Die doek wat om Jesus se kop was, lê eenkant opgerol. Dit is duidelik dat daar geen tekens van die werk van lykrowers is nie.
Aangespoor deur Petrus se voorbeeld, gaan Johannes ook in die graf in en sien alles wat Petrus sien. Daar in die leë graf, met die sigbare bewyse van Jesus se opstanding, het hy tot volle geloof gekom. Hy het van daardie oomblik af geglo dat Jesus die Seun van God is en dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ons Christen-gelowiges, vier elke jaar Paasfees. Dit beteken ons glo ook dat Jesus die graf oorwin het. Soos Johannes het ons ook in die leë graf ingekyk en die verlatenheid daarvan gee ons hoop. Ons leef met die wete dat Christus waarlik opgestaan het en dat sterflikheid saam met Hom opgestaan het. As Jesus opgestaan het, moet Hy dus êrens leef, en dit kan nie anders wees as ín ons wat in Hom glo nie. Die krag van Sy opstanding is dieselfde krag wat ons van God ontvang om in Sy opstanding te glo en dit te bely, en so vorm ons die kerk. Ons gelowiges maak so saam die koninkryk van God sigbaar, ten spyte van verskille.
Indien ons wil hê die wêreld moet saam met ons glo dat Jesus Christus se opstanding uit die dood, nie net ‘n historiese merkwaardigheid is nie en ons dit daarom Sondae bely nie, moet ons belydenis sigbare dade word. Dat Jesus in ons leef, dat ons anders as die wêreld is omdat ons saam met Christus opgestaan het en nou nuwe mense is. “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou” (2 Kor. 5:17-18). As ons dus nog steeds aan die ou mens met al sy sondes vasklou, laat ons Christus steeds aan die kruis hang, los ons Hom steeds in die graf en maak ons Sy opstanding, iets wat nooit gebeur het nie! Wat ‘n voorreg om die lewende Here te ken! Dien Hom met oorgawe en juig dat my en jou lewe deur Sy genade aangeraak is.
“Die heel beste bewys vir die opstanding van Christus is wanneer verloste sondaars ‘n opstandingslewe begin lei” (Johannes van Apamea {5de eeu}).
Gebed: Jesus Christus, ek juig vandag oor U onsterflikheid. Ek juig omdat U die dood oorwin het, ek juig omdat U “die wêreld klaar oorwin het” (Joh. 16:33). Here, U is my lewe. Ek wil saam met U lewe, saam met U wandel, U ken! En ja Here, ek wil hierdie geweldige nuus dat U leef, met ander deel. Help my om elke geleentheid te benut om elke keer wanneer ek oor U getuig, deur U Gees die regte woorde vir die regte geleentheid sal vind. Bewaar my daarvan om wat ek bely, te weerspreek met hoe ek leef. Amen.
Comments