Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 15 Februarie 2022
Koos Espach
Die graf word bewaak (1)
Hóú Christus in die graf – as jy wil
Matt. 27:62-66 – “Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom en vir hom gesê: ‘Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’ Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.’ Pilatus antwoord hulle: ‘Hier is vir julle ‘n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.’ Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.”
Hierdie gedeelte oor die sorgvuldige bewaking van Jesus se graf, kom slegs by Matteus voor. Matteus wil hiermee die bedrog van die Joodse Raad aan sy lesers ontbloot. Die priesterhoofde en Fariseërs opponeer mekaar gewoonlik in die Sanhedrin, maar hier vorm hulle ‘n eenheid. Selfs hulle buitengewone samekoms by Pilatus met hulle versoek, is ook ’n verbreking van die sabbat, die dag waaroor die Fariseërs allerhande voorskrifte gehad het. In plaas van om die sabbat in die tempel te vier, is hulle op pad na Pilatus.
Ironies spreek hulle Pilatus (die gehate Romeinse goewerneur) aan as “Meneer”, dieselfde woord wat ten opsigte van Jesus met “Here” weergegee word, terwyl hulle neerhalend na Jesus as “daardie bedrieër” verwys. Kontrasterend het die paar soldatjies daar by die kruis verskriklik bang geword en toe besef dat “hierdie man werklik die Seun van God was!” (Matt. 27:54), terwyl die kerkmense van daardie tyd versoek dat “die graf beveilig word deur die klip te verseël en vir drie dae veilig bewaak word!”
Bid jou aan! Hulle het gesien “daardie bedrieër” kan “toor.” Met Sy inhegtenisneming in die Tuin van Getsemane, het een van Sy dissipels ou Malgus se oor afgekap. “Daardie bedrieër” het Malgus se oor aangeraak en dit het dadelik genees! Wow! Pilatus, wie weet, Hy het gesê hy “sal na drie dae uit die dood opgewek word.” Dalk gebeur dit. “Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word.” “Daardie bedrieër” het reeds die eerste bedrog gepleeg deur homself aan God gelyk te stel. As sy dissipels sy liggaam uit die graf gaan steel, en sê hy is opgewek, sal “dit die tweede bedrog wees!” Hulle gaan die mense van die hele wêreld, ‘n rat voor die oë draai!
Die graf se verseëling was waarskynlik met klei en die Romeinse Ryk se seël daarop aangebring. Enige verbreking daarvan was ’n strafbare oortreding! Ek weet darem nie, as die Joodse owerheid dink dat die graf met die Romeinse goewerneur se kenteken, as afskrikmiddel moet dien om ‘n lykrooftog te fnuik, moet hulle weer dink. Selfs die bewaking van die graf deur ‘n paar Romeinse soldate of selfs al die soldate in die hele wêreld, is nie genoegsame voorsorgmaatreëls nie. Die Joodse leiers het nie hier met Jesus se “dissipels wat hom dalk kom steel,” te doen nie, maar met God sélf! Al hierdie voorsorgmaatreëls is eintlik lagwekkend. Hier gebruik Satan klein mensies om met desperate poginkies die opstanding van die Seun van God te verhoed. Ironies, is dit juis hulle verseëling van die graf wat Jesus se opstanding bewys het!
Watter troos skenk die Heilige Gees aan jou en my met Jesus se begrafnis. Niémand kan Christus in die graf hou nie!!! Die wêreld dink nog altyd hulle kan God keer, Hom wegbêre en toesluit of uitsluit. Maar hulle kan nie, niémand kan nie. Wat daar gebeur het by die graf was iets anders, onbeskryflik anders, iets wonderliks het met ons gebeur! Met Christus se graf word die verskrikking van die dood en die graf vir elke Christusgelowige weggeneem. God vind nog altyd ‘n manier om enige versperring weg te rol, want Hy is die vrye soewereine God.
Jou en my dood sal nie ʼn betaling vir ons sondes wees nie, maar ʼn afsterwe van ons sondes. Jesus het ‘n nuwe oorwinning vir ons bewerkstellig. Hy het ons nuwe mense gemaak, want as ons die dag in die graf weggelê gaan word, kan ons nooit weer sonde doen nie. Dit is nie meer mý en jóú pad en mý of jóú wil nie, maar Gód se pad en Gód se wil! Dit is nie eens meer die ander mens wat soms krities oor ons lewe die wag gehou het, se wil nie. Nee, ons dood is ʼn deurgang tot die ewige lewe. Wanneer ek en jy ons oë vir die laaste maal in hierdie wêreld toemaak, maak ons dit terselfdertyd oop in God se heerlikheid en sal ek en jy, ons Verlosser en Vader sien. Daarom kan ons Christusgelowiges nou ‘n lewe leef van dankbaarheid onder Sy heerskappy, want die sonde is nie meer ons baas nie.
“Op Golgota was ons elkeen daar. Net, die een wat gely het, was nie ek of jy nie; dit was die Een wat gesterf het in ons plek” (Anton van Niekerk).
Gebed: Wonderbare Skepper Heer, terwyl ek saam met U op U lydensweg gewandel het, is ek met dankbaarheid oorval. Al U lyding, smaad, U pyn, U smart, elke spyker, die spiessteek, elke kruiswoord, U Godverlatenheid – was álles, om mý ontwil. Laat my deur U lyding, die aakligheid van die sonde waarneem. In diepe dankbaarheid wy ek myself opnuut aan U. Maak my U getroue getuie, laat my met ‘n Christushart, U onbaatsugtige liefde leef! Amen.
Comments