Gedagte vir Vandag
Donderdag, 10 Februarie 2022
Koos Espach
Jesus sterwe (12)
Ons nuwe status: Ons is God s’n
Joh. 19:31-34 – “Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ‘n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. (Toe het die soldate die bene van die twee misdadigers gebreek) maar gesien dat Jesus al klaar dood is en hulle het nie sy bene gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.”
Vergelyk ook Deut. 21: 22-23 – “Wanneer iemand ‘n oortreding begaan wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan ‘n paal op, mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe ...”
Die Jode wat die reg verkrag het om Jesus te laat kruisig, is nou konsuis daarop gesteld dat die bepaling van die wet gehandhaaf moet word dat “iemand wat aan ’n paal opgehang is, moet die lyk nog dieselfde dag begrawe word.” Die Jode het niks daarvan gedink om hulle Messias op ‘n heidense manier te vermoor deur Hom te laat kruisig nie, maar die volgende oomblik is hulle skielik besorg oor die sabbat – geen probleem om ‘n onskuldige te vermoor nie, solank sy liggaam net nie op sabbat aan die kruis bly hang nie. Dis eintlik belaglik hoe verwronge hulle godsdiens was!
Daarteenoor het die Romeine so ’n gekruisigde dae lank aan die kruis laat hang om as waarskuwing vir die bevolking te dien en is die lyk deur honde en roofvoëls opgevreet. Om hierdie rede vra die leiers van die Jode aan Pilatus dat die dood verhaas word deur die bene van die gekruisigdes te breek. In so ’n geval is die bene met ’n swaar hamer vergruis en die lyding ontsettend verskerp! Die gevolg was dat die slagoffer gou gesterf het. Pilatus gee toestemming dat hierdie marteling die ongelukkiges aangedoen mag word en dat hulle ná die dood van die kruise afgehaal moet word.
Die soldate wat aan hierdie soort werk gewoond is, doen dit ook aan die twee wat saam met Jesus gekruisig is, maar hulle vind dat Jesus reeds dood was. Daarom het hulle nie sy bene gebreek nie. Deur hulle optrede bevestig hulle dat Hy werklik gesterf het, maar om heeltemal seker te maak, steek een van hulle sy spies in Jesus se sy. Onmiddellik “het daar bloed en water uitgekom.”
Daar is in die verlede baie verklarings aangebied van hoe die uitvloei van bloed en water moontlik was en wat die simboliese betekenis daarvan kan wees. Hulle kan verwys na die bloed van versoening en die water van die lewe, of eerder nog na die sakramente van die nagmaal en die doop (vgl. 1 Joh. 5:6). Al wat met sekerheid gesê kan word, is dat vir die soldate en vir Johannes as ooggetuie, ’n bewys was dat Jesus werklik gesterf het en nie maar net ’n skyndood ingegaan het nie. “Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo” (Joh. 19:35). Ons aanvaar dus dat dit Johannes is wat ooggetuie was en getuienis aflê van wat hy gesien het (vgl. ook 1 Joh. 1:1–3). Die geloof is gerig op Jesus Christus: Hy moet erken word as waarlik mens en tog Seun van God.
Dit was nie nodig om Jesus “aan te help” om te sterf deur Sy bene te breek nie. Hy bly tot die einde toe in beheer en sterf self. Hoofsaak is egter dat Johannes die oortuigende bewys uit die mond van apostel en profeet lewer dat Jesus, die Seun van God, werklik om ons ontwil daar op Golgota aan die kruis gesterf het. Jesus het die pad na God toe met Sy eie bloed kom herbou. Hy is ons nuwe hoop, ons enigste hoop. Naas Hom is daar geen ander hoop op redding nie.
Ek dink nie ons besef dit aldag nie, maar Jesus het dit vir ons moontlik gemaak dat ons status ook kan verander. Ons status was eintlik maar verlorenes. Die pad wat ons almal gestap het, was die pad na die ewige dood. Maar Jesus se dood was die offer wat ons status heeltemal verander het – van verlorenes na wenners. Van weeskinders na God se kinders: “So het Jesus gedoen wat God wou hê. Hy het eens en vir altyd sy liggaam as ’n offer vir ons gegee. Op dié manier het ons God s’n en net Syne geword” (Heb. 10:10).
Ek vermoed ons is nie altyd bewus van wat hierdie status beteken nie. As ons werklik verstaan wat dit beteken, sal ons anders leef. Met die kleinste windjie van voor, begin ons bene te bewe en knak ons knieë, want ons vergeet wat ons status regtig is. Ons vergeet wie ons Pa is. Ons vergeet dat ons God s’n is en net Syne. Hy sal mos na Sy kinders omsien. Mag dit waar word in ons lewens. Mag ons ook deur elke oomblik, lekker en swaar, bly lewe soos kinders met ’n nuwe status: Ek en jy is God s’n!
“Wat ook al met ons gebeur, niks kan die feit verander nie dat God ons Vader is, dat Hy ons liefhet, dat Hy intens in ons belangstel soos ‘n pa in sy kind. Dit is dié onveranderlike gesindheid in Sy hart”
(David Martyn Lloyd-Jones).
Gebed: Ons Vader. Dankie vir my nuwe status. Dankie dat ek weet dat ek ’n kind van die hemelse God is en deel het aan al die voordele en beloftes. Help my om dit my eie te maak en so te leef. In Jesus se Naam. Amen.
Comments