Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 8 Februarie 2022
Koos Espach
Jesus sterwe (10)
Dekoreer met die Orde: “VRIEND VAN JESUS”
Matt. 27:50-53 – “Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas ... Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan mense verskyn het.”
Vergelyk ook 1 Kor. 1:30 – “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.”
Op dieselfde oomblik wat Jesus “die laaste asem uitblaas,” het daar nog iets geweldigs gebeur. Matteus betrek die hele skepping wanneer hy beskryf hoe “die aarde geskud en die rotse uitmekaar gebars het.” Matteus bevestig hier dat Jesus se kruisiging en sterwe nie privaat, êrens op ‘n vreemde plek gebeur het waar niemand dit kon sien nie – dit was ‘n kosmiese gebeurtenis – almal van die destydse wêreld kon dit sien en beleef!
Saam met die aardbewing gaan grafte oop en is “baie liggame van ontslape heiliges opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan ná Jesus se opstanding en hulle het in die heilige stad gekom.” Nie almal nie, net dié wat glo, beleef wat hier gebeur en ook nie almal nie, net dié wat glo, word opgewek. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad – Jerusalem – aan baie mense verskyn. Ironies, die plek waar Jesus doodgemaak word, word Sy oorwinning oor die dood sigbaar! Dit is ook opvallend dat hulle eers ná Jesus se opstanding hulle verskyning gemaak het en toe weer verdwyn het. Nêrens word daar weer na hulle verwys nie.
Paulus sluit hierby aan in die vorm van ‘n oorwinningslied met ‘n oorweldige oortuiging: As God aan ons kant is, kan niks of niemand enige regsgronde teen ons verkry nie. Die sterkste mag wat daar in die hele skepping kan wees, is in elk geval net ‘n stoffie in vergelyking met God se Almag! Geen bedreiging van watter aard ookal, sal kan keer dat God se plan met ons as Sy kinders uitgevoer word nie. Daarom sal dit moeilik wees om ‘n ander vers in die Bybel te kry wat die drie opeenvolgende fases van Jesus Christus se werk só duidelik kan uitdruk soos 1 Korintiërs 1:30.
Ons gelowiges in Christus kan dus die toekoms met optimisme en met moed aanpak want ons weet: wat ookal gebeur, in Christus is ek meer as oorwinnaar en niks in die skepping kan my van die liefde van God skei nie! Christus is ons álles en dit is alles genade. Christus sê “julle is My vriende” (Joh. 15:14), en het ons as’t ware gedekoreer met ‘n oorwinningsmedalje: “Vriend van Jesus”. En wat die oorwinning nog meer triomfanteliker maak, is dat dit nie my goedheid of vriendelikheid of gaafheid was wat Christus se vriendskap gewen het nie. Nee, dit kom alles van Christus se kant af – Hý het dit moontlik gemaak – om Sy vriendskap te bewerkstellig en in stand te hou, moes Hy sy lewe vir my as Sy vriend aflê, daar by die kruis op Golgota.
Al verander alles rondom ons, kan ons van een ding seker wees: Jesus verander nooit nie. Hy is vandag nog steeds soos wat Matteus Hom aan ons bekend gemaak het. Hy is steeds dieselfde Persoon wat soveel vir ons mensdom omgegee het dat Hy sy lewe vir ons almal kom opoffer het. En die goeie nuus natuurlik is dat Hy vir altyd so sal bly. Nog beter nuus is dat ek en jy met hierdie onveranderlike “Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” Ons kan met ons lewe daaraan vashou in hierdie verskeurde wêreld. In al die onsekerhede wat ons daagliks beleef, het ons een Anker, Jesus Christus. Ek en jy moet dit net glo, dan kan ons met vrymoedigheid al ons hoop op Hom vestig in élke situasie, goed of sleg. Groot dinge sal gebeur! Kyk vorentoe, kyk by al ons probleme verby na God toe. Hy is besig om ‘n nuwe wêreld te maak, en ek en jy is deel daarvan omdat ons “verenig is in Jesus Christus.”
“Ons staan hier nog aan die verkeerde kant van die deur maar met al God se beloftes, sal dit nie so bly nie ... Eendag, eendag, so het Jesus belowe, sal ons deur daardie deur ingaan ...” (CS Lewis).
Gebed: Here, wanneer ek rondom my kyk na hierdie verskeurde wêreld met sy kultuur vrot van korrupsie, moord, verkragting, en ag, al die gemors wat ons self geskep het, sê ek ... dankie. Met die politiek wat ons sinies maak, saam met armes wat nog armer word en rykes wat nog ryker word ... dankie. Terwyl ons riviere toeslik van afval en riool en ons land verder in die modder wegsak ... dankiedankiedankie. Terwyl dit lyk of dit pikdonker om ons word, kan ek steeds in U glo en weet, U is in beheer, eendag sal U alles nuut maak ... dankie! Amen.
Comments