Gedagte vir Vandag
Vrydag, 4 Februarie 2022
Koos Espach
Jesus sterwe (8)
Dood verander in lewe
Matt. 27:50-51 – “Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur.”
Johannes wat daar by die kruis gestaan het, was verslae. Sy Meester en Heiland hang doodstil aan die kruis. Hulle Jesus wat hulle kom wegroep het van die viswaters; wat die doderyk kon oopmaak en die dooies weer lewend daar kon uithaal; wat met een woord die natuur kon beheer en storms stil maak; ‘n menigte mense kon kos gee deur twee vissies en vyf broodjies te verdeel; bose geeste laat wegvlug wanneer Hy naby hulle gekom het; blindes, lammes, siekes, melaatses, kon gesond maak, is nou dood. Hy het ná Sy laaste uitroep, Sy kop “vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas”.
Die voorhangsel wat skeiding maak tussen die heilige en die allerheiligste in die tempel, het op daardie oomblik in twee geskeur – van die verkeerde kant af, van bo na onder! Hierdie voorhangsel of gordyn, was volgens oorlewering drie tot vier verdiepings lank en was deur die eeue die simbool van die skeiding tussen God en mense. Deur dié gebeurtenis hef God die skeiding tussen Hom en mense vir altyd op.
Die oordeel oor die tempel word deur die skeur van die voorhangsel, bevestig. Die tempel het sy bestaansreg verloor. Alle offers wat daar gebring word is pure verniet. Jesus is die nuwe tempel! Jesus Christus het die volkome offer gebring deur oorwinnend aan die kruis te sterf: “Broers (en susters), ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur Sy liggaam” (Heb. 10:19). Deur Sy soendood het Christus as Hoëpriester ’n volmaakte offer ingedra voor God se aangesig in die Allerheiligste en sodoende die vrye toegang ontsluit. Dit is nuut en dit lei na die lewe, die teenoorgestelde rigting as die dood! Waar God werk, lewe dit!
Ek en jy hoef daarom nie soos Johannes verslae te voel of wees nie. Ons Meester en Heiland is nie dood nie! Kom ons lees weer die vers in die vorige paragraaf waarmee die Hebreërskrywer dit bevestig. Hoor net: Die deur na die heiligdom van God staan nou wawyd oop! Voor Jesus se koms kon slegs die hoëpriester die Allerheiligste betree en ook net een keer per jaar op die Groot Versoendag wanneer hy in die Allerheiligste van die tabernakel of tempel vir die volk se sonde versoening doen. Niémand anders is daar toegelaat nie. Die deure van die heiligdom was vir ander gesluit en die voorhangsel, hierdie swaar gordyn, het dit afgeskei van die res van die tempel.
Maar nou staan die deur oop. Jesus het met Sy bloed daarvoor gesorg. Daarom het Jesus ons nuwe hoop geword, my en jou enigste hoop! Naas Hom is daar geen ander redder nie. Jesus se liggaam is die prys vir God se nuwe verlossingspad want dis Sy liggaam en bloed wat al die regte deure laat oopswaai het. Toe Jesus Sy laaste asem daar aan die kruis uitgeblaas het en die voorhangsel skeur, het Hy alle reëls en wette van Israel onmiddellik herskryf. Hy het al die priesters en die hoëpriester deur Sy offer aan die kruis vervang. Hulle is nie net “retrenched” nie, maar vir altyd nou werkloos! Ná Jesus se kruisdood steur God Hom nie meer aan nuttelose offers en godsdienstige rituele nie. Nee, net Jesus se eenmalige offer tel en maak nou saak!
Ons Christene is in ‘n bevoorregte posisie. Ek en jy het nou vrye toegang tot in die hoogste plek in die ganse heelal. Met ‘n enkele gebed kan ons tot binne-in God se troonsaal van die hemel ingaan. Ons kan voor die Allerheiligste God verskyn omdat ons ‘n genadige Hoëpriester aan ons kant het. Ek en jy is in hierdie bevoorregte posisie omdat Christus nie net vir ons gesterf het nie, maar ook vir ons leef as Hoëpriester en aangestel is as ons Borg by God (Heb. 6:17-18). Ek en jy moet daarom nie ophou om in ons stiltetyd, meer tyd te maak vir lofprysing en aanbidding van Jesus Christus, ons Hoëpriester nie! Sy bloed was die enigste betaalmiddel om die pad tussen God en ons te herstel. Daarom het Jesus geen ander keuse gehad nie. Dit was alles om my en jou ontwil!
“As jy glo in Christus, glo jy in oorwinning, dink jy oorwinning, bely jy oorwinning en leef jy oorwinning – oorwinning in Jesus Christus en daarom kan niks of niemand ons van hierdie liefdevolle oorwinning ontneem of skei nie!” (Onbekende oorsprong aantekening in “The Protestant Standard”).
Gebed: Here, in ‘n wêreld waar daar soveel boosheid, haat, pyn en geweld, is, dank ek U vir die weelde van vryheid deur die oorwinning wat U vir my behaal het. Daarom bid ek vir elkeen wat nog doelloos hulle heil in allerhande kerk-rituele, die wêreld en by ander mense soek. Here, gee dat hulle ook sal besef dat U aarde toe gekom het om die dood te oorwin, sodat dié wat in U glo die ewige lewe het en daarom meer as oorwinnaars is deur U wat ons liefhet. Amen.
Kommentare