top of page

Gedagte vir Vandag

Donderdag, 20 Januarie 2022

Koos Espach


Jesus word gekruisig – Die Via Dolorosa (4)


Jesus was reeds daar waar dit soms voel ons kan nie meer verder nie


Matt. 27:32 – “Toe hulle uitgaan, kry hulle ‘n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra.


Vergelyk ook Mark. 15:21 – “Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het ... ”


Die Prins van die hemel wat kom mens word het op aarde, se menslike kragte is op breekpunt. Hy volg steeds die Romeinse offisier na Golgota, die plek van veroordeling. Die laaste groep mense wat moontlik deel was van die “begrafnisstoet”, is Jesus se vriende, mense wat waarlik omgee en simpatie het met Sy lyding en spot. Sy moeder voel dalk nou die “swaard deur haar siel gaan” terwyl sy terugdink aan Simeon se profetiese woorde in die tempel kort na Sy geboorte: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word ... En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan” (Luk. 2:34-35).

Johannes is ook daar en onthou moontlik Jesus se profetiese aankondiging van Sy eie dood (Matt. 20:17-19). Hy dink dalk terug aan Jesus se antwoord die dag dat sy ma Jesus gevra het hy en sy broer Jakobus, die twee ereposisies weerskante van Jesus in Sy koninkryk kon beklee. Jesus se antwoord was: “Julle weet nie wat julle vra nie, kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink ...” (Matt. 20:22). Alhoewel hulle daardie dag bevestigend geantwoord het “hulle kan”, twyfel hy nou of hulle wel die twee “ereposisies” langs Hom op Golgota sou inneem wat deur die twee misdadigers ingeneem gaan word nie?


Jesus wat met een woord ‘n storm op die see kon stilmaak, is volkome mens wanneer Hy onder die gewig van Sy kruis struikel. “Die soldate het Simon van Sirene, (êrens in Noord Afrika), gekommandeer om Jesus se kruis te dra.” Hy was heel moontlik daar vir die Paasfees en het die raserige skare gesien, nuuskierig nadergestaan en nou word hy beveel om Jesus se las te help dra. Simon van Sirene se lewe verander net dáár, vir ewig, want niemand se lewe bly onveranderd wanneer jy ‘n ontmoeting het met Christus nie: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is. Neem My juk op jou en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en jy sal rus kry vir jou gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Matt. 12:28-29).


Volgens oorlewering, (word nie gereflekteer in die Bybel nie), het Maria, Sy moeder, vir Jesus op die roete ontmoet en sy het flou geword. Dit word ook vertel van ‘n Romeinse vrou, Bernice, wat Jesus se gesig afgevee het toe Hy by haar huis verby gegaan het. Later het sy die afdruk van Jesus se gesig op die doek wat sy gebruik het, gevind. Sy is tot “Die heilige Veronica” verklaar. Op die Via Dolorosa roete is ook ‘n anekdote waar ’n verweerde klip ingemessel is met ’n donker afdruk van Jesus se hand toe Hy daar, teen die muur aangeleun het.


Jesus verstaan presies wat ek en jy elke dag beleef. Hy was hier op aarde volkome mens en weet hoe dit voel om nie meer verder te kan gaan nie. Daarom rig die Hebreërskrywer die volgende uitnodiging aan ons om vas te hou aan die geloof wat ons bely in Hom, sodat ons uit Sy krag, deur die Gees kan verder gaan: “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb. 4:14-16). Dit bly egter my en jou eie keuse wat ons met hierdie uitnodiging maak.


“Jesus het nie gekom om ons leed weg te neem of om ons leed te verklaar nie. Hy vul net ons lewe én ons leed met Sy teenwoordigheid” (Paul Claudel).


Gebed: Dankie Here dat U groter is as enige probleem wat ek kan ervaar. U wéét van elke keer wanneer dit voel of die lewe vir my ondraaglik raak, maar dankie dat ek nogtans my probleme met U mag deel. Saam met Paulus wil ek bely: “In alles word ek verdruk, maar ek is nie terneergedruk nie; ek oor raad verleë, maar nie radeloos nie” (2 Kor. 4:8). Maak my sensitief om te luister na die influistering van U Gees. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page