Gedagte vir Vandag
Woensdag, 12 Januarie 2022
Koos Espach
Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word (6)
Gabatta!
Joh. 19:11-13 – “En Jesus antwoord hom: ‘U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld. Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: ‘As u Hom loslaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser. Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata.”
Iets in die woorde van Jesus dat daar ander is wat “groter skuld” dra, naamlik dié wat Jesus aan Pilatus “uitgelewer het”, laat Pilatus opnuut simpatiek teenoor Hom stem. Kajafas en die lede van die Joodse Raad dra dus groter skuld aan die kruisiging as Pilatus, wat as draer van die owerheidsgesag, Jesus veroordeel het. Hy voel nou minder skuldig as die Jode, en Pilatus wend ’n laaste poging aan om Jesus vrygelaat te kry.
Hulle reaksie gee egter die deurslag by Pilatus. Die Jode ken sy swakheid en weet ook dat sy reputasie by die keiser nie sterk staan nie, daarom verklaar hulle indien Pilatus Jesus sou loslaat, dit ’n daad teen die belange van die keiser sou wees. Pilatus sou deur so ’n daad nie meer “’n vriend van die keiser” wees nie. Om “vriend van die keiser” te wees, was destyds ’n eretitel wat deur die keiser verleen is, en iemand van wie die titel teruggetrek word, verloor sy aansien en voorregte in die Romeinse Ryk en vir Pilatus was dít, ’n ondraaglike gedagte.
Pilatus weet dat die aanklag teen Jesus vals is, maar hy vrees vir die gevolge indien die Jode hom sou beskuldig dat hy ’n opstandeling vrygelaat het. Hy laat hom afpers, hy besluit om ’n einde te maak aan die verhoor en tree nou handelend op. Hy bring Jesus buitentoe ter wille van die Jode wat weier om in die ampswoning van ’n heiden in te gaan. Hy laat sy regterstoel opstel op ’n deel waar plaveisel gelê was en “Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata”, gaan sit daarop en maak sy veroordelende besluit bekend! Dit is waarskynlik ook die plek waar hy Jesus uitgebring het, en vir die Jode gesê het: "Dit is die mens!" (Ecco homo; idou o anthropos).
Wat ‘n weersinwekkende toneel? Pilatus se gewaande mag oor Christus lyk eintlik pateties. Uiteindelik het sy reputasie as goewerneur, “vriend van die keiser” en die goedgunstigheid van die Jode, vir Pilatus meer getel as die waarheid en die reg. Dit is so tipies algemeen menslik om te dink Christus is in jou hand en jy kan met Hom maak wat jy wil, maar ons weet vandag, die waarheid is die teenoorgestelde.
In ons geestesoog sien ons Jesus op Gabbata staan, Sy pers kleed is verbleik van al die bloed, oë toegeswel van al die klappe, liggaam oortrek met pyn, moeg en uitgeput van al die lyding, duidelik nie dieselfde Man wat ‘n paar uur vantevore in Getsemane in hegtenis geneem is nie. Tog, deur Sy vernielde en geskonde toestand, straal daar steeds ‘n teerheid uit Hom uit, ‘n meegevoel vir elkeen hier voor Hom. Soos ‘n Koning met waardigheid is die kontras tussen Hom, Pilatus, Barabbas en jillende skare Jode wat bloeddorstig nog meer bloed soek, Jesus se bloed – en Hy het steeds al hierdie vyande lief!
Ons sien selfs vir satan daar tussen die mense. Hy kan nie wág dat Jesus ‘n einde gaan bring aan Sy lyding nie, Homself verlos en ‘n einde maak aan die verlossingsplan nie. Hy wil sien hoe Jesus gaan terugbaklei, kwaad met kwaad vergeld, staak om die ander wang te draai. Hy wil sien hoe Jesus Hom verset teen hierdie kwaadwillige spul Jode en Romeine (Matt. 5:38-42). Hy wens dat Jesus net één keer moet faal, dan sal Sy offer onvolmaak wees en Hy aan versoekings meedoen. Ons weet vandag dat satan verniet gehoop het vir Jesus se ongehoorsaamheid en dat Hy waardig, God se wil en opdrag volbring het.
Jesus het dit vir jou en my gedoen. Hy is vals beskuldig, maar het nie terug beskuldig nie; deur mense geslaan, maar het nie teruggeslaan nie. Hy het geswyg, dit alles verdra, omdat Hy jou en my lewe wou red. Hy is deur satan versoek, ge-opponeer, maar dit weerstaan omdat Hy seker wou maak jy en ek volg Sy voorbeeld. Sy lyding op aarde was die prys wat Jesus moes betaal vir jou en my. Vir die redding van net één sondaar, moes Jesus die vólle prys betaal. Waar staan ons teenoor die Man van Nasaret? Wat het Hy in jou en my lewe bereik? Indien Hy nie geslaag het om ons te verander nie, is dit nie omdat Hy nie kan nie, dit is omdat ons Hom nie wil toelaat nie!
“Om te sterf vir my Verlosser is om die vlammehel vir ‘n paar minute te trotseer. Dit is egter beter as om die vlamme van die hel vir ewig te trotseer” (Onbekend).
Gebed: Dankie Jesus dat ek aan U kan behoort, dat U al die lyding en vals beskuldigings trotseer het, om my te kan red. Dankie dat ek kan saamsing en dit bedoel: “Wat ‘n vriend het ek in Jesus!” Dankie dat U die vloek van die lewe gebreek het om vir my die ewige lewe te kan gee. Amen.
Comments