top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 3 Januarie 2022

Koos Espach


Goeiemôre liewe vriende,


Die nuwe jaar 2022 het pas aangebreek en dalk is jy ook dankbaar 2021 is verby. Vir sommige mense was dit ’n moeilike jaar. Vir ander dalk nie so lank en ongemaklik nie. As ek so terugkyk oor die jaar wat verby is, was die pad by tye afdraend, maar meer gereeld, erg hobbelrig. Al het die jaartelling nog ‘n keer verander, bly so baie dinge steeds dieselfde – dieselfde hartseer, dieselfde vrae, dieselfde probleme, dieselfde uitdagings en dieselfde mense – ook dieselfde ek en jy! Maar, dankie tog, Jesus is ook nog dieselfde: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid" (Heb. 13:8).


Ons is dankbaar om dan vandag, soos ons belowe het 9 Desember 2021, weer die dagstukkies kan begin uitstuur. Ek en jy het soveel genade en vrede nodig, want dis asof die wêreld daar buite alles by ons kom steel. Hier diep binne-in ons het die vrede en vreugde plek-plek weggeraak en seer het hom lekker kom tuismaak. Daar is nie ’n pleister wat ’n mens kan plak om dit te genees nie. Dis net God wat daardie seerplek kan gesond maak. Ons het elke oomblik van die dag God se guns in ons lewe nodig. Ek dink nie ons besef regtig hoe nodig ons die drie-enige God het om deur die lewe te gaan nie. Die lewe is die heeltyd vol uitdagings. Daar kom gereeld ’n curve ball uit een of ander hoek van die lewe en baie keer is ons te stadig om te koes.


Gelukkig is God daar om ons gedurende 2022 met Sy sagte aanraking te vertroos. Daarom moet ek en jy sorg dat ons vanjaar daar is waar Hy aan die werk is met Sy krag en liefde! Ek wil dit waag om te sê dat een van die belangrikste plekke om vanjaar te wees, is daar waar die Woord van God is en daarom wil ons julle weer opnuut uitnooi om onder andere, die dagstukkies as ‘n stilhouplek te gebruik in jul Godwaardse groei. As julle van iemand weet soos kinders, familie en vriende wat ook baat kan vind by die dagstukkies, stuur asseblief hulle name en e-pos adresse, en ons plaas hulle met liefde op die poslys. Wie weet, dalk kry hulle ook ‘n stukkie “brood” uit God se Woord wat hulle honger kan stilmaak.


Here, met ons lofprysinge dank ons U vir ‘n nuwe jaar wat U aan ons lewe toegevoeg het. Dit is vir ons ‘n onuitspreeklike voorreg om hierdie jaar as U kinders aan te pak en te beleef. Daarom bid ons in diepe afhanklikheid van U om krag en inspirasie, om raad, insig en leiding, om U liefde en troue sorg vir 2022. Soos kinders wat opkyk na hulle ouers, kyk ons met verwagting en opgewondenheid op na U en sien ons U uitgestrekte arms wat na ons toe reik. Wil U gee dat ons in hierdie nuwe jaar wat voorlê, nooit sal vergeet Wie se kinders ons is nie. Here, maak ons dankbaar en nederig en wys ons elke moontlike geleentheid waar ons U Naam kan prys. Amen.




Geseënde 2022


Koos en Renette Espach namens die Leraarspare en Kerkraad van NG Fochville-Noord Gemeente.


“Hand aan hand met God”

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page