top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 23 November 2021

Koos Espach


Jesus se verhoor voor Annas


Jesus geboei om ons te red


Joh. 18:12-14 – “Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.”


Nadat Jesus elke vorm van teenstand afgewys het, en Hom vir gevangeneming aangebied het, neem die kommandant die leiding en laat hy Jesus vang en boei. Heidene en Jode span dus saam in hulle teenstand teen Jesus en dra saam die verantwoordelikheid vir Sy gevangeneming en verhoor. Hulle behandel Jesus soos ’n misdadiger deur Hom te boei. Die Vredevors word soos ’n geweldenaar behandel, die onskuldige soos ’n misdadiger. Dit is deel van Jesus se vernedering in Sy plaasvervangende lyding vir die sonde van die verdorwe mensheid.


Jesus word volgens Johannes, eers na Annas geneem, maar nie vir ’n voorlopige verhoor nie. Die rede vir die besoek aan huis van Annas word nie genoem nie; die gebeurtenis word ook nie in die drie Sinoptiese Evangelies vermeld nie. Waarskynlik was dit omdat Annas ’n belangrike persoon in die Joodse samelewing was en in ’n gebeurtenis waarby die Joodse Raad betrokke was, nie verbygegaan kon word nie. Sover bekend, was hy die hoëpriester in 6-15 n.C. Die Romeinse owerheid het hom uit sy amp onthef, maar het sy invloed heel moontlik behou deur sy groot rykdom, en omdat vyf van sy seuns en sy skoonseun, Kajafas, by geleentheid as hoëpriester gedien het.


‘n Ander rede mag wees dat die volk vir Annas beskou het as die eintlike hoëpriester en was hy ook in werklikheid die een by wie die seggenskap in die sake van die Joodse Raad, of Sanhedrin, berus het. Die Romeinse kommandant weet dit alles en toe Jesus geen gevaarlike misdadiger blyk te wees nie, het hy Hom aan Annas gaan besorg. Daarna trek die leërafdeling terug en laat hulle die bewaking van Jesus oor aan die Joodse geregsdienaars. Besonderhede oor wat in die huis van Annas plaasgevind het, word ons nie vertel nie. Blykbaar het Annas net kennis geneem van die gevangeneming en toe Jesus na die wettige hoëpriester, Kajafas, laat gaan.


Na die besoek aan Annas, word Jesus na die huis van Kajafas gebring waar die verhoor voor die Joodse Raad en die verloëning deur Petrus plaasvind. Johannes herinner ons aan die profetiese woorde wat Kajafas ná die opwekking van Lasarus uitgespreek het “dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.” Daardie woorde gaan nou in vervulling, maar op so ’n manier dat die man wat destyds die oordeel oor Jesus uitgespreek het, nou as regter moet optree. Van ’n regverdige verhoor voor die Joodse Raad kan daar dus geen sprake wees nie.


In daardie nag van angs in Getsemane, is Jesus se aardse koers finaal beseël. Toe Hy sê: “Dit is Ek!”, kon Hy nie meer omdraai nie en was daar geen keuse meer nie. Daar was al die tyd toe net een keuse, een regte beslissing toe Hy gesê het: “Dit is Ek!” Daarmee het Jesus, God se beker stewig in sy hande geneem, ʼn beker wat propvol lyding was ... ook propvol met ons sondes! Maar Hy het dit enduit gedrink! Dit was die enigste uitweg, die hoofpad na die Lewe toe. Goddank! Anders was die ganse mensdom se geskiedenis vandag totaal anders. As Jesus daar in Getsemane teruggedeins het van sy gehoorsaamheid aan God, in plaas daarvan dat dit met die soldate gebeur het, was ons vir altyd in die donker opgesluit. Hy het ook nie in daardie vroeë oggendure weggehardloop soos Sy dissipels nie, maar is geboeid weggelei om onskuldig verhoor te word. Gelukkig het Hy nie weggehardloop nie, Hy was enduit op die regte koers na Golgota toe, vir my en jou!


Dit betaam nie vir ons om die misterie van die Verlossingsplan te probeer ontrafel nie. Die misterie is vir ons te groot. God staan in menslike gestalte tussen die olyfbome in Getsemane en laat toe dat Sy skepsels Hom gevange neem. Toe Jesus uit Getsemane weggelei is om onskuldig verhoor en gekruisig te word, het Hy dit gedoen om ál die gemors wat ek en jy met ons saamdra, om al die selfverwyt van ons harte, op Hom te neem. Daar was 'n Golgota omdat die liefde van God dit gevra het. Iemand moes betaal vir die sonde van die mens. Dit word slegs van ons verwag dat ons dit met dankbaarheid sal aanvaar en met ons ganse lewe sal leef soos mense wat deur die misterie gered is uit die kloue van die ewige dood! Ons antwoord op Jesus se offer, is om Hom aan te neem as ons Verlosser en Saligmaker.


“Jesus Christus se lyding is die megafoon waarmee God ‘n dowe wêreld wil wakker maak” (C.S. Lewis)


Gebed: Dankie Jesus Christus, dat U bereid was om daardie “Nag van Angs” die lydensbeker wat propvol van my sondes was, geledig het. Dankie dat U bereid was om daardie nag, in te staan vir my verlore siel. Dankie dat U daardie negatiewe situasie vir my verander het in ‘n positiewe situasie, sodat ek die liefde van God raak kan sien en kon ervaar. “Aan God die dank! U voer my altyd saam in U triomftog omdat ek een is met Christus” (2 Kor. 2:14). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page