top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 18 Oktober 2021

Koos Espach


Jesus berei sy dissipels voor vir sy dood – Sy pad na glorie (19)


Die Heilige Gees sal by julle bly (4)


Erfgename saam met Christus


Joh. 7:7 – “Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is.”


Dit is ‘n bewese feit dat die wêreld, wat onder heerskappy staan van “satan, die owerste van die wêreld” (Joh. 14:30), die volgelinge van Jesus sal haat omdat ons die Naam van Jesus bely. Dit is nie iets nuuts wat oor ons sal kom nie, maar dit is die volgehoue houding van die wêreld teenoor Jesus dat ons wel in die wêreld leef, maar nie “behoort aan die wêreld nie”. Die feit dat die wêreld ons haat, is die bevestiging dat ons aan Christus behoort. “God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1:29).


Die stryd is nog steeds nie verby nie. Satan is oorwin maar hy het nog nie die stryd gewonne gegee nie. God se plan het egter nie ontspoor of iets het verkeerd gegaan nie, dit het immers met Jesus gebeur, daarom sal ons gelowiges dit nie vryspring nie. Om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie (Rom. 5:8).


As Christus ons voorbeeld is om te dien en die lydensweg moes beleef, kán ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As dit ons roeping is om te getuig vir Christus, moet ons gewillig wees om soos Hy, verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, beledig, valslik beskuldig, ons motiewe verkeerd verstaan en selfs verag en “vervolg.” Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om hulle wat Hy liefhet, te red nie.


Dissipels van Jesus het mooi getuienisse en daarom word ons verag, want ons het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot. Wanneer ongelowiges die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie: “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20).


Wanneer ek en jy alles verloor het omdat ons lojaal is aan Jesus, het ons baie meer ontvang! Die vervolgers kan maar hulle beste pogings in die stryd werp om alles van ons gelowiges te steel en te verower, hulle sal nooit slaag om die hemel van ons weg te neem nie. “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan Sy lyding, sal ons ook deel hê aan Sy heerlikheid” (Rom. 8:17b). Die keuse lê by elke mens. Niemand kan sê Jesus kan hulle nie red nie, baie wil net nie Sy uitnodiging aanvaar nie (Joh. 5:40). Al wat Jesus vra is dat ek en jy ons lewe vir Hom moet gee: “As die wêreld julle haat, onthou: hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh. 15:18-19).


“Hulle wat nie met die duiwel wil handel dryf nie, moet wegbly van sy winkel af” (Robert South).


Gebed: Dankie Here dat ek geseënd kan wees omdat ek U kind kan wees. Ja, dit beteken nie noodwendig dat geseënd altyd voorspoedig sal wees nie maar dit beteken immers dat ek as ‘n geseënde kan uithou en aanhou ten spyte van teëspoed. In die oomblik wanneer dit voel of die wêreld om my ineenstort, weet ek wat in my verlorenheid in U glo, dat U by my is en steeds in beheer is. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page