top of page

Gedagte vir Vandag

2 Oktober 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)

DIE TWEEDE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (1).

(Mark. 8:1-10)

GELOOF DAT DIE HERE SAL VOORSIEN!

Matt. 15:32-33 – “Jesus het Sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: ‘Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op pad beswyk.’ Sy dissipels sê vir Hom: ‘Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg brood kry om so baie mense kos te gee?”

Alhoewel Matteus en Markus nêrens in hulle evangelies die tydperk beskryf wat Jesus en Sy dissipels in die Noorde by Tirus, Sidon en die Dekapolis vertoef het nie, blyk dit uit oorlewerende navorsing dat dit ongeveer ses maande was. Beide skrywers meld nie ál die detail wat gedurende hierdie tydperk gebeur het nie, maar wat wel van belang is, is dat Jesus juis hierheen vertrek het sodat hulle by ‘n rustiger plek kon wees om Sy dissipels verder in hulle ampswerk te leer.

Baie navorsers dink ook dat die twee broodvermeerdering-geleenthede, twee weergawes is van dieselfde gebeurtenis. Daar kan egter met beslistheid gehandhaaf word dat dit twee afsonderlike gebeurtenisse is. Die opvallende verskille bestaan omdat Jesus self daarna verwys as twee afsonderlike gebeurtenisse (Mark. 8:19-20). Die verskille kan ons soos volg opsom: Die eerste vermeerdering (Matt. 14:13-21), het vir ’n Joodse skare plaasgevind in die lente (groen gras sit [14:19]), terwyl hierdie gebeure vir ’n oorwegend heidense menigte is in die somer (grond sit [Matt. 15:35]); vyf brode teenoor sewe; twee vissies teenoor paar; 5 000 mans teenoor 4 000; twaalf mandjies oorskot teenoor sewe; ook word in die Grieks daar ’n ander woord vir “mandjie” gebruik as hier. Al hierdie dinge wys op twee spysiginge by verskillende geleenthede.

Vir drie dae het ’n groot skare, meestal nie-Jode, rondom Jesus vergader en het Hy hulle geleer en siekes gesond gemaak. Hulle het hul eie liggaamlike behoeftes volkome ondergeskik gestel aan die voorreg om met Hom te kan verkeer, en daarby het hulle in hul ywer om Hom te volg, nie vir voedsel voorsiening gemaak nie. Hy “het die mense innig jammer gekry” omdat hulle, ten spyte van die honger, volhard het om by Hom te bly. Jesus het vir hierdie oomblik gewag om Sy dissipels ’n nuwe les in verband met hulle ampswerk te leer en wys hulle dan op die nood van die mense. In Sy ontferming neem Jesus die volle verantwoordelikheid en onderneem om hulle te voed, vóór die mense huiswaarts gestuur kon word.

Dit skyn asof die dissipels nie aan die vorige spysiging gedink het nie en reageer dadelik afwysend. Hulle neem tans alleen die sigbare omstandighede in ag en sê vir Jesus: “Waar sal ons in hierdie verlate plek genoeg brood kry om so baie mense kos te gee?” In daardie omgewing was daar geen moontlikheid vir broodverskaffing nie. In die onmiddellike nabyheid het daar nie mense gewoon nie en Jesus se opmerking was vir hulle verrassend, omdat dit hulle voor ’n menslik onmoontlike taak gestel het. Eintlik het Jesus hulle nie eers iets gevra nie. Hulle beklemtoning van die verlate plek wys dat hulle, nieteenstaande hulle vorige ondervinding met die spysiging, ‘n krisis beleef het en nie verwag het dat Jesus kan voorsien nie.

Wanneer ons dink dat ons God se genade uitgeput het, is dit nog nie naastenby uitgeput nie! Ons menslike verstand kan nooit genoeg besef hóé groot en goed Hy is en “hoe wyd en ver en hoog en diep Sy liefde strek nie” (Ef. 3:18). God sal voorsien: “Hy het nie sy eie Seun gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (Rom. 8:32). Jesus Christus is geneig om nie nét presies dít te voorsien wat ons nodig het nie, maar ook méér. Hy het dit aan die kruis bewys! Jesus Christus is nie net daar om aan ons broodnood ‘n verskil te maak nie, Hy is besorg oor elkeen wat in ‘n daaglikse stryd is om siel en liggaam aanmekaar te hou.

God is nie alleen die Skepper nie, maar ook die getroue en liefdevolle Onderhouer van Sy skepping. God weet nie net alles nie, maar Hy sorg ook dag vir dag! Hy het aan ons Sy kosbaarste, sy Seun gegee! Sal Hy dan nie ook dié dinge gee wat ons vir ons lewensreis nodig het nie? “En Hy wil ons ook nie sonder kos huis toe stuur nie”, Hy gee genade vir elke beproewing; krag vir elke krisis; voedsel vir elke dag! God is steeds besig om magtige dinge in die lewens van gewone mense soos ek en jy te doen. Ons het oë nodig wat deur God oopgemaak is om Jesus en die Gees se teenwoordigheid te herken en Sy heerlikheid te aanskou. Moenie jouself met ander rondom jou vergelyk nie, maar soek eerder na wat God vir jóú lewe beplan en sien én ontdek die verandering wat dit meebring.

“Dit is wanneer jy jou bekommernis oor die toekoms by jou las van vandag voeg dat dinge vir jou swaar word. Onthou: Dit is nie wat God van jou verwag nie. Hy vra jou om môre in sy hande te laat en jou aandag aan vandag te skenk” (George MacDonald).

Gebed: Here, dankie vir U voorsienigheid. U is my Herder, ek kom niks kort nie. U laat my rus in groen weivelde. U bring my by waters waar daar vrede is. U gee my nuwe krag. U lei my op die regte paaie, tot eer van u Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly, daarom “werp ek al my bekommernisse op U, want U sorg vir my” (1 Pet. 5:7). Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page