top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 8 September 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (41)


Die profetiese rede: die laaste oordeel (6)


Die sonde van versuim


Matt. 25:41 en 46 – “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is … En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”


Vergelyk ook Joh. 5:28 – “Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ‘n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.”


Jesus se oordeel met sy wederkoms is die klimaks van Sy laaste toespraak waarin Hy sy dissipels en ons gelowiges tot waaksaamheid en getrouheid oproep. Hier word konkreet aangedui waarin die waaksaamheid en getrouheid moet bestaan. Jesus het hierdie duidelike, ernstige waarskuwing laat hoor teen die sonde van versuim – diegene wat versuim om goed te doen asof ons dit aan Hom doen, noem Hy “vervloektes”, en dié wat goed doen asof ons dit vir Hom doen, “geseëndes” (v. 34). Dis veelseggend dat in elkeen van Jesus se gelykenisse van veroordeling, dit die sonde van versuim is wat veroordeel word – gas by bruilofsmaal sonder bruilofskleed (22:11); vyf onverstandige meisies sonder olie (25:3); man met een muntstuk wat nie daarmee gewoeker het nie (25:25).


Daar is ’n diepe samehang tussen die vryspraak van elkeen wat glo en die oordeel volgens die dade, omdat slegs die mens wat uit die geloof in die genadige vryspraak leef, werklik sonder versuim kan doen wat God behaag. Goeie dade is dus ‘n dankbare reaksie op God se genade en nie ‘n voorvereiste waarmee God se genade verdien word nie! Dit is daarom duidelik dat Jesus elkeen sal vergeld volgens sy dade – dié wat kwaad doen, sal “weggestuur word as vervloektes na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is.” Daarenteen, “dié wat die wil van God gedoen het, ontvang die ewige lewe.” “Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir hulle voorberei en neem dit as erfenis in besit” (25:34). Hierdie beginsel is vir alle mense dieselfde, nie omdat ons die erfenis kan verdien nie want die saligheid is ‘n geskenk, ‘n genadegeskenk, “’n erfenis!” Dit bevestig dat niemand aan die eindoordeel sal ontkom nie.


Die onpopulêre onderwerp van die eindoordeel word in die ganse Skrif, glashelder duidelik gemaak dat absoluut ALLE mense wat ooit gelewe het, daar sal wees. Ons kan nog 'n tandartsafspraak kanselleer indien ons moed ons begewe, maar nie hierdie afspraak nie. Nee, dit is juis die grootste verrassing wat op biljoene armsalige misleide mense wag – mense wat gedink het Jesus is 'n soort god en 'n tipe verlosser wat 'n stukkie waarheid beetgehad het – en dat ander opsies ewe goed was, dat daar teen niemand gediskrimineer mag word nie en dat waarheid relatief is. Die aakligste verrassing wag op hierdie misleide mense wanneer elkeen ontdek dat Jesus se aansprake oor Homself al die tyd, die egte en enigste waarheid was!!!


Nou kan baie van ons seker vra: Maar hoekom het God my dan nog nie gestraf nie, gee God my “carte blanche” om maar aan te hou om te sondig? Nee, God het ons oë oopgemaak en ons pynlik bewus gemaak van ons eie sondes en ons verdien eintlik Sy oordeel. Maar dankie tog! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld” (Rom. 2:4). Ek en jy het met God se guns te doen, God se GENADE! God wil ons ‘n geleentheid gee om te verander, te bekeer en daarom hou Hy sy toorn nog in, stel Hy die wederkoms nog uit. God handel nie met ons na wat ons verdien nie want ons kan nie iets verdien nie, maar gun my en jou nog tyd omdat Hy nie die dood van ons as sondaar begeer nie, maar ons bekering.


‘n Volgeling van Jesus ís anders, dínk anders, lééf anders en dóén anders. Om Jesus te volg verander ons doel in die lewe en dit het ‘n effek op die wêreld. Dit is deel van ons roeping – ons is nie net geroep óm Jesus te volg nie, maar ook om in die proses deel te word van Sy Koninkrykswerk. Ons gelowiges het Sý vrede ontvang om dit aan te gee. Waar ons die lig van Christus in mense se lewens in dra en in die krag van die Gees begin optree, kom die hemel in beweging met vergifnis, met die vrede wat tussen God en mense, tussen mense en mense bring.


“Christus gebruik ons soos ‘n pen om mee te skryf – of nog beter: Hy maak ons een van Sy vingers”

(Charles G. Trumbull).


Gebed: Jesus Christus, dankie dat U woorde ‘n groot troos is vir elke wedergebore gelowige. In die helder lig van U goedheid is die skaduwees van my sondes donkerder as die nag. Ek het al berge van straf opgehoop vir die oordeelsdag en ek staan eintlik op die randjie van die hel, en ek is besig om my balans te verloor. Baie dankie Vader, dat U “ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld!” (Rom. 2:4). Dankie dat U my ‘n kans gee om reg te maak, om die genade wat ek ontvang, uit te dra na ander. Help my o Gees van God, dat ek nie sal uitstel nie. Dankie Here dat U vrede maak met my onvolmaaktheid en gebrokenheid en nogtans U aan my verbind op die pad wat ek moet loop. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page