top of page

Gedagte vir Vandag

Vrydag, 20 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (28)


Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies (4)


Die lot van die onvoorbereide


Matt. 25:10-13 – “Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit. Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’ Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”


Die gelykenis verskuif nou na die onverstandige vyf meisies wat weens hulle versuim, eers “olie gaan koop het” en te laat is om saam met die ander gaste in te gaan. Met hulle terugkeer was “die deur gesluit!” Selfs hulle oproep: “Meneer, Meneer, maak vir ons oop!”, het niks gehelp nie. Normaalweg sou ’n bruidegom waarskynlik die deur vir hulle laat oopmaak het. Maar in die gelykenis weier hy en ontken ook dat hy hulle ken – “As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: ‘Here, maak vir ons oop!’ maar Hy sal julle antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie” (Luk. 13:25).


Dit is veelseggend dat die onverstandige meisies so selfversekerd is, amper bevelend klink dat “die bruidegom vir hulle die deur moet oopmaak.” Hulle het seker hul toegang as ‘n reg beskou, hulle was mos immers ook deel van die bruidsmeisies. Maar die bruidegom se verpletterende woorde, “ek ken julle nie,” het hulle laat besef dat hulle nie deel gaan wees van die feesvieringe nie – hulle staan buite, uitgesluit, deur hulle eie toedoen. Hy weet van hulle, maar hy het geen persoonlike verhouding met hulle nie. Hulle het nie volgens sy wil gehandel nie. Dit was nie sy besluit nie. Dit was hulle eie keuse om onverstandig te leef.


Die bittere gevolg vir hulle wat hul nie op Jesus Christus se wederkoms voorberei nie, is dat hulle nooit weer tot die feesvreugde toegelaat sal word nie. Heel waarskynlik kon die Jode en baie kerkmense van vandag hieruit 'n baie belangrike les leer. Hulle aanbid God soos die skrifgeleerdes en Fariseërs, maar ‘n verhouding met Hom ontbreek. Menigte kerkmense is selfversekerd oor hulle ewige redding. Volgens hulle is hulle sekerheid gegrond op die feit dat hulle gedoop is; belydenis van geloof afgelê het en is hulle name op die kerk se boeke; hulle lees mos Bybel, bid wanneer nodig en probeer om ‘n goeie lewe te lei; en ja, voor Covid het hulle darem so nou en dan kerk toe gegaan, veral tydens nagmaal om weer hulle sonde van die afgelope drie maande te gaan bely. Dit is egter geen waarborg dat hulle die feesmaal sal haal nie. Elkeen moet sélf sy of haar saak met God in geloof en vertroue uitmaak, genoeg tyd aan hulle verhouding met God afstaan. Géén ander mens op aarde kan dit vir hulle doen nie.


Jesus wil hier vir ons vra om onsself te ondersoek of ons werklik dissipels van Hom is, daarom neem Hy ons direk na die dag van Sy wederkoms – die dag wanneer almal voor die Regterstoel sal moet verskyn en sal moet antwoord op die vraag: “Het ek die wil van God gedoen? Het ek God se wil soos Jesus dit so pragtig aan ons voorgehou het onder andere, in Sy Bergpreek in Matteus 5 tot 7, nie net oor gepraat nie, maar ook met die hulp van die Heilige Gees, toegepas!” Het ek en jy ons lig só laat skyn om ons Vader in die hemel te verheelik? (Matt. 5:16).


Alternatiewelik kan ons kerkmense wees wat baie vroom en godsdienstig voorkom, maar nie geestelik gereed is wanneer die heerlike wederkoms van Christus ook al mag wees nie. Hulle wat dus geen werklike persoonlike verhouding met Jesus het nie – “They talk the talk but don’t walk the walk.” Almal word uitgenooi na die bruilof, maar elkeen besluit sélf wat hy of sy met die uitnodiging gaan maak. “Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy ‘n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in Sy rus kon ingaan nie” (Heb. 3:18-19). Die werklike verhouding tussen Jesus en ons is een van geloof, vertroue en gehoorsaamheid. Hoe ons ook al oor die saak voel, dit is elke Christen se individuele plig om só te leef, “waaksaam te wees, omdat ons nie weet op watter dag en uur Sy wederkoms sal gebeur nie.” Dan sal ons gereed wees om Hom jubelend tegemoet te gaan met vreugde en blydskap in ons harte.


“So often we confess God with our lips and deny Him with our lives. Faith without practice is a contradiction in terms, and love without obedience is an impossibility” (William Barclay).


Gebed: Here, ek skiet verskriklik ver tekort in my pogings om ‘n behoorlike en toegewyde dissipel van U te kan wees. Ek praat die regte “kerktaal” van mense en engele, maar bly ‘n klinkende metaal en galmende simbaal. My geloof in U is sterk genoeg om “berge te versit” maar voel steeds dat ek eintlik steeds niks is nie. Here, skenk my die genade om my lewe in ooreenstemming met U wil in te rig. Dankie dat U die Een is wat oor my lewe beskik. Dankie dat ek uit genade gered is. Help my om my geloof in dade om te sit, om U wil uit dankbaarheid, mý wil te maak. Hou my deur U Gees sensitief en wakker sodat ek gereed sal wees om U jubelend tegemoet te gaan met vreugde en blydskap, wanneer U weer gaan kom. U is die Een aan wie ek my wil onderwerp. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page