top of page

Gedagte vir Vandag

Woensdag, 18 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (26)


Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies (2)


Dit is nooit té laat nie


Matt. 25:6-9 – “In die middel van die nag was daar ‘n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’ Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’ Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.”


Tydens huwelikseremonies was die gewoonte dat ‘n aankondiger vooruit loop en hard uitroep dat die bruidegom aan’t kom is. Hier hoor ons dat die bruidegom eers teen middernag sy opwagting maak. Eerstens is dit heel ongewoon maar dit bevestig opnuut wat ons al ‘n paar keer gesê het oor die wederkoms. Ons weet nie wanneer die Here terugkom nie. Wat Jesus egter in hierdie verhaal wil beklemtoon is dat die wederkoms definitief op pad is en ons daarom moet sorg dat ons aardse lampe vol hemelse olie is.


Die feit dat die bruidegom later opdaag as wat verwag is, is duidelik dat die probleem nie was dat al tien meisies aan die slaap geraak het nie. Met die bruidegom se koms het die verstandiges dan ook getoon dat hulle gou gereed kan wees terwyl die onverstandiges uitvind hulle olie is te min. Nou word dit duidelik dat om passief te wees terwyl ’n mens tót op die einde van alles wag, net so erg is as om jou oor die uitbly daarvan te verheug. Dit help nie om net vir die einde te wag nie, maar as Christene, aktief betrokke te wees met die oog op die toekoms.


Dit is duidelik dat Jesus hier sinspeel op die Jode van Sy tyd. Hulle het oorgenoeg tyd gehad om voor te berei vir die Messias se eerste koms na die aarde na aanleiding van die profete se profesieë, maar hulle was onvoorbereid. Hulle het wel lampe, maar nie genoeg olie vir langnag-wag nie. Hulle beskik wel oor al die vroomheidsapparaat (skrifgeleerdes en Fariseërs). Hulle is mense wat wel die middele en geleenthede gehad het om die Messias te ken en te dien, maar die goddelike besieling en heilige afwagting het ontbreek.


Dit is miskien ook menslik om te wonder waarom die verstandige meisies nie hulle olie wou deel nie. Grens dit nie aan liefdelose gedrag nie? Indien hulle gedeel het, sou al tien teen middernag nie genoeg olie gehad het om die bruidegom tegemoet te gaan nie.


Wat beteken dit vir ons? Jesus waarsku ons dat daar sekere dinge is wat nie kan wag tót die laaste oomblik om dit te kry nie. ‘n Student kan byvoorbeeld nie wag tot die oggend van eksamen en dan begin leer vir die vak wat geskryf gaan word nie. Dit is maklik om jou verantwoordelikhede uit te stel om die Bruidegom te ontmoet. Om uit te stel is ‘n tragedie. Al is die winkels dalk nog oop, die tyd is ongelukkig nie beskikbaar om gou weg te glip om Hom tegemoet te gaan nie. Ons moet voorbereid wees vir Sy koms. Daar is geen wegkruipplek waar Hy ons nie gaan opspoor nie.


Die ander les wat ons hier kan leer, is duidelik dat daar sommige dinge is wat ons nie kan leen nie. Die vyf onverstandige meisies het dit gou uitgevind. Ja, hulle wou deel wees van die feestelikhede, maar wou nie bietjie moeite doen om voorbereidings te tref vir noodsaaklikhede, en gereed te wees wanneer die feestelikhede begin nie. Hulle het aan alles meegedoen en meegeleef. Hulle het net die verkeerde besluite geneem. Hulle het blykbaar gedink dat dit onnodig is om reserwe olie aan te koop. Hulle verkeerde besluite het veroorsaak dat hulle net nie gereed was nie!


Ons kan ongelukkig nie ‘n verhouding by God leen nie, ook nie ‘n liefdesgesindheid nie. Nee, ons moet daarmee beklee wees. Hoe word ons beklee? Jesus was bekend vir Sy liefde en deernis vir sondaars. Afgesien van wie ek en jy is en wat ons gedoen het, is dit nooit te laat om na Jesus te draai nie. “Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop” (Op. 3:2a). Sy hand is uitgestrek om ons vas te gryp en ons uit die modder van wanhoop en vernedering waarin ons geval het, tot in die heerlikheid van Sy teenwoordigheid op te lig. Ons moet natuurlik net sorg dat ons genoeg olie het om Hom tegemoet te gaan, Hom betyds in ons lewe innooi sodat Hy volle beheer van ons lewe kan neem. So sal sy Gees ons toerus om Hom met blydskap en vreugde te ontvang wanneer Hy weer kom.


“Die feit van Jesus se wederkoms na die wêreld is die finale en onweerspreeklike bewys dat God vir ons omgee” (William Barclay).


Gebed: Here, laat U genade op my neerdaal. Help my om die noodsaaklikheid te besef om verantwoordelik op te tree soos wat dit betaamlik is vir ‘n Christen. Help my om só te leef dat my lewe só lyk dat ek, wanneer U heerlike wederkoms ook al mag wees, gereed sal wees om U jubelend tegemoet te gaan met vreugde en blydskap in my hart. Amen.

 

Commentaires


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page