top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 3 Augustus 2021

Koos Espach


Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (20)


Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms (1)

God besluit oor die dag en die uur van die wederkoms


Matt. 24:36 – “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.”


Jesus verwys nou weer na die wederkoms en dan sê Hy iets skokkend: “Nie eens Hý weet wanneer dit gaan wees nie en ook nie die engele nie. Net die Vader weet dit.” Maar iets klop nie nou nie. Hy het pas verwys na die vyeboom wat bot en die tekens van die tye, en bygevoeg dat “al die volke van die aarde sal Hom dan op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit” (24:30). Hoe rym dit dan ook met Jesus se Godheid? Ons moet onthou dat Jesus hier praat as volkome mens terwyl Hy nog op aarde was. Al was Hy God ook, het Hy as mens, dieselfde emosies as ons ervaar, en uit daardie uitgangspunt, kan ons aanvaar dat Hy op hierdie stadium nog nie geweet het wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie.


Jesus was baie seker dat dit wel gaan gebeur. Daarom is dit nie vir my en jou nodig of betaamlik om vrae te stel na die “wanneer” nie, maar veeleer om ons voor te berei vir die feit van Sy wederkoms. Anders as Jesus se vestiging van die koninkryk op aarde tussen Sy eerste koms en Sy wederkoms, gaan Sy tweede koms skielik wees. En nou dat dit na 2 000 jaar nog nie plaasgevind het nie, skep ook nie ‘n verleentheid vir Jesus se profesie nie, daardie “dag en uur” gaan kom. “Een ding moet ons egter nie vergeet nie: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag” (2 Pet. 3:8).

Gedurig is daar iemand wat hulle hand opsteek en sê dat hulle ’n direkte lyn na Bo het en dat Jesus op so en so ’n datum op pad is aarde toe. Dan is daar mense wat skrik en hardop vra: “Is ek reg? Sê nou maar net die ou hét ’n direkte lyn?” En as die datum kom en gaan, is daar so effens van ’n verligting ...? (Ai tog, kan nie dink daar is gelowiges wat dit kan glo nie.)


Ons weet nie die dag of datum wat Jesus kom nie. Punt. Klaar. Maak nie saak hoe oortuigend ’n persoon is nie. Maak nie saak hoe duidelik sy direkte lyn na die hemel is nie. Maak nie saak hoeveel blikkies kos en rolle toiletpapier mense al bymekaar gemaak het nie. Niemand weet wanneer Jesus weer aarde toe kom nie. “Oor die tyd en omstandigheid wanneer die wederkoms van die Here sal gebeur, weet ons maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ‘n dief in die nag” (1 Tess. 5:1-2). Dis eintlik logies, want as die datum bekend was, sou baie mense wag en dalk net die dag voor die tyd, hulle harte vir die Here gee.


Die wederkoms is gelukkig nie ‘n dag van vrees en verskrikking vir ons gelowiges in Christus nie. Dit is ‘n dag waarna elke gelowige kan uitsien want op grond van ons geloof in Christus se sterwe en opstanding, is ons mense met ‘n toekoms. Ek dink sommer nou aan die grappie van die dominee wat woes aan die preek was oor die wederkoms en uitverkiesing. Terwyl hy uitbrei oor wat met die mense gaan gebeur wat nie gereed is nie, haal hy aan dat “hy uitgegooi sal word in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners …” (Matt. 22:13). Met dié sien hy ’n tannie hier voor hom breed glimlag met ’n mond sonder tande. En hy maak sy sin klaar: “... en vir dié wat nie tande het nie, sal daar ‘ge-issue’ word.”


Dis dalk net ‘n ligsinnige grappie, maar die “duisternis” beteken om nie deel te wees wanneer die Bruidegom sy bruid kom haal nie! Kom ons maak seker dat ons altyd reg is, sodat Jesus, maar enige tyd kan kom. Of ons nog leef of reeds gesterf het met Jesus se wederkoms, is dit nie iets om oor bekommerd te wees nie. Ek en jy moet maar net elke dag tot eer van die Here leef. Met die hulp van die Heilige Gees kan ons die “bruilofskleed” aantrek en intussen ons lewens inrig volgens die voorskrifte van God. Staan vas in die geloof, wat ook al in my en jou lewe gebeur, en weet dat die lewende Christus nog steeds in beheer is. Laat sy Gees toe om Jesus die Here van ons lewe te maak en ons toelaat om soos ‘n drenkeling aan Sy reddingsgordel, met ons bruilofskleed aan, vas te klou. Dan sal ons gereed wees om Hom jubelend tegemoet te gaan wanneer Hy weer kom en uit te sien na God se nuwe wêreld wat op hande is!


“Ons word nie uitverkies omdat ons goed is nie; ons word gekies sodat ons goed kan wees”

(Benjamin Warfield).


Gebed: Here, ons weet nie presies wanneer U gaan terugkeer, of wat alles sal gebeur as U terugkeer nie. Wat ek wel weet is wat U Woord my leer: “Dat die dag waarop U terugkom, net so onverwags sal plaasvind soos ’n dief wat in die middel van die nag by my huis kom inbreek. Baie mense sal nog sê: ‘Ag nee wat, alles is veilig,’ dan val alles rondom hulle skielik inmekaar. Hierdie mense sal begin skree van die pyn, net soos ’n vrou wat op die punt staan om geboorte te gee. Maar dit sal niks help nie. Niemand sal op daardie dag wegkom nie” (1 Tess. 5:2). Getroue Leidsman, Gees van God, help my om gereed te wees wanneer U weer kom. Laat my met blydskap, geklee in U bruilofskleed, U tegemoet gaan. Amen.


Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page