Gedagte vir Vandag
Donderdag, 8 Julie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (124)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (9)
(Matt. 24:1–25:46)
Die profetiese rede: die groot verdrukking (1)
(Mark. 13:14-23; Luk. 21:20-24)
Heiligheid word ontheilig.
Matt. 24:15-19 – “Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan – wie dit lees, moet dit goed goed begryp – dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie. Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het.”
Vergelyk ook Dan. 11:31 – “Van die koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die daaglikse offer afskaf en ‘n ding oprig wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig.”
Jesus keer terug na die dissipels se eerste vraag oor die vernietiging van die tempel (v. 3). Hy blaai nou terug in die geskiedenis om die begin van die vernietiging te bevestig. Jesus verwys na ‘n “gruwelike ding” wat DaniëI in ons vergelykende vers ook oor geprofeteer het. Die Siriese koning Antiogos Epifanes het in die jaar 168 vC ‘n altaar vir die Griekse oppergod Zeus, bo-oor ‘n gedeelte van die offeraltaar in die tempel in Jerusalem gebou, en die Jode verplig om varkvleis vir Zeus te offer. Hierdie “gruwel wat verwoesting aanrig”, en die heiligste plek van die Jode, op aarde verontreinig het, sal binnekort weer gebeur.
Kort na Jesus se hemelvaart, om en by die jaar 38, het die Romeinse keiser, Gaius, beveel dat ‘n standbeeld van homself in die tempel in Jerusalem opgerig word. Gelukkig vir die Jode, is Gaius dood voor sy standbeeld opgerig kon word. Jesus het egter met Sy leringe, hier verwys na nog ‘n gruwel wat die tempel gaan tref en voeg by dat “dié wat in Judea is, die berge in moet vlug.” Hulle wat in Judea is moet berge toe vlug sonder om eers hulle besittings en klere te vat. Swanger vroue en vroue met klein kindertjies sal dit ekstra moeilik vind om in dié tyd van groot verdrukking te vlug. Hulle moes vir geen oomblik aarsel nie, sodat hulle nie slagoffers van die groot verwoesting word nie.
Later, na die vernietiging van Jerusalem in 70 nC, het die dissipels goed verstaan wat Jesus bedoel het. Die wyse ding om in dié tyd te doen, was om te vlug omdat dit ’n baie uitdagende en onveilige tyd was vir families. En uit die beskrywings van die verwoesting van Jerusalem, veral die laaste ses maande van die oorlog, soos Josephus dit onder andere beskryf, was dit inderdaad die mees traumatiese tyd in die geskiedenis van die Jode. Die geloofsgemeenskap van Jerusalem het dan ook gehoor gegee aan hierdie waarskuwing van Jesus, gevlug en gaan bly in Pella, soos die kerkvader Eusebius te kenne gee, ’n redelike veilige omgewing. (Later meer hieroor).
Wanneer Jesus met Sy dissipels oor hierdie gruwelgebeure praat, moet ons dit nie as gebeure oor die eindtyd verwar nie, maar sien as “gebeuretyd.” Met ander woorde, Jesus praat oor belangrike gebeure wat Sy koms vooraf sal gaan en dis herhalend van aard. Swaarkry, teenslae, vervolging, is reeds van die vroegste tye aan die orde van die dag en elke geslag ken en ervaar dit. Maar dit roep my en jou as gelowiges op om op ons pos te wees en standvastig in die geloof te bly. Die “gedagte van vlug na die berge” wys op God se beskerming van Sy kinders in hierdie tyd. Die verwysing van Jesus na “die vrouens wat in daardie tyd swanger is of vir klein kindertjies moet sorg”, dui op God se besorgdheid oor Sy kinders.
God sal Hom oor die uitverkorenes ontferm. Aan Sy beloftes om die uitverkorenes te bewaar, sal Hy getrou bly. Ons weet nie vir hoe lank ons moet bly volhard of vasbyt nie, want ons weet nie wanneer die einde is nie, selfs die einde van Covid nie. Ons ken nie die toekoms nie, maar ons ken Jesus wat die toekoms in Sy hand hou. Ons ken nie die pad van haat, vervolging en pyn wat ons moet loop nie, maar ons ken Hom wat die pad aandui. Al kan ons nie al die waaroms beantwoord nie, ken ons deur die geloof dié God wat al die antwoorde het in Christus Jesus.
God het juis vir Jesus uit die dood opgewek om die sonde en die dood te oorwin en daarna die Heilige Gees vir ons gestuur om ons lewe as oorwinnaars in Christus te kan leef! Waar bevind ek en jy ons: Wag ons nog by die kruis of beur ons aan na die anderkant van die leë graf van die opgestane Jesus? Kan ek en jy vasbyt tot die einde toe? Sien ons die einddoel? Kan ons opstaan as ons geval het? Jesus Christus en Sy leë kruis, is die grond van ons hoop! Selfs vandag moet ons steeds op die uitkyk wees vir onheiligheid, selfs in die kerk, soos bv. die PEPUDA Wet waaroor ons onlangs berig het. Christus moet die fokuspunt van my en jou lewe bly oor wie ons nooit uitgepraat kan raak nie. Dan leef ons reg!
“Christus het die dag van Sy wederkoms versteek sodat ons gedurig in spanning moet verkeer en daarom op die uitkyk sal wees” (Martin Luther).
Gebed: Here, die wêreld om my is oorweldig met onrus en geweld wat werklike vrede net ‘n begrip maak en nie meer ‘n waarheid nie. Ons smag na vrede, daardie vrede wat van Uself kom. Dankie vir die innerlike sielevrede wat U aan my gee, ‘n vrede wat niemand van my kan wegneem nie want ek ken die Vredevors. Here, daarom bid ek dat U vir ons vrede gee in ons mooi land sodat ons opnuut u liefde, kalmte en vreedsaamheid sal ervaar. Verwyder die aggressie, onrus en liefdeloosheid van ons mense, hulle wat glo dat opstande en verwoesting van eiendom, ‘n oplossing sal bring. Skenk U vrede ook aan hulle. Amen.
Comments