top of page

Gedagte vir Vandag

20 Okt 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

DIE BELYDENIS VAN PETRUS (5)

(Mark. 8:27-30; Luk. 9:18-21)

DIE MESSIASGEHEIM!

Matt. 16:13,15,16 en 20 – “Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: ‘Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?’ ‘Maar julle,’ het Hy gevra, ‘wie, sê julle, is Ek?’ Simon Petrus het geantwoord: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.”

Vergelyk ook Jes. 9:5-6 – “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”

Jesus en Sy dissipels bevind hulle in die streke van Sesarea-Filippi, waar Hy eers vir hulle vra wie die mense sê Hy is en daarna by hulle wil weet wie hulle sê Hy is. Petrus tree as mondstuk van die dissipels en álle gelowiges op, en met plegtige presiesheid spreek hy die gewigtige belydenis uit dat Jesus “die Christus is, die Seun van die lewende God.” (Christus was nie ‘n naam vir Jesus nie, maar ‘n titel: die Messias of Gesalfde. Christus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord Messias, Gesalfde in Afrikaans). Die juistheid van Petrus se belydenis word deur Jesus erken en Hy prys selfs vir Petrus. Maar dan gebeur iets vreemds: “Jesus beveel sy dissipels om vir niemand te sê dat Hy die Christus (Messias) is nie.” Hoe werk dit, hoekom mag mense nie die waarheid omtrent Jesus weet nie?

Anders as vir ons wat Jesus se Messiasskap nou verstaan, het die Jode nie verwag dat die Messias, ook die Seun van God sou wees nie. Jesus het geweet dat die Jode van die Ou Testament die verwagting gehad het dat die Messias wat sou kom, hulle weer die vrye en magtige volk sou maak wat hulle in Dawid se tyd geken het (Jes. 9:5-6). Vir hulle was dit ‘n geweldige vernedering om as God se volk, onder ‘n heidense mag moes leef. Hulle het iemand soos Dawid verwag wat die Romeine uit Jerusalem sou verdryf. Die Joodse verwagting van ’n politieke Messias wat in heerlikheid sou kom om die heerskappy op aarde oor te neem, moes eers vervang word met die Christelike Messiasverwagting van Een wat in nederigheid sou kom om te ly en te sterf, en dan die heerlikheid in te gaan.

Jesus het geweet dit sou die mense verwar indien hulle Hom as Messias sou sien. Selfs Sy dissipels het, ten spyte van Petrus se belydenis, gedink Jesus is op pad Jerusalem toe om te gaan regeer, en nie om verwerp te word nie, wat nog te sê om te sterf aan ‘n kruis. Jesus wou ook nie as wonderwerker beskou word nie want dit is net die helfte van die waarheid dat Hy Messias is. Daarom het Hy elke keer ná ‘n wonderwerk, die mense belet om Sy Messiasskap bekend te maak en telkens oorskakel van Messias na “Seun van die mens” (82 keer in die Nuwe Testament.) Die Jode en Sy dissipels moes Hom ook leer ken as die lydende Kneg van God. Die feit dat Hy die Messias is, moes derhalwe voorlopig as ’n geheim bewaar word totdat Hy aan die kruis as Messias sterf en opstaan.

Om te weet wie Jesus Christus regtig is, moet ons Hom as wonderwerkende Seun van God én as lydende Messias raaksien. Is daar nie vandag dalk nog mense wat hulle eie verwagtings skep van wat Christus veronderstel is om te doen nie? Veronderstel om so ’n soort Gelukbringer te wees, die Een vir Wie ek gou ’n boodskappie kan stuur en dan help Hy my uit elke klein ongemakkie en elke moeilike situasietjie waarin ek dalk kan beland; en as ek iets wens of iets wil hê, dan spring Hy om dit gou vir my te doen en te gee? Nee, die tyd van Jesus se regering as die verheerlikte Messias op die nuwe aarde lê nog in die toekoms, die dag wanneer Jesus Christus weer kom (Fil. 2:9-11).

Blote assosiasie met Jesus die Messias, is nie genoeg nie. Lidmaatskap van ‘n kerk en kerkbywoning, is nie genoeg nie. Ons moet Jesus erken as die Een wie “die ware God gestuur het” (Joh. 6:28b). God se Gesalfde het Gód se agenda kom uitvoer, nie ons s’n nie. Hy’t gekom om ons die volle waarheid oor God en oor onsself te kom vertel, nie net die stukkies daarvan wat ons graag wil hoor nie. En Hy’t gekom om grusaam te kom ly vir die sondes wat óns gedoen het, om ons met God te versoen – ons elkeen wat deur die Heilige Gees daartoe gebring is om te aanvaar dat dit wat Hy gedoen het, vir mý ook gedoen het.

En Hy’t gekom, nie om oorlog te maak teen die vyande wat óns haat en uit die pad uit wil sien nie, maar om oorlog te kom voer teen dit wat Gód haat: die sonde in ons …! Jesus, die Gekruisigde, is Christus, nie Iemand in die geheim nie, nie die Christus wat óns Hom wil maak nie, maar die Een wat Sy Váder Hom gemaak het – ons Verlosser, die Messias wat in heerlikheid weer sal kom!

Om die grootste voordeel te put uit ons geloof en om die volheid te ken wat die lewende Messias ons aanbied, is dit noodsaaklik dat ons Jesus persoonlik sal ken. Dit beteken ‘n totale oorgawe aan Hom en onwrikbare oortuiging dat Hy ons Verlosser is. Dit beteken dat ons Sy Gees sal toelaat om beheer van ons lewe te neem. Is jy bereid om dit te doen? Dit is immers waarvoor Jesus Homself vir my en jou gegee het, en dis geen geheim nie!

“Sonder Christus Jesus is die mens onvermydelik in sonde en ellende; met Hom is hy vry van sonde en ellende. In Christus lê ons geluk, ons lewe, ons hoop. Goddank, Jesus is die Christus!”

(Dr. Andries Odendaal).

Gebed: Jesus Christus, Seun wat naaste aan die Vader is, dit is só tragies dat die Jode van destyds, U verwerp het. Hulle moes eintlik U met ope arms ontvang het want U ken God en het Hom kom bekend stel. U kom van God; U is God uit God, die besondere Gesant van God, en tog het sommiges van hulle geweier om U te aanvaar. Ai Here, en nou moet ek vandag bely, daar is vandag steeds mense wat U nie wíl ken of herken nie en U verwerp. Daarom wil ek saam met Paulus bid dat hulle geloof in U sal groei en hulle met hulle mond sal bely dat U die Here is en met hulle hart sal glo dat God U uit die dood opgewek het, sodat hulle gered kan word. Amen.

 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page