Gedagte vir Vandag
Vrydag, 2 Julie 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (120)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se vyfde toespraak: Sy laaste gesprek met die dissipels op die Olyfberg (5)
(Matt. 24:1–25:46)
Die profetiese rede: rampe en vervolging (4)
(Mark. 13:3-13; Luk. 21:7-19)
Die bloedbevlekte pad van ‘n Christen!
Matt. 24:9-10 – “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat.”
Vergelyk ook 1 Pet. 1:3b-4 – Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.”
Matteus teken verder met Jesus se woorde, die skrikwekkende tyd van rampe en vervolginge wat Sy koninklike koms vooraf sal gaan. Vervolginge wat baie gelowiges sal dryf tot afvalligheid en haat. Die stryd teen Christus sal so bitter wees dat diegene “wat sy Naam bely”, deur almal wat teen Hom is, gehaat sal word. Die Naam van Jesus sal skeiding bring onder die mense. Aan wêreldlike en kerklike regbanke sal hulle oorgelewer word, waar hulle liggaamlik en geestelik gepynig sal word. Die haat teen die gelowige sal so toeneem dat dit selfs die hegste eenheidsband onder die mense, die familieband, sal verbreek. Lede van dieselfde huisgesin sal teen mekaar geweld gebruik omdat sommige die Naam van Christus bely (Luk. 21:16).
Een van die formidabele uitstaande kenmerke van Jesus terwyl Hy op aarde was, is Sy suiwere en onkreukbare eerlikheid. Jesus het nooit gesê dat Hy aarde toe gekom het om die lewe vir Sy volgelinge maklik of selfs gemaklik te maak nie. Wanneer ons vandag rondom ons kyk, kan ons nie anders as om Jesus se woorde ernstig ter harte te neem dat ons in die eindtyd leef nie. Die waarheid hiervan het die apostels reeds in hulle eie tyd begin beleef (Hand. 4, 5, 16, 17, 18).
Die vroeë Christene het dit ook nie maklik gehad nie. Menigte se lewenswandel is omvergewerp omdat hulle volgelinge van Jesus geword het of volgelinge was. Hulle Christenskap het hulle sosiale lewe uiteengeskeur. Selfs families is geskei omdat sommiges van hulle lojaal aan Jesus was en ander nie. Die enigste “misdaad” wat hulle gepleeg het was om Jesus te kies bo Romeinse wette en gode, en dit het duisende se lewe op die wreedaardigste maniere gekos. Deur al die eeue heen tot vandag toe nog, is daar steeds, sóveel ellende en vervolging onder die kinders van God.
Kom ons val met ‘n paar moeilike vrae by die deur in: Hoeveel pyn is ek en jy bereid om te vat vir ons geloof? Tot watter punt is ons bereid om gemartel te word vir ons geloof, of nog erger, is ons bereid om te sterf vir ons geloof? Sal ons bereid wees om ons kinders en geliefdes se marteling en dood te aanskou vir ons geloof?
Sjoe, dis moeilike vrae en ek is huiwerig om ‘n antwoord te waag, want sê nou maar net ek kom een of ander tyd wél voor so ‘n kruispad in my lewe! Kyk net hierdie wonderlike getuienis van Paulus. Soos die Engelse sê: He practiced what he preached: “Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ‘n Christen te wees. Dit is ‘n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer” (2 Tim. 2:10-12).
As ’n mens só ’n getuienis lees, voel jy sommer sleg omdat jy nie hierdie tipe swaarkry ken nie. Nêrens in ons lewens is daar sprake van hierdie vlak van swaarkry nie. Ons is deel van ’n wonderlike geloofsgemeenskap waar ons vrylik vir God kan aanbid. Niemand kyk ons skeef aan wanneer ons oop en bloot met ons netjiese klere na ’n gebou ry om kliphard God se lof te besing nie. Die probleem is egter dat wanneer dit goed gaan, ons eintlik nie meer vir God nodig het nie. Of só dink ons. Ons dink ons kom eintlik goed op ons eie reg en dan sluip ons geloof by die agterdeur uit. En satan is heel tevrede.
Hoekom is dit so maklik vir ongelowiges om Christene te haat en te beledig? Wat is dit dat Christen-regverdigheid, ongelowiges laat aanstoot gee en selfs laat verag? Omdat Christene anders is as die wêreld! Daarom moet die swaarkry van Paulus en al die ander geloofshelde, vir ons ‘n aansporing wees om seker te maak dat ons geloof sterk en standvastig bly. Dan is dit tyd om om na God se Woord te keer. Dáár is lig en liefde. Dáár is hoop en vrede. Dáár is verlossing. Dáár is die antwoord. Dan kan dit weer vir ander wat nog in die duister staan, ook dalk oortuig om in Jesus Christus te glo.
Intussen, terwyl ons wag vir Jesus se beloftes om waar te word, wéét ons “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom” (Hand. 14:22). Maar, gelukkig wéét ons ook ons kan vashou aan “’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir ons in bewaring gehou word” en “omdat ons glo, word ons ook deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar sal word” (1 Pet. 1:5). Ons gelowiges hét die versekering dat God die verloop van die wêreldgeskiedenis in Sy hand hou. Ek is bereid om te wag, en jy?
“The goodness of the Lord is stronger than evil; His love is stronger than hate; His light is stronger than darkness; His life is stronger than death; His victory is ours through Him who loves us” (Desmond Tutu).
Gebed: Ons dierbare Vader, dankie dat U by my is wanneer ek beledigings moet verduur omdat ek ‘n dissipel van U wil wees. Soms voel ek platgeslaan en dreig moedeloosheid om beheer van my te neem. Dit is dán wanneer U my weer op my knieë bring, die beste plek om te wees om met U te kan praat én na U te luister. Help my om passievol aan U vas te klou, om myself te verloën en my kruis op te neem, positief op my swaarkry te reageer, nie om moedeloos te raak nie en te besef dat U my nooit alleen sal laat nie. Amen.
Comments