top of page

Gedagte vir Vandag

Maandag, 24 Mei 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (92)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (38)

(Matt. 21:1–22:46)


Die vraag oor die grootste gebod (1)

(Mark. 12:28-34; Luk. 10:25-28)

Met my hele hart, my álles!


Matt. 22:34-40 – “Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, ‘n wetgeleerde, het Hom met ‘n vraag probeer vastrek. ‘Meneer,’ vra hy, ‘wat is die grootste gebod in die wet?’ Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”


Die Fariseërs het hulle vorige ronde teen Jesus met hulle vraag oor die belasting verloor (Matt. 22:15-22), maar na die soveelste bloutjie wat hulle al geloop het, gooi hulle steeds nie tou op nie. Hulle probeer weer om Jesus se goeie naam in die openbaar deur die modder te sleep. Sou hulle daarin slaag, dan sou hulle eie eer in die oë van die skares wat Jesus volg, geweldig styg, terwyl Sy volgelinge dan op Jesus sou neersien. Hulle span daarom een van hulle beste manne, “’n wetgeleerde in om Jesus met ‘n vraag oor die grootste gebod in die wet, te probeer vastrek.”


Ter agtergrond moet ons onthou, die Jode het honderde godsdienstige wette en tradisies gehad waaraan hulle moes vashou. Die Fariseërs het die meeste waarde aan die wet geheg en het daarom ook die wette noukeurig geken sodat hulle dit aan hulle volgelinge, die volk, kon leer en sorg dra dat die volk dit nakom. Élke wet was vir hulle ewe belangrik en hulle wou probeer om Jesus daartoe te bring om uit die rykdom van God se gebooie, één allesomvattende gebod as die belangrikste uit te lig. Dit sou dus vir Jesus moeilik wees om enige gebod as die “grootste gebod in die wet” uit te sonder. Maar Jesus laat Hom nie op hierdie manier skaakmat sit nie, en noem die kern van alle gebooie: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Markus en Lukas voeg “en met al jou krag” ook by (Mark. 12:30; Luk. 10:27).


Teen hierdie tyd was Jesus seker al moedeloos om aan die godsdiens- en volksleiers te probeer verduidelik dat Hy die Messias is, dat die koninkryk van God naby hulle gekom het. Ten spyte daarvan dat hulle vrae daarop uit is om Hom in ‘n strik te vang, reageer Hy nie met agressie nie, maar juis in liefde, want God is liefde! Wat ‘n wonderlike Jesus om dit van ons te verwag, om die Here ons God lief te hê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en al ons kragte.” God het ons immers geskep volgens Sy beeld, Sy verteenwoordiger, en om dié rede besit Hy ons (Gen. 1:26). Hy is dus inderdaad dit werd, ja duisend maal werd, dat alles in my en jou Hom sal liefhê met ons álles.


Maar ai tog, ons is eerder geneig om die “hele” te verdeel in stuksgewys – om stuksgewys iets van ons te gee, in plaas van ons “hele self!” Ons gun Hom met flentertjies van ons tyd: Sondae ‘n uur vir kerk; gou-gou bid wanneer ek iets nodig het; Hom leer ken uit sy Woord net voor ek gaan slaap (wanneer ek na my besige dag dalk tyd kry daarvoor.) Hom nader trek in gebed wanneer dit swaar gaan want dan dink ons mos anders aan God as wanneer dit goed gaan. Ons gewetens word daagliks gekonfronteer met hierdie keuse voor die altaar: God, of ’n paar korreltjies, flentertjies wat êrens oorgebly het wat ons nie kon gebruik nie?


Die betekenis van die hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en al ons kragte” impliseer dat ons God sal liefhê met ‘n bewuste gevoel, nie net in ons harte nie, maar in ons daaglikse handel en wandel én met ons denke en ál ons kragte. Lees gerus Deuteronomium 6 waar die volk (en ons) gemaan word om die Woord selfs by ons kinders in te skerp, daaroor te praat in ons huise, wanneer ons op pad is, gaan slaap en opstaan – áltyd! En dit met ywer te doen, nie uit gewoonte nie! Maar Here, ek het ander belangrike dinge ook om te doen …! Ek moet nog …, ek wil nog …, ek gaan nog …, dan sal ek meer tyd gee aan U, eendag. “Jesus antwoord my en jou: ‘Luister …, (VUL JOU NAAM HIER IN), die Here ons God is die enigste Here. Ons moet Hom liefhê met ons álles” (Mark. 12:29-30). En nie eers eendag nie, nóú, vandag, élke dag!


Dat die Here ons enigste God is, hou in dat ons Hom alleen kan vertrou. Daar is niks anders bo Hom of naas Hom waarop ek en jy kan staatmaak nie, daar is nie ‘n duimbreedte van ons lewe waaroor ons seggenskap het nie. Hy het met ons hele lewe te doen, daarom behoort ons Hom met ons hele lewe te vertrou en Hom met ywer dien. Wanneer ek en jy ons 100% aan God oorgee, verloor ons niks van onsself nie. Inteendeel, ons ontdek 100% onsself by God. Mag ons God bewustelik liefhê, waar ek en jy ook al gaan, met ons emosies, in ons reaksies, in ons gedagtes en selfs besluitneming. Kom ons leef “Godbewus” en Hy sal ons deur sy Gees openbaar wat dit regtig beteken! Omdat Hy die enigste God is en Hy alleen ons aanbidding en liefde waardig is, het God die reg om teen alles wat ons van Hom skei, te wees omdat ons heeltemal, 100%, net aan Hom moet behoort!

“Ons is mense wat van die operasiesaal opspring voor die operasie voltooi is, voor die hart van tweespalt verlos is, daarom kan ons God nie ten volle liefhê nie” (Helmut Thielicke).


Gebed: Hemelse Vader, my enigste begeerte is om aan U my hele hart, my begeertes en my siel te gee terwyl ek op U vertrou vir my kragte daarvoor. In U krag kan ek met vrymoedigheid in gebed U genadetroon nader en pleit: Leer my asseblief hoe om U volkome lief te hê! U liefde vir my slaan my asem weg. Ek kan dit nie verstaan nie, ook nie verdien nie, maar ek wil dit met alles in my, aangryp. Here Jesus, dankie dat U liefde vir my so groot is dat U selfs die hemel prys gegee het om mens soos ek te kom word, dat U selfs U lewe vir my gegee het, sodat ek mag lewe. Here, gee dat U liefde my sal verander.Amen.


Opmerkingen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page