Gedagte vir Vandag
Donderdag, 20 Mei 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (90)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (36)
(Matt. 21:1–22:46)
Die vraag oor die opstanding uit die dood (2)
(Mark. 12:18-27; Luk. 20:27-40)
Geloof oorwin vrees vir die dood!
Matt. 22:29-33 – “Maar Jesus antwoord hulle: ‘Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes. Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.”
Jesus wys die Sadduseërs tereg oor hulle foutiewe Skrifverstaan. Hulle het gedink hulle sou Hom met hul goeie saamgeflanste en leerstellige vraag oor die opstanding, vastrek. Maar Jesus se antwoord, in die vorm van ‘n teenvraag, is in ‘n mate verwytend oor hulle “nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” Jesus haal aan uit dieselfde boeke van die Pentateug wat hulle erken het en troef hulle dus met opvattings in terme van ’n noukeurige lees van dieselfde deel van die Bybel as wat hulle lees. Die opstanding – waarin hulle nie glo nie – is anders as wat hulle hul ingedink het. Daar trou mense nie en die dooies lewe in ’n ander staat, soos die Bybel reeds leer dat “God die God van Abraham, Isak en Jakob is,” alles gestel in die teenswoordige tyd. Jesus stel Hom gelyk aan God en beklemtoon dat Hy God is oor die aartsvaders wat “lankal al gesterf het.” Daarmee verklaar Jesus dat Hy dus “God is van die lewendes” en bevestig só Sy voortgaande verhouding met hulle.
Jesus wys daarop dat die lewe hierna in God se wêreld, volkome anders sal wees. Dit sal nie ’n voortsetting van die aardse verhoudinge wees nie, maar ’n herskepping en verheerliking deur die mag van God. Hier op aarde is dinge op die mens gerig, maar dáár sal alles op God gerig wees. Daar sal geen huwelik nodig wees nie omdat die mense “nie meer sterwe nie en dus nie hoef voort te plant nie, en ook sal hulle soos engele wees, en as kinders van God” (Luk. 20:36) sal hulle in die verhouding tot die Vader hulle volkome geluksaligheid vind. Daarom is dit ’n kinderagtige dwaling om te wil meen dat elke man hierna weer ’n vrou sal hê. In God se wêreld speel trou en voortplant geen rol meer nie.
Ons lewe in die nuwe skepping gaan op ‘n heeltemal ander vlak wees. Dis nie bloot drome of verdigsels nie, dis God se boodskap daaroor – die Bybel sê so. Markus 12:25 en Lukas 20:34-35 sê: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, maar die wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie.” Dit lyk dus vir my asof ons verhoudings in die hemel heeltemal anders gaan werk as op die aarde. In die hemel gaan ons nie meer huweliksmaats wees nie, maar ons hoef nie bang te wees dat ons iets gaan mis nie, nee, die Here gaan ons lewens daar totaal vervul.
Ons hoef nie meer te vrees vir die onbekende wat baie van ons oorweldig nie. Ons hoef nie meer bang te wees vir die dood nie, want Jesus het klaar daardie pad namens ons baklei en oorwin. Kom ons sê dit weer vir mekaar: Omdat ons in Jesus glo, omdat ons glo dat Hy die pad deur die dood klaar gestap het, omdat Hy die dood oorwin het, kan ons rustig wees oor die dood. Ons gaan onsself in die teenwoordigheid van die Here bevind. Daaroor bestaan daar gelukkig géén twyfel nie: “Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons lief het. Hiervan is ons oortuig: geen dood of lewe of wat ook al in die skepping, sal ons van die liefde van God skei nie” (Rom. 8:38-39).
Dit klink vir my asof ons dan darem ‘n wonderlike faset van ons aardse bestaan, nie in die hemel gaan misloop nie. Na alles is een van die wonderlikste dinge wat hier op aarde met ons kan gebeur, ‘n gelukkige huwelikslewe waar twee mense mekaar liefhet, aanvul en bystaan. Ons sal nie in die hemel daarna terugverlang nie. As ons so dink, maak ons dieselfde fout as die Sadduseërs – ons onderskat die krag van God om in aardse terme, oor hemelse sake te dink. Hy gaan ons lewe so vul, dat daar geen ander verlange meer gaan wees nie. Ons sal nie mense nodig hê om ons gelukkig te maak nie, God sal dan alles wees vir almal! “En so sal ons altyd by die Here wees. Kom ons troos mekaar met hierdie woorde” (1 Tess. 4:18). Kom ons vertel hierdie goeie nuus vir ander en moedig mekaar aan om dit te glo!
“Die Christelike geloof is ‘n opstandingsgeloof. Die konsep van opstanding uit die dood vorm die hart daarvan. Neem dit weg, en jy vernietig die hele Christelike geloof” (John Stott).
Gebed: Here, ons Here, hoe wonderlik is dit nie dat U kruisdood en opstanding, vir altyd die angel uit die dood kom haal het. Alhoewel die dood ontwrigtend, onbekend en vol hartseer bly, weet ek om dit nie meer te vrees nie, want U het reeds in my plek daardeur gegaan en U gaan by my wees wanneer ek sélf die onbekende moet betree. Dankie dat U my saamneem op U triomftog deur tyd en ewigheid. Dankie vir die versekering dat niks of niemand my óóit van U liefde kan skei nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus, die Oorwinnaar oor die dood. Amen.
Comments