Gedagte vir Vandag
Vrydag, 14 Mei 2021
Koos Espach
JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (86)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (32)
(Matt. 21:1–22:46)
Die vraag oor betaal van belasting (3)
(Mark. 12:13-17; Luk. 20:20-26)
Die staat soek ons geld; God soek ons álles!
Matt. 22:18-22 – “Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: ‘Huigelaars! Waarom stel julle vir My ‘n strik? Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.’ Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, en Hy vra vir hulle: ‘Wie se kop en naam is hierop?’ ‘Die keiser s’n,’ antwoord hulle. Jesus sê vir hulle: ‘Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.’ Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.”
Op die Romeinse muntstuk het die beeld van keiser Tiberius verskyn met die inskrywing “seun van god.” Vir die Jode was dit ‘n oortreding van die eerste en die tweede gebod om hierdie munte te gebruik. Hulle het daarom ook hulle eie munte gebruik sonder enige afbeeldings of inskripsies. Vir die tempel moes alle ander munte dan ook by die geldwisselaars omgeruil word vir tempelgeld. Hoewel daar Joodse munte sonder die keiser se afbeelding in Palestina beskikbaar was, moes hulle vir belasting (soos elders in die Romeinse Ryk) die silwer munt (’n soldaat of arbeider se dagloon) met die keiser se kop daarop gebruik.
Maar, omdat Jesus hulle bose bedoelings geken het en geweet het van hulle duiwelse spel wat in die vroom vraag opgesluit lê, spreek Hy hulle as “huigelaars” aan en ontmasker eintlik die vraestellers. Hier in die tempel versoek Hy om die silwermuntstuk waarmee die belasting betaal moes word, te mag bekyk. Ironies is dit ‘n Romeinse muntstuk waarop die keiser se afbeelding en inskripsie aangebring is, wat hulle aan Hom gee en nie ‘n tempel muntstuk nie. Dit was ’n algemene beskouing dat die heerskappy van die keiser so ver strek as wat sy muntstukke gebruik word. Dus, aangesien die beeld en opskrif op die geldstuk dié is van die keiser, staan almal wat die munt gebruik onder die heerskappy van die keiser, en is hulle belastingpligtig.
Die vraag was daarom oorbodig. Wie die keiser se munt gebruik het, het ook sy gesag erken. Elkeen wat die keiser se munt gebruik, onderstreep die etiese beginsel dat ’n mens gehoor moet gee aan die ekonomiese stelsel waarbinne jy leef. Kortom, “gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort.” So iemand is belastingpligtig. Hoewel Jesus se teenstanders van die begin af ‘n onskuldige indruk probeer skep het om Hom te sus met ‘n gewetensvraag, wou hulle godsdiens en politiek behandel, en dit terwyl hulle al die tyd sélf met 'n muntstuk van die keiser in hulle sakke rondloop sonder dat dit hulle enigsins gepla het! Wees dus konsekwent, “gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Die Fariseërs en die Herodiane, slaag nie in hulle planne nie, en kry só ’n antwoord dat “toe hulle dit hoor, hulle verbaas was en Hom met rus gelaat en weggegaan het.”
Dan is daar ook ’n ander kant van die saak: Jesus plaas die pligte teenoor “die keiser en God” nie teenoor mekaar nie, maar langs mekaar. Aan God moet ewe-eens betaal word wat aan Hom verskuldig is. Vir Jesus is die mens aan ’n tweërlei onderwerping onderhewig: aan die owerheid en aan God. Die staatkundige owerheid is nie die hoogste gesag in hierdie lewe nie, maar die heerskappy van God. En Sy heerskappy sal erken word deur die Gesant wat Hy gestuur het, te erken en as Messias te aanvaar. Juis hierin het die teenstanders van Jesus versuim. Hulle wou van die betaal van belastings, politiek met ’n godsdiens meng deur te vra wat die voorskrif van die wet daaromtrent was. Nou hoor hulle dat hulle ook “aan God moet gee wat aan God behoort,” naamlik gehoorsaamheid. As hulle dit wou doen, sou hulle erken dat Jesus deur God gestuur en op Sy gesag alles doen wat Hy gedoen het.
Wat in werklikheid aan die keiser en wat aan God behoort, word nie deur Jesus omskrywe nie. Dit is ‘n besluit wat ek en jy telkens in elke nuwe situasie en opnuut, self moet neem! Jesus se antwoord beklemtoon dat ons “aan God moet gee wat aan God behoort.” Die staat vra my en jou geld, maar God vra ons hele lewe! “Die wêreld en alles daarop asook die wat daar woon behoort aan die Here” (Ps. 24:1). Die geld het die “keiser” se beeld daarop, gee dit dan vir hom. Daarenteen is ek en jy geskep na die beeld van God (Gen 1:26), daarom behoort ons aan God.
Die eintlike vraag is dus nie oor belasting of ons verpligting teenoor die staat nie, maar wie die eintlike koning van ons lewe is? Ons kan ons begrotings verdeel vir verskeie sake, iewers hou ons verpligting teenoor die staat op. Maar ten diepste behoort alles aan God. Nie net ons besittings nie maar ook onsself, geheel en al, behoort aan God. Ons verpligtinge jeens God hou nooit op nie. Hy vra ons hart en ons lewe. Gee ek en jy onsself aan God? Gee ons vir God wat Hom toekom? Waarin kan dit gesien word?
“God verlang nie “iets” van ons nie. Hy wil onsself vir Homself hê. Nie ons verdienste nie, maar ons self; nie ons werke nie, maar ons begeertes, ons persoonlikheid, ons hart – oorgegee aan Hom”
(Emil Brunner).
Gebed: Here, soos U weet leef ons in ‘n wêreld waar elke minuut miljarde bestee word aan verskillende materialistiese uitgawes, baie daarvan wat verkwis word omdat ons die wêreld verdeel in kompartemente sodat ons daaroor kan heers. Begrotings word aangewend vir verskeie “noodsaaklikhede” maar intussen kom ons nie ons skeppingstaak na wat U aan ons opgedra het nie. Ek meen Here, welvaart word deur ‘n paar geniet en is so ooreet dat hulle gedurig op ‘n dieet is, terwyl miljoene hopeloos ondervoed is. Vergewe ons, temper ons selfsug sodat ons opnuut besef, ons verpligting jeens U hou nooit op nie. Skenk ons die insig om kreatiewe planne te maak om op ‘n meer gelyke basis die gawes wat U aan al U kinders gee, te verdeel en te benut, sodat almal kan deel in U skepping, want Here, “die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat hier woon, alles behoort aan U” (Ps.24:1). Amen.
Comments