top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE EERSTE VERMEERDERING VAN DIE BROOD (4).

(Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Joh. 6:1-14).


JESUS VERRIG WONDERS MET ELKEEN SE GOEIE GESINDHEID!


Matt. 14:20-21 – “Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.”


Vergelyk ook Joh. 6:12-15 – “Nadat die mense versadig was, sê Hy vir Sy dissipels: ‘Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.’ Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: ‘Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.’ Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.”


Die bymekaarmaak van die kos wat oorgebly het, was ‘n Joodse gewoonte. Al vier Evangelie skrywers beklemtoon dat dit porsies was “van die vyf garsbrode wat oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.” Dit het dus nie van elders gekom nie. Die brokstukke was beslis oorblyfsels van die seuntjie se karige bydrae wat hy na Jesus toe gebring het. Dit was nie veel nie maar wat hy gehad het, kon Jesus gebruik. Die geskiedenis sou soveel armer wees indien daardie seuntjie geweier het om sy broodjies en vissies te deel. Min het hy besef hoe hy deel van Jesus se wonderwerk geword het deur sy karige kospakkie aan Jesus af te staan. Wat werklik saakgemaak het, was nie die soort gawe nie, maar die soort gesindheid agter die gawe!


Jesus kan alles gebruik wat ons na Hom toe bring, al is dit nie veel nie. Miskien voel ons te verleë om die min wat ons het, na Hom te bring maar dit is geen verskoning om steeds te bring nie. Alles behoort buitendien aan Hom en my karige deeltjie kan dalk nét ‘n bydrae lewer om te help met koninkrykswerk. Min is baie, in die hande van Jesus Christus!


Behalwe die wonderwerk dat Jesus aan almal genoeg verskaf het om te eet uit die min voorraad op hande, gebeur nog ‘n wonderwerk met die bymekaarmaak van dít wat oorgebly het. “Omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders”, is versadig en die voorraad is nou groter as dié waarmee hulle begin het. Elkeen van die twaalf dissipels bring sy mandjie vol terug – ‘n mandjie vir elke dissipel? Die betekenis van die wonder lê nie soseer in Jesus se versorging van die skare nie, as eerder in die onderrig wat Hy aan sy dissipels gegee het. Hulle moes leer om volstrek op Jesus te vertrou, en te weet dat as Hy by hulle is, die menslik onmoontlike dinge in die geloof onderneem kan word.


Die grootheid van die wonders het die mense laat besef dat Jesus werklik ’n gesant van God is. Hulle is oortuig dat Jesus ’n Man is deur wie God op ’n besondere wyse werk en dat Hy die Profeet is wat sou kom (Deut. 18:15-19), maar nie net na die Jode nie, “na die wêreld.” Die hoop vlam op dat dit juis Hy is wat deur God gestuur is om die volk uit die Romeinse onderdrukking gaan bevry. Hulle het uitgesien na ’n koning wat die volk sou kon lei tot staatkundige onafhanklikheid en die koninkryk van Dawid sou herstel. Nou sien hulle in Jesus die regte man. Hulle wil Hom daar en dan Jerusalem toe neem en as koning proklameer. Maar Jesus sien hierdie beweging as ’n nuwe versoeking van die Satan (Matt. 4:8), en Hy ontwyk die mense deur “verder die berg op te gaan,” totdat Hy heeltemal alleen was.


Jesus het geweet die menigte was nie aan Hom verknog omdat hulle Hom as hulle Messias wou volg nie. Hulle het iemand gesoek wat hulle kon bedien en na hulle sorge omsien. Hierdie Man, wat hulle broodnood verlig het, kan mos al hulle probleme oplos. Dis mos ‘n koning se werk en plig om sy mense te onderhou – “Wat kan Hy nie alles vir mý doen nie?” – hý moet hulle koning wees! Maar, wat hulle egter nie besef het nie, Jesus het nie gekom om net ‘n paar Jode van die eerste eeu teen die mag van die Bose te red nie, maar die hele wêreld van alle eeue!


Daar is vandag nog steeds baie mense wat Jesus verkeerd verstaan en só 'n tipe Jesus wil hê soos die destydse massa. Hulle wil hê só 'n Jesus moet Sondae van die kansel af gepreek word. 'n Jesus wat vir hulle kan bedien; ‘n Jesus wat dáár is vir hulle. Iemand wat hulle hongerpyne kan stil of hulle Vryheidsvegter kan wees om hulle polities te bevry. Terwyl die Jesus van die Bybel die Seun van God is, kan ons nie met ons moderne harte allerlei modelle van Hom maak wat nie ooreenstem met Wie en Wat Hy is nie. Hy het ons kom vry maak van die bande van die dood en die verderf.


Die seuntjie het sy karige kospakkie van vyf broodjies en twee vissies gegee; Jesus Christus het Sy lewe vir my en jou gegee. Die wonder is dat Hy as genadige Voorsiener, met liefde aan ons behoeftes voorsien op Sy manier en Sy tyd. Wat kan ek en jy Hom aanbied, al is dit hóé karig?


“Dit is só waar van sekere Christene. Hulle waardeer die etiek, is vertroud met die leerstellings, maar hulle het nog nie die innerlike geheim wat daaraan buitengewone waarde gee, ontdek nie” (Christian Alliance).


Gebed: Jesus, ons Here, baie mense is soms só geneig om ‘n model aan U te koppel wat nie ooreenstem met U groot voorbeeld van ware menslikheid en liefde nie. Ek is ook geneig om te vra: “Wat sou Jesus doen?” Die probleem is dat baie mense nie weet wat U sou doen nie, want hulle ken U nie. Dit is dan wanneer hulle U wil verander tot die Jesus wat by hulle pas, die Jesus waarvoor hulle kans sien, wat U vir hulle kan aanbied. Here, verander daardie harte sodat almal besef, U is dié Seun van God. Wat werklik saakmaak, is dat elkeen hulself, in wederliefde aan U moet aanbied, maak nie saak van die soort gawe nie, maar die gesindheid agter die gawe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page