Gedagte vir Vandag
Ons herinner elkeen daaraan om vanaand, Dinsdag 26 Mei, om 19h00 in te skakel by NG Fochville-Noord se Facebook blad en te luister na ons aanlyn-Pinksterdiens. Die reeks se tema is “HELDER DINK, KIND VAN GOD”. Indien julle nie Facebook het nie, skakel in op ons Kerk se Webblad by http://www.ngfochvillenoord.co.za/e-kerk. Kom ervaar saam met ons gemeente, geloofsgemeenskap in Pinkstertyd op 'n nuwe manier.
JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.
(Matt. 11:2-12:50)
DIE JODE NEEM AANSTOOT TEEN JESUS SE BEDIENING AAN TOLLENAARS EN SONDAARS.
(Matt. 11:2-19)
JESUS EN DIE VRAAG VAN JOHANNES DIE DOPER (3)
(Luk. 7:18-35)
ONTDEK JOU WARE IDENTITEIT!
Matt. 11:7-11 – “Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: ‘Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ‘n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ‘n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ‘n profeet. Dit is hy van wie daar geskrywe staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad voor jou regmaak.’ ‘Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.”
Met die vertrek van Johannes die Doper se volgelinge, spreek Jesus ’n getuienis oor hom uit in die vorm van drie retoriese vrae aan die volk, gevolg met ’n plegtige verklaring. Jesus verwys Sy luisteraars na die tyd wat die Doper in die woestyn opgetree het (Matt. 3:1-12). Wat húlle na Johannes toe getrek het was beslis nie 'n heen en weer waaiende riet op die Jordaan se walle nie. Almal weet tog dat hy met standvastigheid en oortuiging sy roeping uitgevoer het en met geen sweem van onsekerheid, Jesus aangewys het as die Lam van God wat die sonde van mense sou wegneem (Joh. 1:29, 36). Hy was ook nie een met weeldelus, ’n koning wat in ’n paleis woon nie, maar ’n boeteprediker gekleed soos Elia van ouds (2 Kon. 1:8).
Hulle het die verwagting gehad dat hy ’n profeet was. Met groot beslistheid antwoord Jesus dat die Doper “meer was as ’n profeet,” meer as 'n gewone profeet van die ou bedeling, hy was die wegbereider van die Messias: “Dit is hy van wie daar geskrywe staan: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak’ (Mal. 3:1). In Maleagi was Esra die boodskapper wat vir die volk wat in ballingskap was, die pad vir die Here moes regmaak. Soos Esra van ouds, word die Doper in Jesus se tyd, die een wat die dag van die Here aankondig. Johannes doen meer: Hy kondig Jesus self aan, iets wat geen ander profeet voor, of na hom, beskore was nie. Daarom verseker Jesus ons: “Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie.”
Hierin bevestig Jesus sy onverbeterlike bewondering van Johannes. Van al die profete is daar nie een wat met hom vergelyk kan word nie. En dan voeg Jesus verrassend, amper skokkend by: “En tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.” Net toe die volk en al ons Christene, Johannes op ‘n voetstuk wil plaas, en dalk wonder hoe ons ook soos hy kan wees, sê Jesus dat Johannes die Doper nog maar op die grens van die koninkryk is. Dié wat reeds tot die koninkryk toegetree het, is groter as hy omdat vir hulle die beloftes wat God by monde van die profete én Johannes gegee het, in vervulling gegaan het. Dit het Jesus en Sy kruis geneem om ons die lengte, breedte, hoogte en diepte van God se genade en liefde te wys. Die profete en die Doper kon net profeteer daaroor, ons gelowiges, wéét dit verseker!!
Elke mens wat die kruis van Jesus sien, sien die hart van God wat geen mens voor daardie “Goeie Vrydag”, twee duisend jaar gelede, gesien het nie. Is dit nie ongelooflik dat Jesus gesê het dat ons die geleentheid sal hê om selfs groter as Johannes die Doper in die koninkryk van God, sal wees nie? Ek meen, Johannes was die sogenaamde “wêreldkampioen!” Die verskil tussen ons en die Doper is, hy het nooit die kruis gesien nie, ons hét! Ons hoef dus geen probleem met ons identiteit te hê nie. Ons weet immers: Die oomblik toe ons Jesus Christus in ons lewe ingenooi het, die oomblik wat “ons Hom aangeneem het en in Hom geglo het, het Hy ons die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12).
Ons is nie meer deel van ‘n onbekende massa mense wat doelloos rondswerf op soek na ‘n heenkome nie. Ons is broers en susters van Jesus Christus, almal werklik kinders van God. En afgesien wat ons in die verlede verkeerd gedoen het en in die toekoms nog gaan doen, het ons vir ons hemelse Vader besonderse betekenis – ons is vir Hom oneindig kosbaar en Hy het ons eerste liefgehad - Hy is liefde!!
Al voel dit of ek en jy nie “groter as Johannes die Doper is nie”, en soms ‘n identiteitskrisis ervaar en nie weet wat ons doel in die lewe is nie, moet ons onthou, Christus het ons geroep om deel te wees van God se familie, en as “die geringste, is ons in die koninkryk van die hemel groter as hy.” Ek en jy is egter self verantwoordelik om ons persoonlikheid met Christus, dieper te verenig. Dit is net ek en jy wat meer tyd kan maak vir Bybelstudie en gebed en die toepassing van dissiplines wat nodig is om ‘n sinvolle geestelike lewe te ontwikkel. Ons kan en sal dit alleen, nie regkry nie, maar wanneer “ons lewe deur die Gees van God beheers word, sal ons nooit swig voor begeertes van ons sondige natuur nie” (Gal. 5:16). Ons opdrag is dieselfde as die Doper s’n: Om “Jesus meer te laat word en ons minder” (Joh. 3:30). Ag, as ons dit maar net met dieselfde geesdrif as die Doper kon doen!
“Ek en jy moet op die geloofspad nie slegs beginners wees nie, ons moet aanhouers wees”
(Ralph Emerson).
Gebed: Hemelse Vader, dit is ‘n wonderlike wete: Ek is ‘n kind van U want Jesus het dit onvoorwaardelik uit liefde, vir my moontlik gemaak. Dankie Here, dat ek aan hierdie waarheid kan vashou, hou my styf naby U hart vas. Dankie Christus my Here, dat ek altyd op U beloftes kan vertrou en wat my staande hou in tye soos nou, wanneer dit nie net met my nie, maar met almal in die wêreld mee swaar gaan as gevolg van die virus wat ons geesdrif demp. Dankie dat U egter steeds, Middelpunt van my lewe bly. Daarom sal dit steeds my getuienis wees ten spyte van al die negatiewe dinge wat gebeur. Dankie o Vader, dat u Gees nie voorgeskryf of ingeperk kan word nie, maar vrymagtig werk. Help ons om rustig te wíl lewe onder die beheer van u Gees. Amen.