top of page

Gedagte vir Vandag


Ons nooi julle uit om vanaand om 19h00 saam met ons Gemeente, Hemelvaartdiens te vier. Skakel in by NG Fochville-Noord se Facebook blad en luister na ons aanlyn-diens. Indien julle nie Facebook het nie, skakel in op ons Kerk se Webblad by http://www.ngfochvillenoord.co.za/e-kerk. Luister ook tydens die tyd van inperking, elke dag na ‘n kort boodskappie by “Dagstukkies” op dieselfde Facebook-blad of Webblad. Kom ervaar saam met ons gemeente, geloofsgemeenskap op 'n nuwe manier.


JESUS SE HEMELVAART


Hand. 1:9-11 – “Nadat Jesus dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl Sy dissipels dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: ‘Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”


Die hemelvaartdaad van Christus is seker een van die grootste openbaringe van God se almag en heerlikheid. Die hemelvaart was op aarde die afronding van Sy versoeningswerk en Jesus gaan met Sy hemelvaart uit die ellendes van die graf en die dood, in die ewige heerlikheid van God in. Hy is deur onnoembare angste en lyding ter wille van ons sondes en ook vir almal wat Hom verlaat het. Hy gaan uit ’n wêreld van stryd en spanning uit, in die ryk van God se volmaakte vrede in. Die Here Jesus het na die hemel der hemele toe weggegaan waar Hy nou plek gereedmaak en voorbidding doen om al Sy gelowige dissipels by Hom te ontvang. Die hemelvaart preek die grootheid van die Here Jesus Christus.


Ons moet ook onthou dat Jesus se hemelvaart, nie die einde is van Sy heerskappy op aarde nie. Dit is die tyd wat Sy kerk die era van die Heilige Gees binnegaan. Die ondervinding van Sy dissipels daardie dag toe Jesus in “’n wolk weggeneem is”, is hoegenaamd nie beperk tot daardie tyd nie. In ons geval is dit nie wolke van wanhoop, twyfel, teleurstelling en miskien angs wat veroorsaak dat Jesus voor ons oë verdwyn het nie, maar dat die engele ook vir ons sê: “Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” Ons het steeds die versekering, dat Jesus altyd by ons sal wees, waar ons ook al is of wat ook al ons omstandighede is.


In die hemelvaart bely ons die heerlikheid van die Here Jesus Christus – ons bely dat die Here Jesus opgevaar het na die hemel, dat hierdie hemelvaart van Hom sy heerlikheid geopenbaar het – “U het opgegaan na die hoogte om daar te woon, Here God! Geloofd sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! God is vir ons die God wat ons red, die Here ons God deur wie ons bewaar word in doodsgevaar” (Ps. 68:19b-21). Met die hemelvaart van die Here Jesus het die groot versoendag vir die wêreld aangebreek. Geloof behels ‘n bonatuurlike verstaan van die wêreld en van God – God is groter as ons denke en groter as die denke van Sy destydse volgelinge en groter as virus pandemies!


Charles Spurgeon het die volgende vertel: “Dit is van ‘n sekere Christen gesê dat die hemel in hom was voordat hy in die hemel was. Dit is noodsaaklik vir ons almal: Ons moet die hemel in ons hê voordat ons in die hemel kan kom. As ons nie in die hemel kom voordat ons sterf nie, sal ons nooit daarná daar kom nie.” Om die hemel in jou te hê voordat jy in die hemel kom, is eenvoudig: Glo in die Here Jesus Christus!!!! Hy gee vir ons daardie versekering: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe” (Joh. 6:47). Die Gees sal ons lei sodat die wolke verdwyn en ons weer die aangesig van Jesus christus kan sien.


“Christus se bloed is die sleutel na die hemel” (Thomas Brooks).


Gebed: Dankie Here vir die versekering dat as ek “luister na wat U sê en in ons Vader glo wat U aarde toe gestuur het, (Joh. 5:24), kan ek “bly wees omdat my naam in die hemel opgeskryf is” (Luk. 10:20). Die saligheid, eindelose vreugde, blydskap en vrede is vir my ‘n vooruitsig, maar Here, ek weet ek kan die hemel nou reeds op die aarde ook beleef, want die volheid van U lewende teenwoordigheid is by my. Dankie tog! Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page