Gedagte vir Vandag

Afbeelding van Franciskus binne die “Basilika van Franciskus in Assisi”
JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.
(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)
JESUS GEE OPDRAGTE AAN DIE TWAALF (3)
(Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6)
GROOTSTE WINSKOOP VAN ALLE TYE!
Matt. 10:9-10 – “Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie en moenie vir die pad ‘n reissak aanskaf of nog ‘n kledingstuk of skoene of ‘n stok nie. ‘n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.”
Vergelyk ook Titus 1:2b – “God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe.”
Dit is belangrik om die konteks te verstaan van Jesus se opdrag dat daar nie voorsiening vir geld en ’n reissak met allerlei benodigdhede, gemaak moet word nie. Die twaalf dissipels word vir eers net na die mense van Israel gestuur, op wie se gasvryheid en ondersteuning hulle kan staatmaak, want “’n arbeider is tog geregtig op onderhoud.” Jesus verlang dat die dissipels in die geloof sal uitgaan. Vir hulle persoonlike, tydelike behoeftes moet hulle vertrou op die sorgende genade van God en ’n vrome armoede beoefen. Daar mag geen skyn van weelde wees nie. In alle opsigte moet hulle uit die hand van die Vader lewe. Hy wat hulle gestuur het, sou hulle ook versorg.
Die opdrag kan nie beskou word as ’n algemene opdrag vir álle sendelinge van álle tye, wat in die diens van die Here staan nie. Dit is bedoel vir die bepaalde uitsending van die dissipels by hierdie geleentheid. Calvyn verklaar ten opsigte hiervan: “Onverstandiglik het sommige gemeen dat hier ’n blywende reël neergelê word vir die dienaars van die Woord of apostels … Ongetwyfeld moet hierdie gebod om iets, wat die reis mag vertraag, nie saam te neem nie, beperk word tot die tydelike predikamp”, d.w.s. van die dissipels by daardie geleentheid.
Jesus sê dat die oes ryp is en dat die oes die Here se oes is: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes” (Matt. 9:37-38). God is dus in beheer. Die Evangelieverkondiging van die dissipels is dus nie mensedinge, 'n mens uitgedinkte boodskap nie. Die Blye boodskap is God se boodskap en die kerk-dinge en godsdiens-dinge is dus Sy dinge en sal Hy derhalwe “sorg vir goud of silwer of koper in hulle beursies en sou dit nodig word, vir die pad ‘n reissak, kledingstuk, skoene of ‘n stok, voorsien.”
Tydens ons besoek aan Assisi, ‘n klein dorpie in Italië, het ons die aangrypende verhaal van Giovanni Bernardone (1182-1226), aangetref. As ’n jong man uit ’n ryk middeleeuse familie met ’n blink toekoms, was hy só geïnspireer deur Jesus se opdrag in Matteus 10:7-10, dat hy alles wat hy besit het, (en van sy ouers se besittings,) verkoop om vir die armes te sorg. Hy was later as “Franciskus van Assisi” herdoop, en het toe begin rondgaan om die Evangelie van God se liefde te verkondig en vir mense vertel van “die groot winskoop van die lewe”.
Sy volgelinge het vinnig gegroei, wat ook alles verkoop het en die opbrengste vir die armes gegee het. Nadat die groep amptelike goedkeuring van die Kerk gekry het, het hulle prediking vinnig uitgebrei. Selfs ’n groep vrouens, die sg. “Poor Claires”, het ook Franciskus begin volg. Die Franciskaanse Orde, wat vandag nog bestaan, is die uiteindelike vrug op dit wat Franciskus in die twaalfde eeu begin doen het.
Sodra ons ‘n winskopie raakloop, vertel ons gou vir familie en vriende hoeveel geld ons gespaar het sodat hulle ook daarin kan deel en moontlik ook kan aanskaf. Ongelukkig word ons tans deur COVID-19 ingeperk en is die winskopies, tydelik opgeskort. Onsekerheid het die plek daarvan ingeneem en in ons lewens, ‘n lêplek kom maak. Baie mense is onseker of hulle môre nog ’n werk gaan hê; onseker of daar aan die einde van die maand genoeg geld gaan wees om al die gate toe te stop. Sommige is selfs onseker of hulle aan die einde van die maand nog ’n eggenoot gaan hê. Dalk is daar mense wat net onseker is oor die lewe, want soveel negatiewe dinge die afgelope tyd het veroorsaak dat hulle hoop vervaag het.
Gelukkig kan ons gelowiges, volgens Paulus, vashou aan die grootste winskoop van alle tye, ‘n winskoop wat sekerheid bied: “God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe.” Niks en niemand kan hierdie groot winskoop van ons wegneem nie. Maak nie saak wat gebeur nie. Niemand kan dit van my steel nie. Dit is ’n werklikheid waaraan ons elkeen in die onsekere wêreld kan bly vashou. Ons hoef daarvoor nie eers “vir goud of silwer of koper in ons beursies te sorg nie.” God het dit gratis vir my kom gee. Hy het my sondes kom wegneem en die las vir my gedra.
Die ewige lewe is die winskopie van alle tye, en tog saai ons dit nie oor die wêreld uit nie. Die grootste gelukkie wat ’n mens ooit van kan droom, kry jy gratis in jou skoot en jy bly tjoepstil daaroor. En as jy nog iets benodig, kan jy dit gratis by “God se Supermark” gaan haal, soos ons gister verneem het! Die bes bewaarde geheim ooit! Ek wonder hoekom bly baie tjoepstil daaroor? Dalk is dit omdat ons nie presies weet hoe dit gaan wees ná Covid-19 nie, maar tog weet ons in ons agterkop, daar ís beslis ’n winskopie. En dit bring tog vrede, sekerheid en hoop.
Kom ons maak ’n punt daarvan om ons familie, vriende, kollegas en sommer die vreemdeling wat oor ons pad gestap kom, ook te vertel van die groot winskoop. Kom ons stuur sommer net ’n e-pos of ‘n WhatsApp aan ’n paar mense wat byvoorbeeld as volg kan lyk: “Hi daar, het jy gehoor van die ongelooflike winskopie? Dit is gratis vir almal wat glo! Die hemel is oop vir álmal wat in Jesus Christus glo. Al is alles in jou lewe dalk nie nou uitgesorteer nie, kan jy gerus wees, want ten minste is die lewe hierna uitgesorteer!”
“Baie mense verwag tans ‘n hooplose einde. Maar dié wat in Jesus Christus gló, het eindelose hoop” (Gilbert Beeken).
Gebed: Vader, dankie klink nou so klein. Dankie dat die vlam van hoop helder brand in my, ongeag my huidige omstandighede, omdat ek kan peil trek op U belofte in U Woord. Baie dankie vir die grootste winskopie van my lewe. Dankie dat die Ewige Lewe op ’n skinkbord gratis vir my aangedra is deur Jesus wat aan die kruis gesterf het. Vader, U is so goed! Help my om dit aan almal om my uit te blaker, sodat niemand eendag daar uit die hel vir my kan skree: “Hoekom het jy my nooit vertel nie?” Amen.