top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE – NOG GENESINGS!

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34)


DIE GENESING VAN BAIE ANDER – DIE GROOT GENEESHEER!

(Mark. 1:29-34; Luk. 4:38-41)


Matt. 8: 16-17 – Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van duiwels was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met ‘n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak. So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: ‘Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.’”


Vergelyk ook Jes. 53:4 – “Hy het óns lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”


Lukas en Markus meld dat die genesing van Petrus se skoonmoeder en die melaatse man, op die sabbat gebeur het, terwyl Matteus net die genesings beskryf. Hoe dit ookal sy, die gebeurtenisse het Kapernaum in beroering gebring. Sodra die son ondergaan, is die sabbatdag verby en die verbod om op die sabbat iets te dra (Jer. 17:21), nie meer van toepassing nie. Daarom begin die mense om hulle siekes na Jesus toe te dra, ongeag aan watter kwaal hulle gely het. Onder die krankes was daar twee groepe: diegene wat aan liggaamlike kwale gely het en die duiwelbesetenes. In ‘n besondere sin word dit duidelik dat Jesus die stryd teen die magte van die duiwel voer en dat Hy net een woord nodig het om “die geeste uit te dryf”, en sodoende hulle oorwin!


God gebruik soms siekte as ’n tugroede sodat ons die sonde in ons ontdek en ons tot Hom in afhanklikheid uitreik: “Daar is baie swakkes en sieklikes onder julle en sterf daar baie van julle. As ons onsself vooraf reg ondersoek het, sou ons nie onder die oordeel gekom het nie. Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie” (1 Kor. 11:30-32). Dankie tog, ons gelowiges het met die Groot “Ek Is” te doen: “Want ek is die Here wat jou gesond hou” (Eks. 15:26), en aangesien gesondheid en heelheid God se wens vir ons is, dank ons Christene God vir die vele maniere waarop genesing plaasvind.


“As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid … Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jak. 5:13 en 16). Tog vind so baie Christene dit byna onmoontlik om hulle skuld ‘n naam te gee en dit openlik te bely. Om dit teenoor mekaar te bely is nog erger. Ons wil tog nie dat ander mense daarvan hoor nie, veral nie medegelowiges in ons gemeente nie. Daar is nie ‘n maniér dat ander van ons sondes moet weet nie. En dan, gebed sonder geloof is kragteloos.


Die uitwerking van ons gebed is immers ook nie van ons vermoë afhanklik nie maar van God se vermoë. En God is Almagtig. Die vereiste vir 'n ernstige gebed is om God aan te roep omdat ons Hom en Sy beloftes regtig ken en weet wat Hy wil bereik. Ek moet onwrikbaar my geloof op Jesus plaas vir Genesing. Die geloofsgebed verwys na die geloof van die bidder, wat glo dat Jesus genees, wat glo dat die mag van genesing ook nou beskikbaar is. Daar is ook baie getuienis dat God dikwels op die geloofsgebed sy seën gegee het met die gebruik van medisyne en dit as middel tot genesing kragtig gemaak het. (Ons moet net nie meer ag gee op die middels as op God nie.)


Indien jy dalk wonder oor God se liefde en of Hy werklik na ons gebede luister, kyk na die kruis van Golgota. Ons sien menigte kere en ervaar eers later, hoekom ons dink dat God nie ons gebed verhoor het nie of anders verhoor het as wat ons gevra het. Die Here het nie ons gebede nodig om Sy werk te doen nie. Hy is Almagtig en voer Sy wil uit soos Hy dit beplan het. Maar op Sy pad met die skepping, roep Hy ons sondaars om deel te wees van Sy werk. Hy wil hê ons moet op grond van Sy beloftes en genade Hom vra om Sy wil en doel uit te voer. Hy wil ons in Sy skaduwee hê sodat ons kan sien hoe Hy Sy doel bereik en ons saam met Hom die vreugde mag beleef dat alles gebeur net soos Hy dit wil hê. Dáárom het die “gebed van ‘n gelowige (regverdige) ‘n kragtige uitwerking” – sonder towerformules.


“Die mooiste les wat ek oor gebed geleer het, is om God toe te laat om vir my te kies wat ek regtig nodig het” (Dwight Moody).


Gebed: Dankie Gees van God dat U my bystaan in my swakheid. Wanneer ek nie weet wat en hoe ek behoort te bid nie, pleit U vir my by God, met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie. En God wat my hart deurgrond, weet wat U bedoeling is want U pleit volgens die wil van God vir my as gelowige (Rom. 8:26). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page