Gedagte vir Vandag
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (TWEEDE VERMANING).
VALS PROFETE (7) – STILBLY IS OOK ‘N ANTWOORD!
(Luk. 6:43-44)
Matt. 7:15-17 – “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle die vals profete dan aan hul vrugte ken.”
Vergelyk ook 2 Tim. 2:23-25 – “Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring.”
Baie mense redeneer graag oor godsdiens, soms in ‘n poging om die uitdaging tot ‘n Christelike lewenswyse te omseil. Soms gaan dit oor onbenullighede, byvoorbeeld: “Wie het God gemaak?; as jaloesie sonde is, hoe kan God jaloers wees? (Eks. 20:4-5); weerspreek die verskillende weergawes van die Evangelie mekaar? (Die vier Evangelies is eerder aanvullend as teenstrydig van mekaar.); as Adam en Eva die eerste skepsels was, waar het hulle seuns, Kain en Set, vrouens gekry om ‘n nageslag voort te bring? (Gen. 4-5). En dan miskien die mees algemeenste: Waarom laat ‘n God van liefde toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur?”
En dis reg dat ons sekerheid kry in dit wat ons glo. Dis reg dat ons mooi verstaan wat ons geloof in God behels. Wat ons egter nie moet toelaat nie, is dat ons betrokke raak met mense wat nie die waarheid beet het nie en ons wil oorreed om soos hulle te glo.
Daar loop baie mense rond wat valse waarhede verkoop en baie vurig daaroor kan raak. Soms is dit beter om eerder jou standpunt vir jouself te hou, want om in ’n argument met so ’n persoon betrokke te raak, is soos om jou “pêrels vir die varke te gooi” (Matt. 7:6b). Daar sal niks positief uitkom nie. Daarom waarsku selfs Paulus ‘n jong Timoteus (en vir ons): “Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak.” Om oor die Evangelie te twis, is nie ‘n kerklike weg nie. Dit is baie beter om ‘n rein gewete voor God te hê as om deur mense aanvaar te word, net omdat jy met hulle verkeerde “waarhede” saamstem, of nie saamstem nie.
Ons moet seker maak dat ons weet waarin ons glo. Wanneer iemand met ’n klomp leë waarhede na ons toe kom, moet ons kan onderskei tussen wat waar en opreg is en wat sommer eenvoudig bo verdenking is. En dis die probleem. Ons word maklik heen en weer in ons geloof geswaai, omdat ons nie seker is van dit waarin ons glo nie. Ons hardloop agter elke liewe prediker aan, omdat ons glo hulle is reg. Maar is hulle reg? Is hulle woorde in lyn met die woorde van die Bybel, God se woorde?
Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie agter vals leraars aanstap nie. Ons kan nie eendag sê dat dit nie ons skuld is omdat ons so skeef geglo het, want ons het agter dié of dáárdie leier aangestap nie. As ek sien my leier is besig om my na ’n afgrond te lei, gaan ek êrens tot my sinne kom en eenvoudig ’n ander pad stap. Ek gaan nie toelaat dat hy my oor ’n afgrond lei en só, my lewe verloor nie.
Dieselfde met die waarhede waarin ons glo. Ons moet sélf seker maak in die Woord van God. Ons moet weet wat is reg en wat is verkeerd. Ons moet kan onderskei wanneer iemand in lyn met God se waarhede praat of wanneer hulle besig is om in ‘n waan te verkeer. En dié inligting kry ons in God se Woord. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:16-17). As ons nie ons neuse elke dag in God se Woord hou nie, gaan iemand anders ons aan ons neuse lei.
Dis goed om te redeneer, want ons kan leer by mekaar en deur die Gees van God, mekaar help om nader aan die waarheid te kom. Maar soms moet ons weet dat as die omgewing nie vriendelik genoeg is nie, die resultaat baie negatief kan wees en die uiteinde ’n ongewensde getwis. Al wil jy so graag betrokke raak om ander die waarheid te wys, moet ’n mens besef dat dit eenvoudig nie gaan help nie. Soms moet jy jou sinne kortknip of selfs nie eers jou mond oopmaak nie. Paulus raai ons aan om met liefde en “met vriendelikheid ons teenstanders tereg te wys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring.” Langs hierdie weg bestaan daar ‘n moontlikheid dat hulle deur God wat self Liefde is, aangespreek kan word. Partymaal is dit nodig om eerder jou mond te hou en jou woorde te tel en dit eintlik net te los. Stilbly is mos ook ’n antwoord.
Ons moet eerder stil word en ons hart gelowig ophef sodat ons Leidsman ons daaraan kan herinner dat sy Gees altyd ons Metgesel is, dat Hy vernuwend deur ons werk want “ons lewe deur die Gees; laat Hy ons gedrag bepaal” (Gal. 5:25). Wanneer ons dit buite die leiding van die Gees waag, kry die sondige vlees gou die oorhand. Ons moet onthou die Evangelie word verkondig en geleef in ‘n wêreld waarin mense beweeg wat hulle eie eer en eie ek as die hoogste ag. Om Christen te wees, beteken inderdaad om moeilikheid te hê, maar in daardie omgewing van agterdog, haat en twissoekery, moet ons as Evangeliedienaar kan koers hou. Ons aanbid ‘n lewende God, ‘n God wat ons kan vertrou, daarom kan ons twis vermy en die weg van die liefde begaan.
“God is so groot dat ons van mekaar kan verskil oor hoe ons Hom verstaan, maar ten spyte daarvan kan ons almal nog Sy liefde, genade en vergifnis beleef en dit sigbaar maak”
(Kobus Myburgh).
Gebed: Here, dis nie altyd maklik om stil te bly nie. Dis nie maklik om te weet wanneer om stil te bly en wanneer om op te staan vir dit waarin ek glo nie. Gee my wysheid en help my om te onderskei. Help my, Gees van God, om elke aspek van my lewe onder U beheer te plaas sodat U in elke situasie, my gedrag kan bepaal. Amen.