Gedagte vir Vandag
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
SOSIALE KWESSIES: VIERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)
DIE SORGE VAN DIE LEWE (6) – SPANDEER GENOEG TYD SAAM MET GOD!
(Luk. 12:22-34)
Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer nie … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Vergelyk ook 1 Pet. 5:7 – “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Petrus kom sluit ook aan by Jesus oor die onderwerp van kommer en gee eintlik ‘n opdrag aan ons gelowiges om “ons bekommernisse op God te laai.” Dit geld vir alle tipe bekommernisse, soms selfs oor simpel goed. Jesus belowe ons dat ons alle dinge sal ontvang wanneer ons die keuse uitoefen om te bewys dat die "koninkryk en wil van God,” belangriker is as ons besittings en geld. God is nie so besorgd oor die dag van môre soos ek en jy nie. Elke keer wanneer ‘n nuwe dag aanbreek wat die naam ‘vandag’ dra, is God buitendien daar. Die vraag egter is: Waar is ons, waar is ek en jy?
Ons moet net die dag van ‘vandag’ aanpak met ons voete op die pad van geregtigheid waar besittings nie ons baas is nie, maar tyd gemaak word vir ons Vader in die hemel. En hoeveel tyd maak ons vir Hom? Verskeie mense het my al gevra om die dagstukkie wat ons uitstuur te verkort. Ek het nie altyd vir hulle gevra hoekom nie, soms net gewonder hoekom. Die kere wat ek wel gevra het, was die antwoord: “Dit neem te veel tyd om dit deur te lees.” En hoe lank neem dit vir jou om dit deur te lees? “Seker so vyf minute.” “Is dit al tyd wat jy vir God het in jou besige dag?” “Ja maar jy verstaan nie, met klein kinders wat soggens voor werk versorg moet word …; ons werksdag begin vroeg …; dit gaan dol voor skool, voor werk, voor …!” Die antwoorde is legio! Soms kry ek nie ’n antwoord nie. (Staan net vroeër op, God is altyd wakker.)
Is dit die gewensde verhouding met God? “Ons Here wat ons oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Jesus Christus” (1 Tim. 1:14). God daag elke dag op met Sy ruim porsie “manna” vir al Sy kinders. Hy waarborg dat Hy op Sy manier sal sorg wanneer die dag van môre in vandag verander en Hy daag op met Sy spesiale versorging van liefde. Is dit dieselfde in ons verhouding met God? As ons só min insit, wat kan ons dan verwag? Ek vermoed ons lewens lyk soos dit lyk omdat ons eenvoudig net te min tyd met God se Woord deurbring. Hoe kan ons weet wat God se wil vir ons lewens is as ons nie elke dag ’n afspraak met Hom nakom nie?
En die probleem is, my verhouding met God is nie ’n treetjie vorentoe nie. Inteendeel, dis eintlik agtertoe, want hoe minder energie ek in ’n verhouding sit, hoe groter is die kans dat dit oppervlakkig en kunsmatig word. Enige verhouding groei deur middel van tyd en energie. Ook ons verhouding met God. Onthou, dis nie God wat anders moet raak in die verhouding nie, maar ons. Ons moet leer en verander. Ons geloof en vertroue moet opgebou word.
Dis eenvoudig: Lees die woorde in God se Woord. Lees die feite en leer. Lees die opdragte en doen. Lees die woorde oor en oor en laat toe dat dit jou denke, woorde en dade verander. En saam met die opdrag die belofte: God sal Sy kant van die verhouding nakom. Hy sal jou help om dit wat jy lees, te verstaan. Hy sal die kennis van Sy Woord vir jou oopbreek. Hy sal jou help om dit deel te maak van jou wese. Hy sal jou die krag gee om dit te doen. “Die Here sal ons insig gee om alles te verstaan” (2 Tim. 2:7).
Ek lees ‘n storie van twee monnike wat ‘n vrou by ‘n rivier raakloop wat nie op haar eie deur die rivier kan kom nie. Die een monnik het geweier om haar te help want dit is teen hulle priesterorde se reëls om aan ‘n vrou te raak. Die ander monnik het haar egter deur die rivier gedra, natuurlik met ontsettende negatiewe aanmerkings van die onwillige monnik omdat die hulpvaardige monnik, die priesterordereëls oortree het. Later antwoord die hulpvaardige monnik: “Ek kan nie verstaan waarom jy so tekere gaan nie, ek het haar al twee ure gelede neergesit maar jy dra haar nog steeds.”
Hoe waar! Ons kry sekere probleme nie van ons skouers af nie. Dalk is dit vandag ‘n goeie tyd om jou laste en bekommernisse neer te sit, of nog beter, om dit op die skouers te tel van Een wat sterker is. Jesus is sy Naam! Jy kan by elke kruispad in jou lewe weet watter keuse om te maak as jy God se Woord deel maak van jou dag. "Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer nie … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
“Jy kan elke dag besluit oor hoe jy die tyd gaan benut wat God jou gee. Jy kan lewe asof Christus gister gesterf het, vandag uit die dood opgestaan het, en môre terugkom. Óf jy kan lewe asof Jesus dood is. Punt! Dit is jou keuse! (Barbara Johnson).
Gebed: Vader, ek moet bely dat ek nie genoeg tyd vir U in my lewe maak nie. Ek weet dat ek nie genoeg van U wil vir my lewe weet nie. Ek smag daarna om meer tyd met U deur te bring. Help my om elke dag my afspraak met U na te kom. Amen.