top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VIERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


DIE SORGE VAN DIE LEWE (5) – MAAK VREDE MET WAT JY HET!

(Luk. 12:22-34)


Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer nie … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”


Vergelyk ook 1 Tim. 6:6-8 – “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.”


Vergun my om vandag aan te sluit by Vrydag se gedagte met een van die bekende Nataniël se sê-goed oor dankbaarheid: “Kry vir jou ’n hond en noem hom dankie. Elke keer as jy hom roep, kan jy onthou hoe dankbaar jy moet wees vir alles wat jy het en alles wat jy so onverdiend uit genade ontvang.” INDRUKWEKKEND! Op 1 Februarie 2020, nooi Angus Buchan almal uit om saam met hom by Loftus Versfeld rugbystadion in Pretoria, dankie te sê vir alles wat ons onverdiend uit genade ontvang. Dit sal DV beslis meer wees as ‘n dankie vir die wêreldbeker wat ons rugbyspan Saterdag gewen het, dit sal wees om OP TE STAAN VIR JESUS. Kom ons bid dat ons land se mense elke dag sal opstaan vir Jesus, ons “allereers sal beywer vir die koninkryk en die wil van God”, dat ons sal beleef God is ‘n God wat Sy beloftes vervul, ‘n God wat hoop gee vir die toekoms.


Paulus sluit hier by Jesus se vermaning oor bekommernis aan wanneer hy in sy brief aan die jong Timoteus raad gee oor hoe hy sy pligte moet uitvoer as ‘n goeie dienaar van Christus. As jy jou “allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God beywer, dan sal Hy jou al die dinge gee” wat Hy dink jy nodig het. As jy God met die regte motief dien, “sal jy tevrede wees” met jou besittings. Dit geld natuurlik nie vir onbybelse tevredenheid waar mense lui is en sonder ambisie op ‘n hopie sit en wag om dood te gaan nie, maar Bybelse tevredenheid waar jy met vertroue weet jy is God se kind en Hy daarom, vir jou geestelik en liggaamlik sal sorg.


Met die stelling “as ons genoeg het om te eet en klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees”, verwys Paulus na meer as net kos en klere. Eintlik het ons almal só baie om voor dankbaar te wees. Gesondheid, kinders, familie en net die blote feit dat ons kan asemhaal, moet ons laat oorloop van dankbaarheid. ’n Dak oor jou kop, ’n eggenoot, ’n werk, vrede, liefde, omgee, rus. Daar is soveel om voor dankbaar te wees. En tog ontbreek vrede en vreugde by ons. Is dit nie dalk omdat ons op verkeerde plekke soek nie? Rykdom, karre, aansien, bevordering, besigheid of wat ook al ons in die oog het, bring nie vrede nie. En omdat ons die dinge wat ons so begeer nie kry nie, oorskadu dit alles wat ons het.


Daar word die grappie vertel van die ryk man wat ’n obsessie gehad het met sy rykdom en nie daaroor kon kom dat hy dit eendag alles net so moet agterlaat nie. Elke dag het hy gebid en gevra dat daar tog ’n spesiale uitsondering vir hom sal wees. Die ryk man het nie opgehou kerm, kla en soebat totdat daar later wel ’n uitsondering vir hom gemaak is nie. Met sy aankoms by die hemelpoorte – natgesweet van die sleep aan die koffer met goudstawe in – sê Petrus dadelik dat hy mos weet dat geen mens enige iets by die hemel mag of kan invat nie. Die ryk man sê toe vir Petrus dat daar wel ’n spesiale uitsondering vir hom gemaak is. Petrus was baie verbaas om dit te hoor en vra of hy net kan loer wat hy in die tas het. Verbasend sê Petrus: “Ek verstaan nie lekker hoekom jy deur al hierdie moeite gegaan het net om ’n paar plaveisel stene vir die strate te bring nie!” Wat vir ons waardevol is hier op aarde het nie dieselfde waarde in die hemel nie!


In plaas van “bekommernisse oor môre” en die toekoms, maak ’n lysie van dinge waarvoor ons dankbaar kan wees. Dinge wat ons so as vanselfsprekend aanvaar dat ons nie besef hoe gelukkig ons eintlik is om dit alles te hê nie. Staan eerder ’n slaggie terug en kyk wat jy regtig het en wees dankbaar, want dit is by dié dankbaarheid waar ware vrede lê. Ek weet dis nie altyd maklik nie. Ons elkeen het ons eie uitdagings wat ons moet hanteer.


Geen geld in die wêreld kan vir ons ’n plekkie in die hemel koop nie. Jesus het Sy lewe gegee sodat almal wat in Hom glo, deel kan hê aan daardie belofte. Die belofte van ’n ewige lewe wat ek en jy van God ontvang het, is meer werd as ál die rykdom in die wêreld. Ons as kinders van die Here is geseën met hemelse skatte soos vrede, vreugde, liefde, vergewingsgesindheid, mededeelsaamheid, opregtheid, vermoë om te kan sien, te kan hoor, voel, loop – alles om voor dankbaar te wees omdat dit wonderlike gawes van God is en baie beter is as bekommernisse. Buitendien, het jy al ‘n kraai met plooie gesien?


Ons is skatryk van hemelse seëninge. Hoe dankbaar is jy om te weet dat daar ’n God is wat baie vir jou omgee? Hoeveel keer per dag sê jy vir God dankie dat Hy Sy Seun gestuur het om vir jou sondes te sterf? Wanneer ’n mens besef wat jy alles het, kyk jy die lewe anders in die oë. Dan lig jou gemoed en sien jy weer kans vir die berg voor jou. Dan kan jy met ’n huppel in jou stap die moeilike dae aanvat. Soms moet jy net terugsit en bo-oor al die geraas kyk en raaksien wat jy het.


Wees dankbaar vir al die genade wat elke dag deel van jou erfporsie is. “Beywer jou allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy jou ook al hierdie dinge gee.” Gaan leef dit en wys dit vir die mense wat so verstrengel is in wêreldsgoed. “As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” Maak hulle jaloers op dié dinge wat geld nie kan koop nie en vertel hulle dat hulle óók deel kan hê aan die skatte in die hemelse bank.


“Moenie bekommerd wees oor al die dinge wat jy graag wil hê nie; wees dankbaar dat jy nie die dinge het wat jy nie wil hê nie” (Onbekend).


Gebed: Here, geld maak die lewe soms makliker, maar dit het niks uit te waai met ware vrede en vreugde nie. Ek is ryk in genade, U genade wat nie ophou om oor ons te reën nie. Here, ek besef dat ek nie altyd die genade wat ek elke dag ontvang, raaksien nie. Ek ontvang so baie. Dankie daarvoor. Dankie vir alles wat ek het want dit kom van U af. Help my om tevrede te wees daarmee. Dankie dat U so goed is vir my. By U is ware vrede en rus. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page