top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIAL KWESSIES: DERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


GOD EN MAMMON (3) – MAAK TYD VIR GOD!

(Luk. 16:13)


Matt. 6:24 – “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.”


Vergelyk ook 2 Tim. 2:3-4 – “Dra jou deel van die ontberinge soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus. ’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.”


Dit is nog baie vroegoggend en ek is op pad werk toe. Die dorp se mense slaap nog. Hier en daar skyn die ligte van motors wat ook êrens heen op pad is. ‘n Magdom gedagtes maal in my kop rond – my dag se program is toegegooi met afsprake wat nagekom moet word; verantwoordelikhede waarvoor ek nie kans sien of lus het nie; gesinsprobleme van vriende kruis my gedagtes; die lys van bekommernisse is eindeloos – my dagboek vir vandag is vol en sal my besig hou tot laat vanaand! My petrol is op en my dag het nog nie eers behoorlik begin nie.


Skielik word my gejaagde gedagtes onderbreek. Iewers uit my binneste hoor ek ‘n sagte stem: “Kan Ek dalk ook met jou ‘n afspraak maak My seun?” Ek is hartseer want ek weet dit is die Here wat wéér probeer om my tot gehoorsaamheid te bring. Dis eintlik skokkend. Ek het só besig geraak dat ek nie eers net vyf minute êrens in die dag kan afstaan vir God nie! Hoeveel petrol vir die dag kan ons in vyf minute bymekaarmaak? Ek hoor weer die sagte stem: “My seun, wanneer jy Godverlate voel, gehoorsaam tog net Psalm 63:2 en soek My, dors na My, smag na My want My troue liefde is meer werd as die lewe. Bly naby My, Ek sal jou ondersteun. Dit is immers wat My Woord van jou vra.”


God hét dit al van my gevra. Hy het eintlik nog nooit opgehou om my te vra dat ek meer tyd aan Hom moet afstaan, dat ek êrens in my besige dagboek, ‘n daaglikse afspraak met Hom moet maak. Die probleem is, die duiwel het my elke keer mislei: “Onthou, indien jy daardie versoek nakom, is daar ‘n verbondenheid in so ‘n verpligting.” En ek het hardekop gebly. God het my keer op keer belowe dat ek meer tyd sal hê as ek net my daaglikse program só sal verander om tyd vir Hom in te ruim – “As jy My aan die begin van elke dag ontmoet, sal jy vind dat meeste van jou bekommernisse om deur jou besige program te kom, sal verdwyn!”


Ek dink nie ons besef regtig wat in die geestelike wêreld aangaan nie. As ons werklik besef het wat aangaan sou daar nie 5-minute Bybelleesplanne gewees het nie. Nee, daar sou eerder “Daaglikse-Afspraak-Met-God-Planne” gewees het. Daar is ’n oorlog aan die gang. ’n Woeste oorlog waar die bose baie hard baklei en alle stoppe uittrek om jou van God se pad te kry. Vyf minute per dag is nié genoeg om jou voor te berei vir die oorlog nie. As iemand met vyf minute per dag se opleiding na die front gestuur word om in die oorlog te veg, is die kans dat hy of sy gaan verloor, 100% gewaarborg.


Ek onthou nog die opleiding wat ek as soldaat gehad het. Ons is hard gedril. Letterlik en figuurlik. Ons is elke dag gejaag om top fiks te wees. Ons het ure lank elke dag opleiding gekry. Hulle het met ons koppe gesmokkel om te dink soos hulle wil hê ons moet dink. Alle kennis van die vyand is oor en oor herhaal. Maar meer nog, ons het presies geweet hoe ons gewere werk, want ons het geweet as die paw-paw die fan strike, hang ons lewe daarvan af. Ons het ’n uitstekende opleiding gehad om ons voor te berei vir die grensoorlog. Vyf minute opleiding per dag sou eenvoudig katastrofies wees!


Ek vermoed die wêreld lyk soos dit lyk omdat mense probeer om in vyf minute voor te berei vir die oorlog daar buite. Ek vermoed jy sukkel ook omdat jy dalk nie genoeg tyd in jou dag bymekaarmaak vir voorbereiding vir die oorlog nie. Ek vermoed jy is ook besig om “God én Mammon” te dien en nie genoeg tyd het om “jou deel van die ontberinge soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus, by te dra nie.”


Die blote feit dat ons almal die titel van soldaat ontvang, dui daarop dat daar êrens ’n “oorlog” aan die gang is. En “’n soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.” Vir die oorlog moet ons onsself staal. Ons moet seker maak dat ons voorberei is en dat ons darem ’n kans staan om die oorlog te wen. En nee, ons hoef nie bang te wees nie, want God se Gees veg saam met ons. Maar ek dink dit is darem net reg dat ons ook ons deel doen en nie al die gevegte vir die Gees los nie.


Daarom, maak ’n punt daarvan om jouself voor te berei vir die aanvalle. Maak tyd vir God en bestudeer Sy Woord. Dis hier waar jy die heel beste opleiding vir jou soldaatskap ontvang. Vra gereeld die vraag vir jouself: “Is die tyd wat ek daagliks maak om my afspraak met God na te kom, genoeg vir die oorlog?”


“’n Mens kan só verstrengel raak in jou goeie dade en goeie werk, dat daar vir God geen plek in jou lewe is nie. Die duiwel sien toe dat jy altyd te besig vir God bly, al het jy niks om te doen nie”

(Ernest J. Gruen).


Gebed: Here, dankie dat U my graag wil toerus vir die geestelike oorlog wat elke dag rondom ons aan die gang is. Ek besef ek is verantwoordelik om op te daag vir elke toerustingsgeleentheid wat U vir my beplan – elke dag. Help my asseblief om getrou te wees sodat ek nie in die oorlog vernietig word nie. “Laat ek my krag soek in U en U groot mag, my klee met die volle wapenrusting wat U aan my gee, sodat ek op my pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel” (Ef.6:10-11). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page