top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (15) – GEKOESTERDE WRAAKGEDAGTES MAAK DOOD!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:14-15 – “As julle ander mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredinge vergewe nie.”


Vergelyk ook Spr. 24:29 – “Moenie sê: ‘Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen, ek sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het’ nie.”


Jesus sluit hierdie gedeelte oor gebed af met ‘n stukkie ekstra kommentaar op die vyfde bede, waarmee Hy daaraan ‘n belangrike prominensie verleen: As ons vergeef, sal ons hemelse Vader ons ook vergeef; as ons egter nie vergeef nie, sal ons Vader ons ook nie vergeef nie. Ontstellende woorde mét ‘n waarskuwing by wat heel eenvoudig klink, maar wat menslik, nie so maklik uitvoerbaar is nie.


Van alles waaroor Jesus ons in die "Ons Vader" gebed geleer bid het, was vergifnis dit waarop Hy direk daarna verder uitbrei. Waarom? Deur te sukkel om ander te vergewe kan ons regtig God se teenwoordigheid kos. Die naakte waarheid is gevolglik dat dit óns vrede ook in gedrang bring. ‘n Lang gekoesterde grief teenoor iemand anders, kan ongekende skade aan onsself aandoen.


Wanneer ons weier om te vergewe, kom daar ‘n soort hardheid in ons hart wat ons bitter maak. As ons daaraan vashou, sal dit lei tot bitterheid wat elke aspek van ons lewens sal vergiftig. Onvergewensgesindheid bring ‘n geestelike droogte, ‘n swakheid en ‘n verlies aan geloof wat nie net ons nie, maar elkeen naby ons, beïnvloed. Afgesien van die geestelike implikasie van onvergewensgesindheid, word ons gesondheid ook benadeel. Volgens mediese kenners is hulle oortuig daarvan dat fisiese kwale hulle wortels vind in ‘n bitter gees.


Hoekom moet ons vergewe? Want ons word vergewe! Ons moet egter onthou dat God nie hier onderhandel met ons nie. Hy sê nie: “Omdat jy ander vergewe, sal Ek jou vergewe” nie. Ons kan nooit God se vergifnis verdien nie, slegs die gestorte bloed van Christus kan vergifnis van sonde verdien. Die boodskap van die Bybel vertel ons om ander te vergewe net soos God ons ook vergewe. Paulus verklaar in Efesiërs 4:32: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het”. En in Kolossense 3:13 sê Paulus: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe”.


Hoe meer Jesus ín ons is, hoe meer sal ons Hom wil weerkaats. Die Here maak geen voorsiening daarvoor om onvergewensgesindheid te herberg nie. Indien ons besef hoe God al ons oortredinge vergewe sal ons erken dat daar geen rede kan bestaan hoe ons vergifnis van ander mense kan weerhou nie. Ons het baie meer teen God gesondig as wat enige iemand teenoor ons kan sondig. God het al ons oortredinge vergewe daarom kan ons nie weier om ander se “kleiner” oortredinge teenoor ons, te vergewe nie.


“Wanneer jy vergewe, verander jy op geen manier die verlede nie – maar jy verander sekerlik die toekoms” (Bernard Meltzer).


Gebed: Ons Vader in die hemel, soos U my vergewe het, gee aan my die genade en krag om ander te vergewe sodat ek die oorvloedige lewe kan geniet wat my geestelike erfenis is. Gee my ook die krag dat ek sal doen wat ek U vra. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page