top of page

Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Sep 26, 2019
  • 3 min read

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


EERSTE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE ARMES HELP (2) – DOEN DIT OM GOD TE VERHEERLIK!


Matt. 6:1-2 – “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie … As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.”


Die eerste van drie voorbeelde wat Jesus voorhou om hierdie lewe van geregtigheid te beoefen, is ‘armsorg.’ Die versorging van die armes was ‘n belangrike faset van die Joodse- en vroeë Christelike gemeenskapslewe – God het dit van die Ou Testamentiese Jode gevra om na die armes om te sien want daar was baie behoeftiges wat ontsettend swaar gekry het. Dit was egter afhanklik van individue se vrygewigheid, wat meestal ‘n probleem was. Sommiges, veral die godsdiensleiers, het uit eersugtige bymotiewe hulle bydraes met groot vertoon in die openbaar, gegee. Om aalmoese aan armes uit te deel, het gewys hoe vroom hulle is.


Jesus bring die kontras van omgee vir behoeftiges wat deur skynheiligheid gedoen word, in die reine. Jesus benadruk hoe die Fariseërs dit verkeerd gedoen het, teenoor die reg doen van ons, Sy dissipels. Armsorg en hulpverlening is vandag nog steeds ‘n groot behoefte. Ongelukkig het dit in sommige gevalle ontaard in ‘n vertoonspel van “If you’ve got it, flaunt it!” Sommiges wat gee, wil in die kalklig wees – hoor hoe goed hulle is; hoeveel hulle doen vir behoeftiges; hoeveel tyd daar gespandeer word om ander te help; hoeveel ure vir behoeftiges gebid word; hoeveel ure spandeer word op uitreike om na behoeftiges om te sien. In die meeste gevalle gaan dit oor eersugtige selferkenning en waardering.


Wat is die motief daarvan? Sien dié wat liefdadigheid ontvang, God in die liefdesdaad raak? Word God wat “verborge is,” (v. 4) daardeur beïndruk? Gaan dit oor om Hom te verheerlik, of oor eie eer? Ons Vader ken almal se motiewe. Jesus verklaar nie ons moet nie indrukwekkend wees nie – meeste Christene is buitendien indrukwekkende mense. Jesus is ook nie teen publieke regverdigheid nie – getrou aan die wet; sout en lig vir die aarde. Jesus se belang is egter met watter motief en gesindheid dit gedoen word.


Is dit dan verkeerd om te gee sonder dat iemand daarvan weet? Geensins, die Bybel is vol voorbeelde daarvan: Gelowiges verkoop hulle besittings en verdeel dit onder mekaar volgens elkeen se behoefte (Hand. 2:45); Numeri 7 lys name van skenkers aan die Tabernakel; 1 Kron. 29 beskryf presies hoeveel die leiers van Israel geskenk het om die tempel te bou. Indien hulle egter na status, reputasie en beloning gesoek het, was dit verkeerd. Die ergste natuurlik is, hulle kry dan erkenning van ander en “skuld” die Here hulle niks meer nie, hulle het klaar hulle loon ontvang van die mense en die media.


Jesus se motivering is dat dit nie gaan oor wat “die mense” gaan sê, of om hulle te beïndruk nie, maar oor God. Jesus motiveer ons juis om te gee, om om-te-gee! Wanneer ons gee, moet ons só draai dat die kalklig nie op ons val nie maar dat die lig na God toe draai sodat Hy verheerlik word. Wanneer mens te breed in die lig staan, is daar nie plek vir ander om in die lig te kan inkom nie en niemand kan dan vir God raaksien nie. Dis goed genoeg as net God sien wat ons doen en met watter gesindheid ons dit doen. Hy sal dan besluit wanneer en hoe om ons te beloon.


“Wanneer mense vir liefdadigheid gee, wil die wêreld weet hoeveel hulle gegee het. Jesus vra egter nie hoeveel hulle gegee het nie, maar met watter gesindheid hulle gegee het?”

(Andrew Murray).


Gebed: Here, maak my sensitief vir mense se behoeftes. Maak my hart soos U liefdevolle hart wanneer ek uitreik na ander en stuur my in die rigting waar iemand om hulp wag, nie waar ék wil en volgens my keuse nie. Wanneer ek daar arriveer om te help, maak my deursigtig dat mense skaars van my sal weet, maar agter my, om my, by my, binne my, U sal sien. Amen.

 
 
 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page