Gedagte vir Vandag
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
JESUS SE VIERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :
DIE AFLÊ VAN ‘N EED (1) – CHRISTENE LEEF IN DIE WAARHEID!
Matt. 5:33-34a – “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie …”
Vergelyk ook Lev. 19:12 – “Julle mag nie ‘n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.”
Jesus bevestig aan Sy luisteraars daar op die berg langs die See van Galilea, dat in die wêreld waar die Romeine op hulle neersien, hulle steeds hoog aangeskryf is by God. Dit was dus onnodig om hulle te laat geld deur die sterk tendens wat by hulle aanwesig was om eedaflegging te misbruik, sodat enigiets bekragtig word. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het ook nie ‘n probleem daarmee gehad dat mense ‘n eed aflê nie, solank hulle dit nie verbreek, of dat dit vals was nie. Hulle kon ook ‘n belofte (eed) aan God maak, maar dan moes hulle dit nakom. Indien dit egter ‘n vrou was of iemand wat van die Noorde in Galilea afkomstig was, is jy kwytgeskeld want die Jode in die Suide het vrouens en Galileërs beskou as mense wat nie weet wat hulle sê of doen nie.
Jesus se vierde teenstelling verwys nie direk na ‘n gebod nie, maar na ‘n bepaling wat handel oor die verstaan van die derde- (God se Naam) en negende gebod (vals getuienis.) Die uitspraak van Jesus: “Maar Ek sê vir julle, moet glad nie ‘n eed aflê nie …” skep ‘n probleem want in bepaalde omstandighede was ’n eed selfs verpligtend (Num. 5:19). Jesus het ook self ‘n eed voor die Joodse Raad afgelê (Matt. 26:63-64) en God teenoor Abraham (Heb. 6:13-14) en teenoor Dawid (Hand. 2:30). Jesus keer terug na die feit dat Hy nie die wet wil verander nie en daarom dit sou beteken dat Hy iets teen ede in die algemeen het nie, maar om onder eed ‘n belofte af te lê.
Waar laat dit ons? Hoe pas ons die derde en negende gebooie toe? Die feit is, dat mens soms onder eed geplaas moet word (in die howe), omdat ons deel is van ‘n oneerlike wêreld. In ‘n perfekte wêreld, ‘n Koninkryks-wêreld van God, sou dit nie nodig gewees het nie. As Christen het ons ‘n verpligting om in die waarheid te leef en dan het ons nie ‘n eed nodig om dit te bevestig nie. Eintlik is ’n eed alleen nodig wanneer ’n mens se woord nie voldoende is nie. Jesus leer ons bid: “Laat U Naam geheilig word” en nie laat mý naam deur U gedien word nie. As ons werklik in diens van God staan, sal ons Sy Naam met eerbied gebruik, beloftes met ‘n eed bekragtig in opregtheid, en net wanneer dit werklik nodig is, maak. Ons kan nie Sy Naam “ydellik” gebruik nie, dit is onbesonne, roekeloos, vals en STRAFBAAR! ‘n Christen wat “sy tong in toom hou”, praat namens Christus, daarom praat hy soos Christus.
‘n Sondige tong het ‘n gewillige oor nodig om die gemene bedrog te versprei. In die negende Gebod sê God vir ons uitdruklik dat ons nie vals getuienis teenoor ‘n ander mag gee nie. Dit gaan gewoonlik gepaard met ‘n voorafgaande “Die Vader weet, ek bedoel dit goed, maar ...” Dit is inderwaarheid om onder eed, en nogal met God as getuie, te skinder. Die leuen word so maklik gebruik om die lewe van ‘n medemens, gewoonlik ‘n medegelowige, ‘n skepsel van die Here, te versuur.
Valse getuienis het al verskriklike gevolge gehad vir die liggaam van Christus. Deur die sonde het die gawe van verkeerde woorde ‘n vorm van haat tussen mense geword. Met dieselfde tong wat ons die Vader loof, vloek ons die mense wat as die beeld van die Vader gemaak is (Jak. 3:9). Dit is so erg dat selfs Dawid al destyds beklemtoon het, “dat net dié wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat, nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand beledig nie, die reg het om in die tempel in te gaan” (Ps. 15:1-3).
God het ons die gawe van spraak gegee sodat ons die liefde vir Hom en ons naaste onder woorde kan bring. Om skinderstories te versprei, is om in dieselfde liga as leuenaars te speel. Ons behoort onsself in ‘n posisie te plaas waar dit nie nodig is om onsself daaruit te probeer lieg nie, en soms nog ‘n eed ook byvoeg om dit te bekragtig nie. Die gevolg daarvan is om sonde by te voeg by sonde. Vermy dinge wat jou sal laat skaam kry indien dit rugbaar word. God eis dat ons ons woord reg sal gebruik teenoor Hom (derde gebod) en teenoor ons naaste (negende gebod).
“As jy die waarheid praat, hoef jy niks te onthou nie” (Mark Twain).
Gebed: Here, hoe is dit moontlik dat ek met dieselfde tong waarmee ek U loof, my naaste beledig en beskinder? Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê (Ps. 141:3). Laat U waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my Redder (Ps. 25:5). Amen.