top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


DIE LIG VIR DIE WÊRELD (1) – DIE VERANTWOORDELIKHEID OM JESUS SE LIG TE WEES IS ENORM!


Matt. 5:14-16 – “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”


Om die impak van hierdie metafoor van Jesus te verstaan, moet ons onthou dat in die antieke tyd daar nie straat-of huisligte was nie. ‘n Maan- en sterrelose nag, was vir die antieke mens ‘n intense ervaring en is gewoonlik gekoppel aan opvattinge van demone en ander bose geeste wat in die nag teenwoordig is. Nagte was pikdonker! Dink maar hoe donker dit by ons is tydens “load-shedding” en dit ‘n maan- en sterrelose nag is!


Jesus beklemtoon dat Hy die Lig vir die wêreld is terwyl Hy in die wêreld is (Joh. 9:5). Wanneer Jesus dus sê dat “ons die lig vir die wêreld is”, is dit eintlik ‘n onvergelykbare kompliment. Hy maak ons net soos Hy is, ligte vir die wêreld. Vir Sy luisteraars daar op die heuwel langs die See van Galilea, was dit ook ‘n bekende vergelyking wat hulle goed verstaan het. Hulle het immers self gespog dat Jerusalem die lig is vir die heidene.


Die primêre doel van lig is om mee te kan sien. Die primêre doel van ‘n Christen is om gesien te word. Wanneer jy opmerk dat dit donker word om jou, moenie die donkerte verwyt nie want dit is wat donkerte doen! Wanneer Jesus ons komplimenteer dat “ons die lig is”, behels dit terselfdertyd ‘n ontsagwekkende verantwoordelikheid om dié dissipel van Hom te wees deur wie Sý Goddelike lig sal skyn om die donkerte rondom ander te verlig! Dit is ‘n enorme verantwoordelikheid vir elke gelowige om te sorg dat hierdie sigbaarheid nie Sondae stop by die kerkdeur wanneer ons daar uitstap nie. Christenskap wat by die kerkdeur stop, baat niemand nie. Kan dit van ons gesê word dat ons ligdraers is van God se koninkryk hier op aarde?


Herken jou kollegas die lig van Christus in jou? Straal die teenwoordigheid van Christus van Sondag, ook deur die week in jou, dáár by jou huis; dáár waar ‘n winkelassistent teenwoordig is; ‘n kelner verkeerde kos bring; die manier wat jy as werkgewer jou werknemers behandel en omgekeerd; die skeidsregter wat ‘n verkeerde beslissing maak teenoor jou span; ‘n vrotbal wat geslaan word op die gholfbaan; die verkeersman wat jou stop; in die kombuis, klaskamer, myn – ja, óral waar jy jou bevind? Jesus het nie gesê ons is die lig vir die KERK nie, maar “julle is die lig vir die WÊRELD!” ‘n Mens se wêreld is sy Christenskap, wat duidelik sigbaar moet wees vir almal om te sien. Omdat geloof in Jesus elke faset van ons lewens aanraak, is die effek daarvan baie sigbaar. God se lig moet toegelaat word om onbelemmerd deur elke gelowige te skyn.


“As ons gewillig is dat Christus ons die lig vir die wêreld maak, hoef ons dit nie te verkondig nie, dit sal self wys. Vuurtorings gebruik nie kanonne om die aandag op hulle te vestig nie, hulle skyn net” (Dwight L. Moody).


Gebed: Here, hoe kan ek U weerkaats as my gesig nie na U gedraai is nie? Help my asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan. U het in my hart ‘n lig laat skyn om my te verlig met die kennis van die heerlikheid van God. Help my om ‘n verskil te maak in die wêreld Here, om ‘n helder getuie van U krag en teenwoordigheid te kan wees sodat die donkerte van dié rondom my, deur die lig van U Goddelike heerlikheid vervang sal word, want sonder U Gees kan ek dit nie alleen doen nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page