E-Kerk : Gedagte vir Vandag

Ons verbind ‘n brandwond van een van die sypaadjie-slapers in Hillbrow terwyl omstanders vir hom bid.
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!
(Matt. 5-7)
VYFDE SALIGSPREKING (3) : GEE JOUSELF!
Matt. 5:7 – “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
Vergelyk ook Hand. 1:8 – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Charles Spurgeon, die bekende Britse teoloog van die 19de eeu, het die volgende aanhaling verewig: “Barmhartigheid beteken nie net om mediese hulp, kos en skuiling te gee aan mense wat dit nie het nie, gee aan hulle ook die woorde van die Waarheid. Mense het die evangelie meer nodig as enigiets anders.”
Hierdie dorsland waarin baie mense verkeer, veral die haweloses wat oral die wind van voor kry, is een van desperaatheid, tragies, bejammerenswaardig en baie gevaarlik. Daar is meestal, nie ‘n tweede kans nie. Omdraai is dalk vir meeste van hulle te laat terwyl hulle siele in gevaar verkeer: “Die loon wat die sonde gee, is die dood …” (Rom. 6:23a). Baie van hulle wéét nie eers van Jesus nie, en dié wat wel weet, voel Jesus het hulle vergeet.
Jesus het vir Paulus na die heidennasies gestuur met die opdrag: “Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die satan tot God kan bekeer”. Is dit nie maar ook Jesus se opdrag aan ons as Sy dissipels nie?
Barmhartigheid is veel meer as die uitdeel van gawes – dit is om jouself te gee. God het nie net gawes gegee nie, Hy het Sy Seun gegee! Ek het die volgende al vertel, maar vergun my om dit weer met julle te deel: Dit was al laat die aand in Hillbrow (“Samaria”). Een van ons gemeente se Uitreikaksies, was besig om onder andere, kospakkies aan die “sypaadjie-slapers” (haweloses) uit te deel. By een van die vyf voedingspunte wat ons dié aand besoek het, nader ‘n jong seun my met ‘n versoek: “Baba, you must come and pray for my madala gran. He is busy dying.”
Ek verlaat ons groepie en volg die seun in ‘n stikdonker steeg in. Hoe dieper die donker in, hoe banger word ek, maar ons beweeg immers in die rigting van iemand met ‘n verskriklike roggel-hoes. Elise Bosch wat die rou kante van Hillbrow ken, het op ‘n keer gesê: “Hillbrow is nie vir sissies nie”, en sy was heeltemal in die kol daarmee! Ek loop binne die jongman vas want hy het gestop. Hy stel my voor aan sy oupa Thabo, wat in die donker, onmoontlik is om te sien. Tussen die aanhoudende-hoes probeer ek die gesiglose groet. Ek sien hom nie maar weet hy’s daar êrens op die grond. Die stank van haweloos-wees hang in die lug, dis verstikkend.
Ek wonder in my enigheid watter siektes ‘n mens hier kan opdoen? Gaan ek nie dalk aangesteek word met daardie onaardse hoes nie? Gaan iemand nie dalk ‘n mes in my rug steek nie, dit is immers ‘Gangsters Paradise’ hierdie? Gaan ...? Gaan ...? My brein werk oortyd. Thabo groet my, tussen die hoesbuie deur, terug in Engels. Hy vra verskoning dat hy nie saam met die ander mense in die ry kan staan vir sy kospakkie nie. Hy klink moeg en baie siek en sê hy is besig om te sterf.
Ek verstik byna van die stank, (waarin het ek my tog begewe?), maar sak op my knieë neer. “Oupa, hoe oud is jy? Ken jy vir Jesus?” hoor ek myself vra en skrik eintlik vir my eie stem! “Ek is 68 en ken nie daai Man nie, nog nooit van Hom gehoor nie. Is Hy wit?” Ek bid hardop vir hom, verskoon myself en gaan haal ‘n Engelse Gideons-Bybeltjie by Hester, skryf Thabo se naam daarin en begewe myself weer in die donker stegie in. By die hoesbui gaan sit ek en vertel vir Thabo van Jesus wat vir hom ook lief is en vir hom omgee. Hy bevestig hy kan Engels lees en sal die “boekietjie” lees by die dag, want die nag druk hom dood!
‘n Maand later tydens die volgende uitreik, sien ek die jong seun in die ry staan vir ‘n kospakkie. Hy glimlag breed en wys my die madala wat voor hom staan. “Thabo?” Hy draai na my toe, steek sy hand in sy vodde broek se sak en haal ‘n vuil Bybeltjie uit, hou dit in die lug en vertel aan almal wat wil hoor: “The Jesus of this Bible, brought me here. Next time I’m going to be front in the line, because I will then be able to run.”
Wat het hier gebeur? Thabo het nie skielik beter geword omdat ons so oulik is nie, inteendeel, daar is na Thabo gekyk deur God se oë, dit het gegaan oor die Here se eer. Daar het ‘n Lig in die donker wêreld van haat, selfsug verwerping en hoogmoed in ‘n eenvoudige boemelaar met ‘n naam Thabo, se lewe begin skyn – “die werke wat God doen, kon in Thabo gesien word” (Joh. 9:3). Gelukkig het Paulus nie opgehou skryf ná die eerste deel van Romeine 6:23 van ons teks hier bo nie, maar die wonderlike vrede wat ons met God kan beleef, voltooi met: “… die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23b).
“Stille, praktiese Christelike barmhartigheid het al meer mense vir die koninkryk gewen as godsdienstige ywer of teologiese geleerdheid” (Frederick William Faber).
Gebed: Here, natuurlik is ek gewillig om enigiets vir U te doen, maar ... daar is ‘n paar voorbehoude. Ek meen, ek wil my darem nie in ‘n ding begewe wat buite my normale kapasiteit lê, of wat indruis teen my bekende lewenstyl nie. Toe ek gemeen het ek sal vir U goeie werke doen het ek nie verwys na die plakkerskampe, die vigskliniek of die boemelaars nie, Here. ‘n Beskaafde mens kan siektes daar optel. Ek weet ek is veronderstel om myself onvoorwaardelik te gee vir diens aan U en my naaste. Miskien eendag as ek ouer is, Here. Toe ek gesê het ek gee my lewe aan U oor, was dit tog net beeldspraak, Here. Dit was net teoreties en nie eintlik ‘n feitelike stelling nie. U verstaan dit mos so Here? Hoe nou, Here? U vra of U kruisdood ter wille van my ook net teoreties was? (Gebed deur Flora Larsson, effens verkort.)