E-Kerk : Gedagte vir Vandag

Murasies van die “Sinagoge in Kapernaum” waar Jesus volgens oorlewering ook gepreek het.
DIE EERSTE OPTREDE VAN JESUS (2) – DIE GEES SKENK ONS DIE WIL OM GOD SE WIL TE DOEN!
(Mark. 1:14-15; Luk 4:14-15)
Matt. 4:17 – “Van toe af het Jesus begin preek en gesê: ‘Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Die eerste boodskap wat Jesus gebring het nadat Hy uit die versoeking in die woestyn gekom het, is die inhoud daarvan, volgens Matteus, presies dieselfde as dié van Johannes die doper: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Jesus kondig aan, eerstens wat van God se kant ’n werklikheid geword het: die tyd is vervul en die koninkryk is naby; en tweedens hoe die mens hom teenoor hierdie werklikheid moet stel: bekeer julle en glo. By die twee predikers is daar egter ’n verskil van beklemtoning. Die Doper het die dreigende oordeel van God voorgehou as rede waarom mense hulle moes bekeer terwyl Jesus dieselfde boodskap bring van die koms van die koninkryk, maar verkondig dit as evangelie, as vreugdeboodskap. Jesus verlang van Sy hoorders (en lesers) ’n heelhartige aanvaarding van, en ’n volhardende vertroue op die evangelie as die waaragtige heilsboodskap wat van God kom.
Jesus se boodskap kom van ‘n Bron buite Homself, dit kom van God af. Dit is nie ‘n uitdrukking van Sy opinies nie, dit is die stem van God wat deur Jesus oorgedra word aan Sy hoorders (en lesers). En daardie boodskap was, en is steeds die gevolg van ‘n nuwe situasie: “Bekeer julle ...” Draai weg van julle ou weë en volg die pad na God. Ewigheidstyd het wêreldstyd ingeneem: God het die wêreld ingeneem deur Jesus Christus en daarom is dit van uiterste noodsaaklikheid om die regte pad te vind wat na God toe lei, dat ek Jesus vertrou om Sy heerskappy oor my lewe uit te leef, dat ons verhouding groei en ontwikkel!
Oor bekering is daar deur die eeue al baie vrae gevra en net soveel boeke geskryf oor die verskillende opinies van “eerste bekering” en “voortgaande bekering” – “eerste bekering” van mense (heidene) wat hulle tot God bekeer en “voortgaande bekering” van mense wat reeds die ware God dien en gedurig van hulle sonde moet ontslae raak en hulle gesindhede verander – hieroor vertel Jesus vir ons presies wat om te doen deur die res van die evangelie volgens Matteus.
Sommige Christene glo bekering beteken eenvoudig om “om te draai, ‘n u-draai te maak en jou lewe te verander.” Dit is ook reg, maar die Bybel sê vir ons bekering gaan oor baie meer as dit. Die letterlike betekenis van die woord “bekering” in die Nuwe Testament is “om berou en selfverwyt te voel vir jou sonde teen God, om van rigting te wil verander, nie net daaroor te tob of praat nie, maar dit daadwerklik dóén en die Heilige Gees toe te laat om beheer van ons lewe te neem – dat jy alles in gehoorsaamheid aan die Woord van God doen, want “’n mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (v. 4).
Paulus verklaar dat ware berou lei tot bekering: “… droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei … Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood” (2 Kor. 7:10). Bekering is nie ‘n eenmalige belewenis wat ons in ‘n oomblik van krisis beleef en dan veroorsaak dat ons lewe verander nie. (Dit hou soms ook net vir ‘n kort tydjie soos byvoorbeeld nuwejaarsvoorneme.) Augustus Toplady, ‘n Britse prediker van die 18de eeu het “bekering deur ware berou” as volg beskryf: “’n Mens kan verander sonder ware berou, maar geen mens kan ware berou betoon sonder morele verandering nie. Verandering verf net die huis, bekering breek die ou huis af tot op die grond en bou dit weer van die grond af op. Verandering vernis net die buitekant van ‘n voorwerp; bekering breek die voorwerp totaal af en skep ‘n nuwe een.”
Bekering beteken ‘n verandering is nodig en dit gaan nie net om ’n uiterlike leefwyse nie, maar om ’n radikale innerlike lewensvernuwing wat gelyk is aan ’n nuwe geboorte. Dit gaan om ’n nuwe geboorte of ’n wedergeboorte wat uit die hemel deur God bewerkstellig word en die mens ‘n hartsverandering laat ondergaan, en tot ’n kind van God maak: “Dít verseker Ek (Jesus) jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Dit is radikale taal! Om een van God se mense te kan wees, het jy ‘n hergeboorte nodig. Hierdie nuwe geboorte kom van God af. Dit is nie ‘n geboorte uit ‘n mens nie, dit is ‘n geboorte uit die Gees.
Dit is wat God met ons doen. Voel ons nie ook maar soms geestelik moeg en afgemat nie? Struikel ons nie maar soms ook net meer en meer nie? Voel ons nie soms dat ons geloof nie meer die moeite werd is nie? Harder probeer gaan nie werklik help nie. Meer dissipline is nie die oplossing nie. Iemand het gesê: “Berou oor sonde is soos ‘n ewigdurende sagte reën wat vir ‘n waarlik geredde mens die res van sy lewe duur. Hy het altyd berou dat hy gesondig het. Hy staan naak voor God en sal nooit ophou treur totdat alle sonde verdwyn het nie.” God se boodskap is eenvoudig: “Dit is nie wat jy doen nie, dit is wat Ék doen. Ek het deur my Gees by jou ingetrek en jou nuutgemaak. Ek het jou harde hart in ‘n sagte hart verander, ‘n omgee hart. Lewe vanuit en deur die Gees, en mettertyd sal jy net soos Paulus kan sê: ‘En dit is nou nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal. 2:20).
“Bekering vind dalk in ‘n oomblik plaas, maar die proses om van sondigheid tot ‘n nuwe lewe te beweeg, is ‘n lang en moeilike reis” (Robert H. Benson).
Gebed: Dankie Jesus dat U nog steeds besig is om met lewende woorde aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het, dat “die koninkryk van die hemel naby gekom het.” Help my om gedurig naby U te wees sodat ek dit aanhoudend kan hoor. Gees van Christus, bring almal wat weg beweeg het van hierdie lewende woorde, asook hulle wat nog nooit dit gehoor het nie, om in God se teenwoordigheid in te kom. Was hulle in die “bad van wedergeboorte.” Laat elkeen wat hoor in geloof reageer, die Woord sê immers dat God “ons gered [het] deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit. 3:5). As sondaars kan ons nie ons eie harte verander nie, net U kan maak dat ons ‘n nuwe skepping is. Dankie vir U hulp! Amen.