top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LAASTE OPDRAGTE (3) – “FAKE NEWS!”


Rom. 16:17-18 – “Ek druk julle dit op die hart, broers (en susters): Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.”


“Daar gaan ’n tyd kom wanneer mense nie meer in God se verlossende boodskap sal glo nie. Mense sal hulle rug op die evangelie draai en dit as bog afmaak.” As ek kyk na sommige stories in die koerante en op sosiale media, wonder ek of die tyd nie al aangebreek het nie. Het die volgende woorde van Paulus aan ‘n jong Timoteus nie dalk al in ons tyd waar geword nie? “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is” (1 Tim. 4:1-2). Dit gebeur wanneer liggelowige mense hulle ore uitleen aan dwaalleraars wat kamma goed is, maar eintlik almal kul en vir almal lieg. Hierdie woorde van waarskuwing, kom nie sommer van ’n gewone mens nie, maar word deur die Gees van God oorgedra. Die woorde het krag en ons moet dit ter harte neem.


Daar is soveel kerke en soveel verskillende gelowe vandag. Hoe weet ek watter een is reg? Het jy al gewonder of jy die regte godsdiens beet het? Wanneer ek so na al die ander godsdienste kyk en sien hoe dedicated hulle is, hoeveel moeite hulle doen en die ure wat hulle opoffer vir hulle geloof, glo ek dat baie mense ook al gewonder het of ons Christene op die regte paadjie is. Daar is baie antwoorde op al die vrae en nie één sal seker almal tevrede stel nie. Dit is eintlik ‘n jammerte dat daar soveel verskillende kerk denominasies in ons dag bestaan – die liggaam van Christus word hier op aarde verder en verder in stukke geskeur.


Gelukkig hoef ons Christene nie te wonder oor al die vrae en stellings deur die sogenaamde “kenners” nie. Daar is ‘n paar waarhede wat ons kan help om ware geloof van valse geloof te onderskei, want die Bybel kom gee vir ons gemoedsrus: “Dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan Sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem” (1 Tim. 3:16).


Toe ons kinders was, het ons altyd gesê: “strues nannies.” Ons kan maar ophou wonder of ons in die regte God glo. Hier sê Paulus dit vir ons in ’n brief wat 2 000 jaar gelede geskryf is. En sentraal in ons geloof hang Jesus aan die kruis waar Hy vir my en jou die hekke van die hemel oopgesterf het. Nou kan jy vir my sê dat daar in ander gelowe ook sulke “redders” was. Waar lê die verskil dan? In die feit dat Jesus nie aan ’n kruis bly hang het of in ’n graf bly lê het nie. Nee, ons Jesus is anders, want God het Hom laat opstaan uit die dood. Hy het Hom laat opvaar na die hemel, Hy lééf! Dit is die hartklop van die Christendom. As ons dit vergeet, het ons die hele Christendom misgeloop.


God is sterker as die dood. Vir al die ander godsdienste is hierdie laaste hekkie die een waaroor hulle elke keer val. Dit lyk deesdae asof baie kerkmense se godsdienstige geheue hulle in die steek gelaat het. Hulle het een ding vergeet: “Jesus is uit die dood opgewek” (2 Tim. 2:8b). Daarom verkondig die sogenaamde teoloë en leermeesters vandag ‘n tipe van “social gospel” om nasionale waardes soos godsdienstige verdraagsaamheid en gelykheid te bevorder. Wanneer ons vergeet het dat Jesus uit die dood opgestaan het, maak dit volgens hierdie mense nie saak in watter geloof jy is nie, alle godsdienste lei na God toe.


Nee! Paulus sê ‘n duisend maal nee! God sê nee! Dit is ‘n leuen wat deur satan geskep is!!! Christus het die dood oorwin, Hy alleen maak die pad na God toe oop. Ons Christene kan saamstem met Paulus oor hierdie waarheid, ons kan dit met ons lewe glo, ons kan selfs daarvoor sterf – dit is nog steeds die waarheid wat ons pad na God toe oopsluit: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeester was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim. 3:14-17).


Dankie tog! Ons ís op die regte pad! God se pad deur Jesus Christus. Dit besef ek nou, maar die vraag is: “Wat gebeur met mý as ek besef ek is op die regte pad? Verander dit die manier waarop ek leef?” Dit is vrae wat net jy saam met die Heilige Gees wat in jou hart woon, kan beantwoord. Soos ek dit verstaan, moet daar êrens iets anders wees. Op ’n manier moet ek nou dit waarin ek glo, uitleef. Die oorspring van die laaste hekkie moet so sigbaar word in my lewe dat ander nie anders kán as om ook te wil weet wie is die Een wat nou my lewe beheer nie.


Wat beteken dit in verstaanbare Afrikaans? Gaan leef jou lewe as ’n verloste kind van die ware God. Gaan maak ’n verskil aan alle mense daar buite – maak nie saak waarin hulle glo nie. Gaan vertel van die verlossing en vryheid wat jy ontvang het. Dit is belangrik dat ons sal seker maak dat ons elkeen op die regte pad is. Dat ons op God se pad is. Ons moenie ons ore uitleen vir ander se stories nie, want sonder dat ons dit agterkom, is satan agter daardie woorde. So maklik vermom die duiwel hom en ons trap pens en pootjies in die strik. Op ons eie is ons eenvoudig net te kragteloos om die vyand aan te vat. Daarom moet ons elke dag ruimte maak vir die stem en die werking van die Heilige Gees. Gebruik die Bybel as kompas en koersaanduider. Dit wys vir ons hoe ons moet lewe. Dit is die lig vir ons pad en die lamp vir ons voet (Ps. 119). Dit toon vir ons die regte pad na die lewende God se wêreld toe aan – dit is die ENIGSTE KORREKTE ADRES!!!


“Ons is die kragdraad, Christus is die elektriese stroom. Ons enigste krag lê daarin om dié stroom deur ons te laat vloei” (Carlo Coretto).


Gebed: Here, ons word so maklik om die bos gelei. Ons stap maklik agter mense aan wat lyk asof hulle alles weet. Beskerm ons teen hulle en help ons om ons verantwoordelikheid na te kom deur seker te maak dat ons op die regte pad is. Vader, U is die enigste weg. U is die enigste ware God. Sonder U is daar geen rigting nie en ploeter ons net rond. Help my om ruimte te maak vir U Gees. Help my om so te leef dat dit my geloof weerspieël. Help my om nie agter my eie neus aan te stap nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page