top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE PLAN OM ROME TE BESOEK (1) – GOD SE KRAG IN MY SWAKHEID!


Rom. 15:22-24 – “Dit is dan ook die rede waarom ek baie keer verhinder is om na julle toe te kom. Maar nou is daar vir my in hierdie streke nie meer ‘n nuwe arbeidsveld nie, en ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek as ek Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers ‘n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis.”


Vergelyk ook Joh. 14:12-13 – “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.”


Die waarskynlike rede dat Paulus, ondanks herhaalde voornemens, nog nooit die gemeente in Rome besoek het nie, was omdat die Heilige Gees hom verhinder het om te gaan alvorens sy werk in die Oostelike streke van die Romeinse Ryk, afgehandel was (Hand 16:6). Sy arbeid in die Oostelike streke is nou afgehandel, “daar is vir hom in hierdie streke nie meer ‘n nuwe arbeidsveld nie”, en kan ‘n jarelange begeerte om na Rome te gaan, vir hom in vervulling tree. Paulus sit sy planne vir die toekoms uiteen en wanneer hy dit doen, dink hy nie klein nie.


Dit is natuurlik nie verkeerd om deeglik te beplan wanneer dit by die werk wat ons vir God moet doen, kom nie. Alhoewel ons beskeie moet wees, moet ons nie te klein dink oor die dinge wat God deur ons kan doen nie. Jesus sê immers self: “Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen.”


Die geloof bring nie net kennis van die Vader nie, maar ook toerusting vir die lewe. Met groot klem verklaar Jesus dat elkeen wat in Hom glo, en uit genade die saligheid verkry het, sal ook die gawe ontvang om die dinge te doen wat Jesus doen, en selfs groter dinge as dit. Deur die geloof ontvang ons as gelowiges in Christus, die krag om die arbeid in die koninkryk van God te doen. Die bedoeling is nie dat die gelowige net sulke wonderwerke sal doen as Jesus nie, maar dat hy die werk van die koninkryk sal kan doen. Dit gebeur omdat Jesus na die Vader gegaan het, Sý werk op aarde was voltooi maar daardie werk moet voortgesit word deur sy apostels en trouens, deur elke gelowige.


Die goeie nuus is dat God swak mense of eerder, mense met swakhede gebruik om in Sy arbeidsveld te werk - Hy het begin met eenvoudige vissermanne! Verder is die Bybel vol voorbeelde van gewone mense wat God gebruik het om, ondanks hulle swakhede, buitengewone dinge te laat doen. Ons is broos en vol foute maar met die intieme samewerking van die Heilige Gees, word ons instrumente in die hande van ons Here. God sal ons gebruik indien ons Hom toelaat om ons te gebruik: “En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe” (2 Kor. 13:4). God word nie deur ons beperkings beperk nie, “ ... die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” (2 Kor. 4:7b).


Ons moet dus nie ons invloed in die uitbreiding van God se koninkryk onderskat nie. Toe ons gelowiges geword het, het ons ook God se boodskappers geword. God wil deur elkeen van ons met die wêreld praat: “Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God” (2 Kor. 2:17). God nooi ons uit om deel te wees van die grootste en belangrikste saak in die geskiedenis, deel te wees van Sy koninkryk. Soms voel ‘n mens jy het niks wat jy kan deel met ander nie, maar dis die duiwel wat jou mond probeer snoer. Elkeen het ‘n storie, ‘n getuienis wat gedeel kan word, en jou storie is uniek want dit is eie aan jou: “Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart ...” (1 Joh, 5:10).


“Soos sneeuvlokkies is Christene broos, maar wanneer hulle saamkoek, kan hulle die verkeer tot stilstand bring” (Vance Havner).


Gebed: Leer my, o Gees van God, om in harmonie met my Verlosser te leef en nie uit eie krag en wysheid U getuie te probeer wees nie. Dankie dat ek deel kan wees van die grootste en belangrikste saak in die geskiedenis, deel van U koninkryk. Dankie dat U krag tot volle werking in my kom, juis wanneer ek swak is (2 Kor. 12:9). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page