top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE IS VIR ALLE MENSE (3) – DIE GEES LEI ONS DEUR BEPROEWING NA OORWINNING!!


Rom. 15:13 – “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”


Vergelyk ook Jak. 1:2-4 – “My broers (en susters), julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”


Paulus se evangeliese hart kan net nie ophou hunker na die seën van die Here oor Sy kerk nie. Hy sluit hierdie gedeelte af met ‘n gebedswens dat “God as die bron van hoop”, ons Christene deur die geloof met vreugde en vrede sal vervul sodat ons Christelike hoop sterker sal word.


Deur beproewing word ons geloof gelouter en sterker gemaak! “What a statement” om mee te begin! Tydens beproewing en lyding kan ons wel bly en vol moed wees, ons “geloof met alle vreugde en vrede vervul.” Ons moet steeds bid, aanhoudend bid, dat ons tot die einde toe standvastig sal bly in die geloof, om uiteindelik die kroon van oorwinning te kry. Om Christen te wees is nie altyd maklik nie. Wie nie gewillig is om homself te verloën en seggenskap oor sy of haar wil en lewe prys te gee nie, kruis op te neem en saam met die doemprofete hulle hande nie in wanhoop die lug ingooi nie, kan nie ‘n dissipel van Christus wees nie. Op aarde is ons Christene kruisdraers – maar dan tog ook ‘n kruisdra wat vreugde en vrede meebring – geen kruis, geen kroon! Ons kan nie anders nie: “God is die bron van ons hoop.”


Hierdie kontras – vreugde te midde van pyn en lyding – is vir die wêreld onverstaanbaar. Dit is so omdat die wêreld nie vir Jesus Christus ken nie. Hulle is die pessimiste wat geen goed in die wêreld kan sien nie en soos doemprofete verkondig dat die toekoms omsluier is in verdoemenis en hulpeloosheid. Dit is hulle wat nie wil aanvaar dat Jesus Christus, die vol kruis en gruwel van “Donker Vrydag” in “Goeie Vrydag” omskep het nie en daardeur God se almag soos nog nooit tevore, in ‘n kaal kruis van Paassondag verander het nie. God het juis vir Jesus uit die dood opgewek om die sonde en die dood te oorwin en toe die Heilige Gees vir ons gestuur om ons lewe as oorwinnaars in Christus te kan leef en “sodat ons hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!


Toe Jakobus, (broer van Jesus), oor swaarkry en blymoedigheid aan die woord gestel is, was hy besorgd dat die gelowiges gaan afdwaal, daarom moedig hy hulle aan om met ‘n ander perspektief daarna te kyk. Ons kan nie by die kruis vertoef nie, maar wel anderkant die leë graf van die opgestane Jesus. Geestelike groei ontwikkel wanneer uitdagings met vreugde aangepak word. Vir ons geestelike groei is beproewing belangrik omdat dit ons leer om in die geloof te volhard. Geloofsvolharding volg wanneer versoeking nie meer ‘n houvas op ‘n mens het nie.


Dit is teen die grein van ons menswees om “bly te wees wanneer allerlei beproewings oor ons kom.” Dit gaan egter nie oor die vreugde as sodanig nie, maar die positiewe gevolge daarvan. Christus het reeds alle beproewings weerstaan en oorwin, ons moet net aan Jesus se belofte vashou en glo dat die “die Gees van die waarheid, ons in die hele waarheid sal lei” (Joh. 16:13). In alle omstandighede gaan dit egter net oor ons geloof daarvan want ons verloor maklik hoop en ons verhouding met God word geraak wanneer dit sleg gaan met ons. Ons raak moedeloos en is dit dan menslik om te twyfel in God se bestaan. Sonder hoop wend ons ons toe tot wêreldsdinge en bronne, gee ons m.a.w. toe aan die druk van omstandighede.


Die antwoord lê daarin dat “die volharding moet end-uit volgehou word sodat ons tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” Ons moet dus geestelik groei in geloof, sodat versoekings nie meer ‘n houvas op ons kan kry nie. Énige verhouding groei deur interaksie, interaksie met die Gees. In ons swaarkry ervaar ons die werklike betekenis van gemeenskap met God en namate ons in ons omgang met God volhard, raak ons ryper Christene en dan kan ons God dien in oorvloed.


Dit is die Gees van God wat aan ons, deur Jesus Christus, die geloofsoorwinning gee sodat ons ook saam met Paulus, die geloofsmaraton met sukses kan voltooi en kan sê: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou” (2 Tim. 4:7). Ons Christene moet net vasbyt in die geloof soos die atleet van die Hebreërs skrywer “... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1). Dan sál “God, die bron van hoop, ons deur ons geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat ons hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”


“Christus het die dag van Sy wederkoms versteek sodat ons gedurig in spanning moet verkeer en daarom op die uitkyk sal wees” (Martin Luther).


Gebed: Here, ek verheug my ook in my swaarkry, want ek weet: “swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in my hart uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan my gegee het” (Rom. 5:3-5). Help my daarom om te volhard in Bybelstudie, gebed, gemeenskap met ander gelowiges, in die uitdra van die evangelie, die aflê van sondes en die vervulling van die Gees. Dankie dat ek as “oorwinnaar alles sal erf en drink uit die fontein van lewenswater, heerlik, rein, en God oor my sal skyn” (Liedboek 602:5). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page