top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


RIGLYNE VIR DIE CHRISTELIKE LEWE (13) – JESUS SE “GOUE REËL” LAAT DIE LIEFDE ALTYD WEN!


Rom. 12:21 – “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”


Vergelyk ook Matt. 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Paulus vat nou in ‘n sekere sin alles saam wat hy vanaf vers 17 bespreek het, en beklemtoon dat ons Christene oorwinnaars is, oorwinnaars oor die kwaad wat óns kan oorwin, indien ons die kwaad vertroetel. In die kompetisie tussen goed en kwaad, wat die ganse geskiedenis van die mensdom al aan die gang is, móét ons Christene oorwinnaars wees teenoor die kwaad want “ons is in al hierdie dinge meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom. 8:37). Jesus Christus is besig met Sy triomftog deur die wêreld en “Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus” (2 Kor. 2:14).


Verloor is vir ons Christene dus nie ‘n opsie nie. Ons mag nooit aanvaar dat die kwaad van liefdeloosheid, onverdraagsaamheid, wraak, onvergewingsgesindheid, of watter sonde ook al, plek maak in ons harte nie. Dit veroorsaak later wonde in die hart en indien dit nie behandel word nie, raak dit ongeneeslik. Van nature is ons geneig om in verdeeldheid en konflik te leef. Elkeen jaag eie belang na en liefdeloosheid en selfsug lê baie na aan die hart. Die Bybelse en kerkgeskiedenis is tot in die hede, vol voorbeelde van konflik, onvrede en selfs gewelddadigheid tussen Christene. Maar, dit behoort nie so te wees nie, want ons behoort aan die Prins van Vrede – Jesus Christus is ons Vrede daarom moet ons die “kwaad oorwin deur die goeie.”


Hoe oorwin ons die kwaad deur die goeie? Jesus het amper aan die einde van Sy Bergpreek die “Everest van álle etiese leringe”, geuiter: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Dit is asof Jesus wil sê: “Voortvloeiend uit al die voorafgaande uitsprake wat Ek julle nou hier op die berg geleer het, (Matt. 5 tot 7), het julle as My dissipels nie ‘n ander keuse as om dié liefde op presies hiérdie wyse in die koninkryk van God tot uitdrukking laat kom nie.”


“Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen”, staan bekend as die “Goue Reël van Jesus.” Dit is maar net één manier om die “kwaad te oorwin deur die goeie.” Dit kan egter nie uit konteks gebruik word nie. Dit kan nie ‘n los gesegde wees wat ons kan gebruik wanneer ons dit nodig het nie. Dit geld vir álle tye in álle omstandighede, of glad nie. Jesus koppel hierdie grondbeginsel aan al Sy vorige uitsprake of opdragte, met ander woorde, as jy daarvan hou om sagmoedig behandel te word, behandel ander sagmoedig; as jy daarvan hou dat ander in vrede met jou moet leef, leef in vrede met ander; as jy daarvan hou dat ander jou met respek behandel, behandel ander met respek; ons Vader oordeel niemand vals nie, daarom moet ons ook nie ander vals oordeel nie; en so kan ons aangaan om aan te haal vanaf al die opdragte want “dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Wat Jesus dus vra is dat ons hierdie “Goue Reël” moet volg in geloof. Dit lyk asof hierdie “goue reël” die mens in die norm plaas om aan ander te doen wat vir jou lekker is. Die norm is soos wat Jesus dit uitspreek en nie wat vir ons goed lyk nie, maar wat God van ons vereis. Trouens, as die volle reikwydte van hierdie uitspraak van Jesus reg verstaan word, is dit nie sommer ‘n gemaklike ou reëltjie wat sommer so maklik in sekere omstandighede op die tong geneem kan word nie. Só wil God hê dat ons as mense van Sy koninkryk moet lewe – in liefde met Hom en met mekaar. Daar is dus nie plek vir kwadegevoelens of -gedagtes in ons hart nie, maar die “Goue Reël” wat ons leefwyse word indien ons die Heilige Gees toelaat om dit in ons lewens te bewerkstellig. Dan word ons minder en God meer. Die Gees maak ons nuut en leer ons om standvastig te bly om op Sy pad te stap en nie ons eie pad nie. Dít is hoe ‘n Christen is, lyk en optree!


“Die toets vir dissipelskap lê nie in mooi woorde, vroom belydenisse en grootse toewyding nie, maar in elkedagse doen van die regte dinge” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Here, ek wil ‘n toegewyde dissipel wees in ons Vader se koninkryk deur U “Goue Reël” daagliks toe te pas. Alleen kan ek dit egter nie doen nie, daarom het ek U, Heilige Gees, nodig om dit in my lewe te bewerkstellig. Weerhou my van haastige woorde, onsensitiewe aanmerkings, indringerige vrae, dinge wat ander seer maak. Gee my ‘n fyn aanvoeling sodat ek in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen, “die kwaad te oorwin deur die goeie.” Amen.

 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page