Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Aug 18
- 4 min read
Maandag, 18 Augustus 2025
Koos Espach
Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (1)
God vir ons
Rom. 8:31 – “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?”
Ons kry die indruk dat Paulus terugsit en diep asemhaal nadat hy Romeine 5:1 tot 8:30 klaar gedikteer het aan Tertius, en dan vra: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?” Dan antwoord hy homself dat hierdie gedeeltes, nie net die gevolge van die vryspraak van God vir sondige mense uitspel nie, maar ook vir die hele skepping. Dit is nie net God se kinders wat bevry sal word om in vrede met God en met vrye toegang tot Hom kan lewe nie. Nee, dit is ook die skepping wat bevry sal word.
Daarom kan hy nie anders as om hierdie gedeelte met ‘n triomflied af te sluit nie. En om hierdie triomflied te ondersteun, vra hy aan die destydse gemeente in Rome vyf retoriese vrae. Dit is belangrike vrae, vrae wat eintlik in ons tyd ook van toepassing is. Trouens, dis vrae wat eintlik nie vir ons nuut is nie, want ons het sekerlik een of ander tyd dieselfde vrae al gevra, elkeen met ons eie antwoorde.
Kom ons kyk na Paulus se eerste vraag. Dit kan eintlik ‘n stelling ook wees: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” As God aan my en jou kant is, wat wil ons meer hê? Ons kan dan nie anders as om saam met Paulus ook hierdie gevolgtrekking te maak nie. Die uitsetting van “al hierdie dinge”, verskaf die rede: “Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (v. 17).
Die slegte nuus is egter, dit beteken nie ons sal geen teenstanders hê nie. Dit sal indruis in elke Christen se ervaring. Daar is baie mense wat verwerp voel en glo dat niemand hulle liefhet nie. Die oorsake is wel bekend aan elkeen en ‘n legio redes kan daarvoor verantwoordelik wees: liefdeloosheid, gebroke verhoudings, teleurstellings, moedeloosheid, lyding, ontnugtering, noem maar op. Tog, wanneer ons daardie punt bereik het waar ons voel dat die lewe niks verder het om te bied nie, sê Paulus: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?”
Ons logika kan nie begryp hoe groot God se liefde en genade is vir sondaarmense, vir my en jou is nie. “God is vir ons” – vier wonderlike woorde wat vandag steeds van toepassing is op “elkeen wat glo dat God mens kom word het” (Joh. 1:14), sodat ons nooit in die steek gelaat kan word nie. Wanneer almal ons verlaat het, ons vriende en in sommige gevalle selfs ons familie, omdat ons Christenskap aanstoot gee en ons nie inpas by hulle lewensstyl nie, kan ons weet, God het nie. Daarom het Jesus Christus aan die kruis met ‘n laaste sterwende asem hard uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark. 15:34). Daardie uitroep van Jesus was die versekering dat ek en jy nóóit weer verlate van God sal wees nie!
“God is (elke oomblik) vir ons”, elke sekonde, minuut, uur, 24/7. Hy was nie eens op ‘n tyd, of sal nie eers eendag wees nie, Hy ís. Ons hoef nie in ‘n tou te staan om dit te hoor of môre weer terug te kom omdat die “sisteem van lyn af is” nie, Hy ís nou by ons! Die wonderlike hiervan is dat God se teenwoordigheid nie bepaal word deur ons modderspore vol sonde wat oral agter ons lê nie. Hy het reeds ons afrdraaipaadjies uitgevee met sy kruisuitveer!
“God is vir ons”, Hy kies ons part. Hy nooi ons elke oomblik uit om met Hom in gebed te praat en sy troonsaal in te stap. Hy deurdrenk ons met sy hemelse krag. Hy moedig ons gedurig deur sy Gees aan om nie moed op te gee nie; Hy leer ons deur Sy Gees om droefheid te hanteer – “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 2:10b).
“God is vir ons”. Hy verseker ons: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer” (Jes. 49:6). Iemand het dit eendag treffend soos volg uitgedruk: “As God ’n kalender gehad het, sou jou verjaarsdag datum daarop omkring gewees het. As Hy ’n motor gehad het, sou jou naam op die bufferplakker gestaan het. As daar ’n boom in die hemel is, sal jou naam in die bas uitgekerf wees. Ons hoef nie God te probeer beïndruk nie, Hy ken ons. Ten spyte van wat mense van ons dink, sê of aan ons doen; ten spyte van ons gevoelens van moedeloosheid en lyding, is die genade en liefde van God in ons. Hy vul ons daagliks met nuwe hoop en vertroue. Hy verseker ons elke oomblik: “God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?”
“Al wat ons nodig het, is ‘n gelowige hart. God sal ons as’t ware met die hand lei; daarom moet ons meer konsentreer op ons liefde vir Hom as op ons vrees vir mislukking” (Francois Fénelon).
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ek in U ‘n veilige vesting vind. Dankie dat U liefde my ook deur donker dieptes dra. Dankie dat U vir my is, daarom kan niks of niemand teen my wees nie. Ek glo dit en ek vertrou dit. Laat U Gees my gedurig daaraan herinner. Amen.

Comments