top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Aug 20
  • 4 min read

Woensdag, 20 Augustus 2025

Koos Espach


Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (2)


God sal voorsien


Rom. 8:32 – “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom skenk nie?”

 

Vergelyk ook Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie ... . 26Kyk na die wilde voëls ... . 28Let op na die veldlelies ...”

 

Paulus redeneer hier van die grootste na die kleinere. God gee aan ons die grootste gawe – sy Seun – en daarom is dit vanselfsprekend dat Hy ook vir ons al die ander dinge wat ons nodig het, sal gee. Dit is ‘n bewys dat as “God vir ons is, niks teen ons kan wees nie” (v. 31). Paulus gaan sy tweede vraag voor, deur God se uitnemende liefde vir ons te beklemtoon met Jesus se sterwe aan die kruis – “God het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red.”

 

“God het Sy eie Seun nie gespaar nie”, want sy liefde is geen spaarsame liefde nie. Waar God bereid was om tot sulke uiterstes te gaan, spreek dit vanself dat Hy aan sy kinders ook uit genade, “al die ander dinge saam met Christus” sal skenk. Wie aan Christus verbind is, ontvang uiteindelik alles wat Hy verkry het: “die volle hemelse erfenis van die ewige heerlikheid (v. 17). Alles is egter nie dieselfde as enigiets nie, dit sluit slegs alles in wat volgens God se raadsplan en volgens sy wil, vir sy kinders bestem is.

 

Ons eerste reaksie is gewoonlik: “Ja, maar...”. Ons besef God is ‘n vrygewige God, maar ons bly steeds bekommerd – oor môre, ons toekoms, ons werk, ons kinders, alles. Gesprekke deesdae gaan meestal oor die toekoms wat maar donker lyk en dan volg ‘n hele relaas oor die sogenaamde “feite” daaroor. Elkeen se storie is meer verdoemend as die ander. Daar is volgens hierdie “kenners” nie meer ‘n toekoms in Suid-Afrika nie.

 

Wanneer ons as gelowiges probeer om positief te verwys na Jesus se versoek om nie bekommerd te wees nie, om na die wildevoëls en veldlelies te kyk ... (Matt. 6:25-34), word ons vinnig in die rede geval en daaraan herinner dat Jesus eenvoudige blommetjies en voëltjies wil vergelyk met mense se sukkelbestaan. En hulle redenasie: met respek, Jesus verstaan nie hoe die wêreld nóú daar uitsien nie. Wel, ek het tot dusver nog nie ‘n kraai met plooie gesien nie!

 

Daar is baie mense wat wonder oor die stukkie pad wat God vir hulle afgemeet het, mense met verpletterde drome, hartseer en moeilikhede, mense wat nie weet waar hul volgende stukkie kos vandaan gaan kom nie. Werkafleggings is aan die orde van die dag. Gegradueerders sit by die huis, hulle toekomsdrome is aan flarde. Die werkloosheidsyfer in S.A. styg daagliks. Ons mooi land van weleer, is deur ‘n onbekwame regering in die grond in bestuur tot rommelstatus. Moet ons gevoelloos oor die lewe kyk? As ons die huidige moeilike ekonomiese omstandighede in oënskou neem, kan ons nie anders as om bekommerd te wees nie.

 

Jesus wys kommer af, nie voorsorg nie! Jesus erken juis die mens se kommer as ‘n lewensnoodsaaklikheid, daarom wil Hy raad gee. Hy wil God se versorgende liefde oordra, God wat steeds omgee ten spyte van elke dag se kommer. God het te groot prys betaal om nou sy versorging te staak. Hy bly steeds in beheer. Dít is waaroor dit gaan. Hy is getrou. Hy sorg nog elke dag en voorsien ons van genadebrood. Ja, daar is miskien nie elke dag genoeg botter op die brood nie, maar God het immers gesorg dat ons vandag gehaal het. Hy het gesorg dat ek en jy vandag iets het om aan te trek, ‘n kombers vir die koue het en ietsie vir die maag.

 

Wanneer ons God volkome vertrou, kan ons vry word van lewensangs, stres en bekommernisse. Dit is presies satan se doelwit – om ons te laat twyfel in God se voorsiening. Dit beteken nie nou om agteroor te gaan sit en wag dat God gaan voorsien nie. Die feit dat ons nie moet bekommer nie, stel ons steeds ‘n verantwoordelikheid om voorsorg te tref. Sal God sy Seun vir ons aan ’n kruis laat spyker om dan maar net van ons te vergeet, om dan maar net ons gebede te verontagsaam?

 

Niks wat ons van God kan vra, kan ooit met die prys wat Hy vir ons aan die kruis betaal het, vergelyk nie. Hoe wonderlik om te weet dat God ons só liefhet! Ons kan met vertroue en verwagting lewe en weet dat die Almagtige God nie net gewillig is om ons die ewige lewe te gee nie, maar ook om ons te help om dit nou al voluit te leef!  

 

“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is. God se voorsiening beteken dat die bose magte wat ons wil oorweldig nie ‘n permanente greep op ons kan behou nie en die band waarmee sy liefde aan ons bind, nie verbreek kan word nie” (Paul Tillich).

 

Gebed: God van my lewe, die laste van die lewe wat ek dra, skaaf my skouers stukkend. Die pad wat ek elke dag loop lyk maar vaal en eindeloos. Dankie dat ek my bekommernis by U kan laat na elke dag se swoeg. Ek bid vir elkeen wat moed verloor het en wie se hoop elke dag taan. Die vertroue in my gebede kom nie van wie ek is nie, maar van wie U is. Ek weet U sal ons red van die skadu’s om en binne ons. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page